CCBA vereer 129 werknemers
Coca-Cola Beverages Africa (CCBA) in Namibië het 129 werknemers tydens sy 2026-langdienstoekennings vereer – die meeste werknemers sedert 2022.
Dié mylpaal beklemtoon die maatskappy se fokus om talent te lok, te ontwikkeling en te behou, asook om ’n werksomgewing te skep waar werknemers hul volle potensiaal kan bereik.
’n Hoogtepunt van vanjaar se geleentheid was die erkenning van 11 werknemers wat tussen 15 en 30 jaar se ononderbroke diens gelewer het – ’n duidelike bewys van die lojaliteit, ervaring en institusionele kennis wat die grondslag van CCBA se sukses vorm.
Die grootste groep het toekennings vir 15 jaar diens ontvang, wat ongeveer 67% van al die ontvangers verteenwoordig. Dit is gevolg deur werknemers met 10 jaar diens, wat 19% van die totaal uitmaak.
Sedert 2022 het die aantal erkennings vir lang diens bestendig gebly, met 84 werknemers wat in 2022 vereer is, 73 in 2023 en 82 in 2024.
Volgens Ockert Jansen, die direkteur van openbare sake, kommunikasie en volhoubaarheid by CCBA in Namibië, dien die geleentheid nie net as ’n erkenning van individuele bydraes nie, maar ook as ’n viering van ’n veerkragtige en bekwame werksmag.
“Die langdienstoekennings is ’n bewys van die toewyding van ons werknemers en die sleutelrol wat hulle speel in ons groei en strewe om een van Afrika se mees bewonderde maatskappye te wees,” het hy gesê.
Jansen het bygevoeg dat CCBA steeds in vaardigheidsontwikkeling belê om ’n volhoubare talentbasis te bou wat beide die maatskappy en die breër mark se toekomstige behoeftes kan ondersteun.
“Ons glo dit begin met die koestering en behoud van die vaardighede wat ons reeds het, terwyl ons terselfdertyd ’n hoëprestasiekultuur versterk,” het hy gesê.
Die direkteur van mense en kultuur by CCBA in Namibië, Grazia van Rooi, het beklemtoon dat die maatskappy fokus op die bemagtiging van werknemers om die beste weergawe van hulself te wees.
“Ons bied ’n omgewing waar werknemers toegang het tot deurlopende leergeleenthede, persoonlike groei en loopbaanontwikkeling,” het sy gesê.
Die 2026-toekennings bevestig CCBA se verbintenis om ’n ondersteunende en motiverende werksomgewing te bou, soos weerspieël in die lang diensjare wat vanjaar gevier is.
HOOGTEPUNTE
’n Totaal van 129 werknemers is vereer vir 5, 10, 15, 20, 25, 30 en 35 diensjare.
Die grootste kategorie was 15 jaar diens met 87 ontvangers (67,4%), gevolg deur 24 werknemers (18,6%) met 10 jaar diens.
’n Verdere 11 werknemers het meer as 20 jaar diens bereik, insluitend dié met 20, 25, 30 en 35 jaar diens.
– CCBA


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie