‘Groen’ boupraktyke word steeds gekniehalter

Omgewingsvriendelike behuising bly buite bereik
Augetto Graig
Terwyl die verskil in die koste verbonde aan ‘groen’ konstruksie in naburige Suid-Afrika die afgelope paar jaar aansienlik gekrimp het, bly verouderde standaarde Namibië se vordering in die rigting van volhoubare, omgewingsvriendelike hernubare boupraktyke belemmer.

Volgens Fyzel Smith, die president van die Namibiese Instituut van Argitekte, geld SABS 0400 steeds in Namibië, terwyl Suid-Afrika in die algemeen nou SABS 10400 toepas.

Die enigste plaaslike uitsondering is Walvisbaai wat eers later onafhanklikheid van Suid-Afrika verkry het en daarom die nuwer SABS 10400 of selfs die gevorderde SABS 10401 aangeneem het. Die nuwer standaarde maak voorsiening vir die gebruik van alternatiewe konstruksiemetodes, insluitend alternatiewe boumateriale, deur basislyne te verskaf vir die evaluering van hierdie tipe geboue vir menslike gebruik.

Rasionele, gefaseerde en selfs gesertifiseerde informele behuising is dus moontlik en kan in die buurland gefinansier word.

“Banke in Suid-Afrika het reeds die navorsing en ontwikkeling deurgemaak om hierdie projekte te finansier,” sê Smith.

Smith was Woensdag deel van ’n paneelbespreking by die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN), wat deur die Groenbouraad van Namibië onder die tema “Groen finansiering vir volhoubare geboue” aangebied is.

In haar openingstoespraak het Saima Ashipala, DBN se hoofbeampte vir volhoubare finansiering en risiko, beklemtoon dat die ontwikkelingsbank reeds in Julie vanjaar aangewys is as die eerste Namibiese instelling wat Groenklimaatfonds (GCF)-akkreditasie as ’n direkte toegangsentiteit verkry het.

DBN kwalifiseer dus nou om klimaatsaanpassings- en versagtingsprojekte ter waarde van tussen US$50 miljoen en US$250 miljoen (N$4,27 miljard) te ontwerp, in te dien en te implementeer.

Neyapo Ekandjo, DBN se senior nakomingspesialis vir omgewings- en maatskaplike volhoubaarheid en deelnemer aan die bespreking, het gesê: “Ons is oop, die geld is daar. Dit is nou net ’n kwessie van hoe.”

Smith is egter die eerste om te erken dat daar steeds talle struikelblokke voorlê wat die toepassing van alternatiewe en goedkoper boupraktyke in Namibië betref.

’n Plaaslike laboratorium om nuwe materiale en boumetodes te toets, is steeds nodig, maar die grootste struikelblokke is beleide en regulasies, sê hy.

As lid van die stuurkomitee vir die wysiging van die nasionale behuisingsbeleid, kon Smith wel deel dat vordering op ministeriële vlak gemaak word.

“Burokrasie bly ’n probleem, maar ’n paar wette word hersien, hoewel alles teen ’n slakkepas gebeur,” sê hy.

Smith voer verder aan dat die huidige bottelnek by die Namibiese Instituut vir Standaarde (NSI) lê, wat nuwe bouregulasies op plaaslike owerhede kan afdwing.

Die NSI se woordvoerder en menslike hulpbronbestuurder, Heinrich Amadhila, het egter gesê: “Die NSI is nie die bewaarder van bouregulasies in Namibië nie.”

Hy sê verder bouregulasies val onder die ministerie van werke en vervoer sowel as plaaslike owerhede deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling.

“Verder het die NSI, onder die implementering van die Nasionale Gehaltebeleid, die eerste van sy soort nasionale standaardiseringstrategie en -plan (NSSP) ontwikkel en bekragtig,” het het gesê, wat op 14 Oktober 2025 bekend gestel sal word.

“Die NSSP is ’n beleidspadkaart vir ’n land om te verseker dat sy nasionale strategiese prioriteite deur relevante nasionale en internasionale standaarde ondersteun word,” brei Amadhila uit.

“Konstruksie is as ’n prioriteitsektor vir standaardisering geïdentifiseer,” volgens hom.

Alhoewel die NSI vordering gemaak het met betrekking tot standaardsertifisering vir sement, sê Amadhila uitdruklik: “Daar is tans geen standaarde in Namibië vir alternatiewe boumateriaal nie, dus geen basis vir sertifisering van sulke materiaal deur die NSI nie.”

Tydens die geleentheid het Jessica Brown, die uitvoerende direkteur van Development Workshop Namibia, ’n beroep gedoen dat die finansiering van alternatiewe ‘groen’ boupraktyke as ’n geleentheid aangegryp word.

“Met die helfte van ons bevolking wat in stedelike gebiede sonder voldoende behuising woon, is dit ’n onontginde mark sowel as ’n nasionale krisis.

“Ons het die geleentheid om mense se eerste huise as ‘groen’ huise te bou, en op groot skaal. Jy kan ’n werklik pragtige veelparty-benadering gebruik om informele nedersettings uit te wis,” voer sy aan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer