Uapingene finally faces Katutura Residents, defends RedForce.edited
Uapingene finally faces Katutura Residents, defends RedForce.edited

Adjunkburgemeester verdedig RedForce

Oorweging van finansiële implikasies
Geen bejaardes se rekeninge vir hul residensiële eiendomme word aan RedForce oorhandig nie, terwyl geen rente gehef word op al die rekeninge wat aan die maatskappy oorhandig word nie.
Elizabeth Kheibes
Windhoek se adjunkburgemeester het die Katutura-inwonerskomitee daarvan beskuldig dat hulle verpligtinge om vir verbruik te betaal oor die hoof sien, veral wanneer dit “vermom is onder die dekmantel van voorspraak”.

Joseph Uapingene het ook Stad Windhoek (CoW) se besluit verdedig om voort te gaan met sy kontrak met RedForce.

Laasgenoemde het groot ontevredenheid onder inwoners ontketen, wat daarop aangedring het dat die kontrak beëindig word.

Uapingene sê egter die besluit om RedForce aan te stel is geneem ná deeglike oorweging van die finansiële implikasies vir die hoofstad en sy inwoners.

Volgens hom was die vorige stelsel vir skuldinvordering deur eksterne prokureurs problematies sonder dat dit resultate kon waarborg.

Die RedForce-model wat net ’n fooi van 10% hef op betalings wat ontvang word, is gevolglik ’n meer volhoubare benadering vir beide partye.

“Ons kan ons bejaardes en alle inwoners verseker geen rente word gehef op rekeninge wat deur RedForce bestuur word nie. Dit is slegs ’n invorderingsfooi van 10% op betalings wat gemaak is,” het Uapingene beklemtoon.

Geen bejaardes se rekeninge vir hul residensiële eiendomme word aan RedForce oorhandig nie, terwyl geen rente gehef word op al die rekeninge wat aan die maatskappy oorhandig word nie.

“Die kontrak met RedForce word gelei deur ons beleid vir kredietbeheer wat in plek is om die invordering van skuld doeltreffend te bestuur,” het Uapingene Maandag gesê.

Verlede week het die inwonerskomitee saam met honderde pensioenarisse en inwoners van Katutura voor die munisipaliteit se kliëntedienskantoor in Katutura saamgetrek en ’n klagskrif aan die ombudsman, Basilius Dyakugha, oorhandig. Die stadsvaders is in die klagskrif daarvan beskuldig dat hulle bejaardes mislei om voordeel uit hulle te trek.

Tydens die vergadering Maandag met munisipale verteenwoordigers het die komitee se woordvoerder, Shaun Gariseb, die teenwoordigheid van die burgemeester en sy adjunk bevraagteken wat nie by een van die vorige vergaderings teenwoordig was nie.

Gariseb het in ’n onderhoud met Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê die inwoners dring aan op die verwydering van diskriminerende voorwaardes wat volgens hulle ’n oortreding van artikel 10 van die Namibiese Grondwet is en wat verwys na diskriminasie teen ekonomiese status.

“Ons verwerp ook die aanbod om 50%-rente af te skryf en het redes gegee waarom ons glo dit maak nie ’n verskil nie. Ons het begin registreer vir die afskrywing van skuld en ons wil dié aansoeke wat verwerp word, op skrif hê,” sê Gariseb.

Die komitee dring ook aan op alle uitstaande resolusies oor die afskrywing van skuld, RedForce, finansiële verslae, asook begrotings vir reis- en verblyftoelaes.

“Ons wil alle openbare dokumente hê wat die Windhoek-munisipaliteit nie wil deel nie.”

Uapingene het op sy beurt gemaan die wanbetaling van munisipale dienste sluit in dat dienste soos krag afgesny sal word.

“As die rekening nie teen die betaaldatum vereffen is nie, kan kragvoorsiening sonder verdere kennisgewing opgeskort word. Om dit weer aan te skakel, moet die rekeninghouer die heraansluitingsfooie sowel as enige laat fooie betaal. Inwoners (uitsluitend pensioenarisse) en besighede se rente is outomaties op 18 Maart vanjaar afgeskryf en dit is op hul munisipale rekeninge vir Maart weerspieël,” het hy verduidelik.

Tot op hede het sowat 3 000 pensioenarisse vir skuldverligting geregistreer.

“Die raad se besluit om N$524 miljoen in skuld af te skryf is ’n inisiatief van Stad Windhoek wat ook ’n maatreël vir beduidende finansiële verligting vir die gemeenskap is, veral vir bejaardes en kwesbare inwoners. “Die inisiatief weerspieël ’n beduidende verhoging van die skuldverligting van N$191 miljoen in 2018, wat dui op ’n reaktiewe en aanpasbare benadering tot die groeiende skuldboek wat in 2022 reeds N$1,2 miljard beloop het.

“Die outomatiese kwytskelding van 50%-rente vir besighede en inwoners vanaf 18 Maart, tesame met die verlengde registrasie van pensioenarisse tot 31 Mei 2024, toon die raad se verbintenis tot sy visie om volhoubaar en sorgsaam te wees en in lyn met volhoubare finansiële bestuur.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer