'Gebruik vryheid van spraak verantwoordelik'
Die media-ombudsman Sadrag Panduleni Shihomeka het kommer uitgespreek oor die huidige atmosfeer in die media wat dui op 'n gebrek aan samewerking tussen joernaliste, openbare ampsdraers en die algemene publiek.
Verwante rolspelers is in 'n verklaring aan Artikel 21(1)(a) van die Namibiese Grondwet herinner wat bepaal dat "Alle persone die reg op vryheid van spraak en uitdrukking het, wat die vryheid van die pers en ander media insluit".
Hierdie vryhede moet egter volgens Shihomeka terugwerkend uitgeoefen word in ooreenstemming met gebruike, protokolle en standaardpraktyke in verskillende sektore, sonder om enige skade of teistering te veroorsaak.
Die media-ombudsman het die media aangemoedig om persvryhede verantwoordelik, billik, eerlik, ordelik en op 'n professionele wyse uit te oefen wat die beeld en reputasie van die mediabedryf beskerm. Net so moet regerings- en private sektoramptenare eweneens mediaplatforms skep en ondersteun en inligting met die media deel.
Die verklaring verwys na Artikel IX (3) van die verklaring van beginsels van vryheid van uitdrukking in Afrika wat deur die Afrika-kommissie oor mense- en volkeregte in 2002 aangeneem is. Dit bepaal dat "doeltreffende selfregulering die beste stelsel is om hoë standaarde in die media te bevorder". Joernaliste moet volgens die verklaring daarom besin oor hul gedrag en hul interaksie met die publiek.
Dit word ondersteun deur Namibië se uitsaaibeleid wat bepaal dat “regulering die doeltreffendste is wanneer die doeltreffende praktyk van norme van goeie gedrag binne organisasies geïnternaliseer word, eerder as wat dit deur 'n eksterne agentskap afgedwing word”. Daarom moet mediapraktisyns hulself verbind tot die hoogste professionele standaarde om geloofwaardigheid te handhaaf en openbare vertroue te behou terwyl daar na waarheid gestreef word. Onnodige skade moet ook vermy word en sensitiwiteit getoon word vir die kulturele gebruike van beide gehore en onderwerpe van verslaggewing.
"Ek moet erken dat joernaliste professionele persone van aansien is, en verantwoordelik en ordelik moet optree, die oppergesag van die reg respekteer en emosionele intelligensie toepas in die nastrewing van hul beroep," het Shihomeka gesê.
Hy het 'n beroep op die media gedoen om hulle te weerhou van uitlokking, reaksionêre nuus en aktivisme wat "waarskynlik ons beeld en reputasie sal skaad". Net so moet alle regeringsamptenare volgens Shihomeka hul verpligtinge en verantwoordelikhede met omsigtigheid uitoefen en respek hê vir menseregte en waardigheid terwyl hulle voortgeset met die media skakel. Dit is om volgens hom te verhoed dat enigiemand in die proses van die uitvoering van hul pligte skade aanrig of hul regte skend.
Shihomeka verwys na wat hy noem "sensasionele beriggewing en kommentare" wat spanning op sosiale media kan aanwakker en die vrede en harmonie in die mediabedryf destabiliseer. Hy het joernaliste se optrede veroordeel wie se gedrag die beroep in oneer bring en het 'n beroep op die media gedoen om die etos van die etiese en gedragskode te handhaaf. Shihomeka het ook sterk optrede veroordeel wat die media ondermyn en verhoed om persvryheid uit te oefen en te geniet.
"Ek doen 'n beroep op joernaliste, openbare amptenare sowel as alle burgers om te streef na die bou van 'n inklusiewe samelewing vir almal deur bewus te wees van die mag van die tong teenoor hul medemens." - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie