Soete oorwinning vir polisie op Karibib
Drie ton sjokolade wat gistermiddag op Karibib gevind is, word tans verbind met ’n Kitkat-rooftog wat etlike dae gelede in Europa plaasgevind het.
Drie vroue, wat glo bande het met ’n plaaslike sindikaat wat hulself as die Paashaas voordoen en van plan was om die sjokolade te smelt en Paaseiers daarvan te maak, is in verband met hierdie voorval in hegtenis geneem.
“Ons vermoed die Paaseiers sou na bewering deel gevorm het van ’n grootskaalse Paaseier-soektog op die dorp. Voorraad het egter klaarblyklik in die dae voor die beslaglegging drasties verminder weens herhaaldelike ‘kwaliteit-toetse’ wat tot vyf keer per dag deur verskeie lede van die sindikaat uitgevoer is,” het die ondersoekbeampte, inspekteur Hennie Haasbroek, aan Republikein gesê.
Haasbroek het bevestig die sjokolade is van Europese oorsprong en sy span geprys vir hul toewyding aan die saak.
“Verskeie van ons manne was meer as gewillig om dit self te toets en hulle was baie gretig om die vervoer en bewaring van die buit te behartig,” het hy gesê.
Die polisie is glo van die voorval in kennis gestel toe ’n kassier by ’n plaaslike plastiekwarehandelaar alarm gemaak het oor “’n verdagte aantal eiervorms” wat deur een persoon aangekoop is.
“Ons wil nie hê mense moet dink dit is onwettig om eiervorms of koekvorms te koop nie – een of twee of selfs vyf of tien is heeltemal reg, maar wanneer een persoon honderde eiervorms op ’n slag koop, laat dit jou wonder,” het hy verduidelik.
Die polisie bevestig dat hulle alles in hul vermoë gedoen het om die bewysstukke te bewaar. Die vrag het egter ietwat ligter by die polisie se store opgedaag as gevolg van die hitte en die nuuskierigheid van sommige persone op die toneel.
“Ons kan dit nooit goedpraat nie, maar dit het die werk van die verskuiwing makliker gemaak,” meen Haasbroek.
Die polisie vermoed tans dat die plaaslike sindikaat bande het met ’n internasionale sindikaat wat die afgelope weke glo vragmotors vol stokkielekkers en malvalekkers onderskep en beroof het, voor hulle die Kitkat-vragmotor geplunder het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie