Twee harte, een fiets
’n Australiese egpaar het reeds 45 lande op hul tandemfiets deurkruis en is tans in Namibië as deel van hul wêreldreis.
Byna vier jaar gelede het Justin en Sharon Scholz hul wêreldreis begin – nie impulsief nie, maar ná jare se voorbereiding.
Sowat 13 jaar gelede het hulle die vraag bloot gevra: “Dink jy ons kan om die wêreld fietsry?” Dié vraag het stadig rigting aan hul lewens begin gee.
Hul voorbereiding het klein begin: ’n Drie daagse toer in 2008, daarna sewe internasionale fietstoere van tussen 1 200 km en 2 500 km. In 2021 het hulle 16 500 km om Australië getrap.
Ná daardie uitputtende ervaring het hulle besef ’n wêreldreis vereis beter balans. Toe hulle uiteindelik vertrek het, het hulle ’n maksimum van tien jaar as tydraamwerk gestel.
Justin (59) het ’n roetelyn van sowat 200 000 km op die wêreldkaart getrek wat bykans elke vasteland, behalwe Antarktika insluit – sowat 200 000 km. Hulle teiken is om ongeveer 3 000 km oor ses weke die speke te laat sing, gevolg deur vier weke se herstel. Gedurende hul stilhouperiodes hardloop en stap hulle meer, doen kragoefeninge en herstel fisiek en geestelik.
AVONTURE
In Afrika het hulle onder meer die Piramides van Giza in Egipte, die Victoria-waterval en Tafelberg in Kaapstad besoek. In Soedan het hulle 500 km in drie dae deur die Saharawoestyn gery en in modderhutte geslaap.
In Suid-Amerika het hulle teen Patagonië se winde geveg, Machu Picchu in Peru en Bolivia se soutvlaktes besoek en 4 500 meter bo seespieël geslaap.
In Noord-Amerika het hulle deur die Rotsgebergtes getrap en die ikoniese Route 66 tot in Las Vegas gevolg. Hulle het ook drie keer deur Europa fietsgery, oor die Pireneë en Alpe.
Ten spyte van die ikoniese plekke, sê Justin hul beste herinneringe is mense. Voor hulle Marokko se grens oorgesteek het, het hulle selfs oorweeg om geld weg te steek weens veiligheidsvrees. In plaas daarvan het hulle oorweldigende gasvryheid ervaar.
Volgens Justin is die wêreld veel veiliger en vriendeliker as wat hulle grootgemaak is om te glo.
Elke dag begin met bykans 200 kg se totale gewig op hul tandem. Justin hanteer die meganika, roetebeplanning en visums. Sharon (51) is in beheer van hul kos, gesondheid en bagasie. Die duidelike taakverdeling hou hulle doelgerig en gefokus.
Hulle is tans in Namibië en op pad na Luanda in Angola. Daarna reis hulle deur die Kongo, Gaboen en Kameroen. Later vanjaar vlieg hulle na Skandinawië en sit verder in die saal deur Europa. Indien omstandighede dit toelaat, beplan hulle om via Turkye en die Midde-Ooste weer na Kaïro te ry.
Verder droom hulle van Indië, China, Japan, Korea en Suidoos-Asië, asook Noorweë, Ysland en Taiwan.
Justin skryf sedert 2005 daagliks in haar joernaal en deel ’n openbare weergawe op Facebook. Hulle finansier en beplan alles self en probeer nie volgelinge werf nie.
Hul raad? “Daar is nooit ’n beter tyd as nou nie, maar begin klein. Wees nederig en dankbaar – en onthou elke mens het ’n storie.”
Vir Scholze gaan dit nie net oor die kilometers nie, maar oor ’n doelgerigte lewe – trap vir trap, land vir land.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie