Agter elke kind skuil ’n verhaal van hoop
Die afgelope 15 jaar bied die Jonah Home for Children op Walvisbaai ’n veilige en koesterende omgewing aan kwesbare kinders wat nêrens anders ’n heenkome het nie.
Die tehuis, wat in 2011 deur ’n groep vrywilligers gestig is, is aanvanklik geskep om weggooibabas en ook kleuters te versorg. Dit is later in dieselfde jaar amptelik by die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn geregistreer.
Vandag sorg die tehuis vir ongeveer 14 kinders, hoewel dit die kapasiteit het om tot 20 te akkommodeer. Die aantal kinders in sorg kan enige tyd verander, afhangende van die behoeftes van die gemeenskap.
Direkteur Siphokazi Kangowa het in ’n onderhoud met Erongo ’n blik gegee op die daaglikse doen en late by Jonah House.
“Ontbyt moet voorberei word. Babas benodig bottels. Skooluniforms moet gestryk word. Kleuters het vertroosting nodig. Huiswerk moet nagegaan word. Doktersafsprake moet gereël word.
“En iewers tussen dit alles kan daar nog ’n oproep van ’n staatsmaatskaplike werker kom. ‘Kan jy nog een kind inneem?’”
Om “nee” te sê was nog nooit maklik nie, erken Siphokazi, want agter elke kind wat by Jonah Home aankom, is ’n storie wat geen kind ooit behoort te beleef nie.
“Sommige kom honger by ons aan, sommige nadat hulle aan mishandeling blootgestel is. Ander kom uit huise wat deur alkohol- en dwelmverslawing vernietig is.
“Sommige babas is dae lank alleen gelaat voordat hulle gered is. Sommige kinders het nog nooit eens ’n geboortesertifikaat gehad nie. Hulle kom hier aan sonder ’n identiteit, sekuriteit en soms sonder dat iemand in die wêreld vir hulle wag.
“By Jonah Home kry hulle iets wat baie nog nooit vantevore geken het nie – hulle kry ’n gesin,” sê Siphokazi.
Sy vertel met deernis van een van die huis se inwoners wat die liefdevolle bynaam Patat het.
“Hy was net twee dae oud toe hy by Jonah Home aangekom het. Sy ma het die hartverskeurende besluit geneem om haar pasgebore baba aan die sorg van vreemdelinge toe te vertrou, omdat sy hom nie kon grootmaak nie en nêrens anders gehad het om heen te gaan nie. Daardie vreemdelinge het familie geword,” sê Siphokazi.
Die versorgers het hom skertsend die bynaam “Patat” gegee en vandag is hy een jaar en drie maande oud.
“Hy lag en loop deur die gange van Jonah Home. Hy reik uit om gedra te word deur dieselfde versorgers wat sy ma’s, pa’s, vertroosters en grootste ondersteuners geword het.
“Vir enigiemand wat die tehuis vandag besoek, lyk hy soos enige ander gelukkige seuntjie en min sou ooit kon raai dat sy lewe met onsekerheid begin het.”
Siphokazi sê Patat is net een van vele kinders wie se stories die werklikhede weerspieël waarmee die tehuis te kampe het.
Sy vertel van ’n baba met tuberkulose wat swak en ondervoed by Jonah Home aangekom het nadat hy dae lank alleen gelos is. Sy klein lyfie het meer verduur as wat enige baba ooit moes deurmaak. Vandag is hy gesond, glimlag en speel hy, en het hy ’n toekoms, sê Siphokazi dankbaar.
Volgens haar is dit nie geïsoleerde gevalle nie, maar die daaglikse werklikheid van die geregistreerde kinderhuis op Walvisbaai wat kwesbare kinders van oraloor Namibië bedien.
Jonah Home ondersteun nie net kinders uit die Erongostreek nie, beklemtoon Siphokazi. Die staat se maatskaplike werkers plaas ook kinders hier uit onder meer die Oshikoto-, Kavango-, ||Kharasstreek.
Of dit nou Patat is, die baba wat teen tuberkulose baklei het of die volgende kind aan die ander kant van môre se telefoonoproep, elkeen het dieselfde onmiddellike behoeftes, sê sy.
Kos klere, mediese sorg, skoolplasing, liefde, geduld en ’n geboortesertifikaat.
Ten spyte van hierdie reuse-verantwoordelikheid teenoor die land se mees kwesbare inwoners, staar Jonah Home steeds beduidende finansiële druk in die gesig.
Die tehuis ervaar tans ’n maandelikse finansieringstekort van meer as N$43 000, terwyl dringende infrastruktuurprojekte, insluitend sekuriteitsopgraderings, loodgieterswerk, beddegoed, opknappings en die uitbreiding van veilige geriewe, wag.
“Gelukkig het Jonah Home nog nooit hierdie pad alleen gestap nie. Plaaslike besighede, kerke, skole en vrygewige individue help deurlopend die tehuis.
“Namate die aantal kwesbare kinders toeneem, neem die behoeftes ook toe. Die werklikheid is eenvoudig, ’n kind kan nie tot volgende maand wag om te eet nie. ’n Baba kan nie die behoefte aan doeke uitstel nie. ’n Bang kind kan nie die gevoel van veiligheid uitstel nie," sê Siphokazi.
Elke skenking, hetsy geld, kos, klere, komberse, skryfbehoeftes of professionele dienste, skep nog ’n geleentheid vir ’n kind soos Patat om weer te kan droom, beklemtoon sy.
Die versorging van kwesbare kinders moet nooit op ’n enkele organisasie alleen rus nie.
“Dit is ’n verantwoordelikheid wat ons as nasie almal deel.”
Die tehuis nooi besighede, organisasies, kerke en gewone Namibiërs uit om deel te word van ’n storie wat elke liewe dag lewens verander.
“Een skenking herstel waardigheid. Dit skep geleenthede.
“Dit sê vir ’n kind wat verwerping geken het: ‘Jy maak saak.’”
Vir diegene wat Jonah Home wil ondersteun, word skenkings van kos, klere, beddegoed, doeke, speelgoed, finansiële bydraes of professionele dienste verwelkom.
BARMHARTIGE SAMARITANE
Die organisasie ontvang deurlopende ondersteuning van ’n kombinasie van besighede, organisasies en individuele skenkers.
Die hoofborg is die Walvisbaaise sakeman JL Bastos, wat noodsaaklike bedryfskoste dek, insluitend water, elektrisiteit, brandstof en versorgers se salarisse.
Gereelde ondersteuning sluit voedselskenkings van OK Grocer, Corridor Logistics, Baptist Church Lagoon, Hangana, Neptune Risk Managers Swakopmund en Industrial Laboratory Services in, terwyl Acunam Technology Group IT-dienste lewer. Mediese bystand word deur Welwitschia-hospitaal verskaf.
Verskeie organisasies dra ook by deur middel van jaarlikse of eenmalige skenkings, waaronder Salt Waters, Macs Group, FirstRand, Namport, Namdock, The Gondwana Foundation, Woolworths, The Foschini Group, Terra Nova Insurance and Logistic Services.
Boeta Mouton help met die vervoer van leerlinge, terwyl Narraville Primêre Skool ’n inklusiewe opvoedkundige omgewing vir die kinders bied.
Die organisasie trek ook voordeel uit die maandelikse vrygewigheid van individuele skenkers, insluitend me. Jowina, KD Smith en me. Marina.
“Ons hou ook ’n maandelikse N$100-skenkingsveldtog waar lede van die publiek aangemoedig word om die tehuis te ondersteun.
“Skenkings kan gemaak word via enige digitale beursie deur 081 816 1910 te gebruik of direk in die Healing Ministries se Bank Windhoek-rekening te betaal.”
Siphokazi het die gemeenskap aangemoedig om die tehuis te ondersteun.
“Ons kan dit nie op ons eie doen nie. Julle het bewys dat die gesegde waar is – dit verg werklik ’n dorpie om ’n kind groot te maak.” – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie