Wegholwaens ontspoor naby Usakos
Waar is die lokomotief dan?
Wegholtreinwaens het op hoë spoed Maandag tussen Usakos en Kranzberg ontspoor en motoriste laat skrik wat deur ’n padkonstruksiesone naby die spoorwegoorgang tussen Usakos en Karibib gereis het.
Die voorval, waarby waens betrokke was wat buite beheer sonder ’n lokomotief beweeg het, is deur lede van die publiek gesien.
Kelly Muwana het die oomblik as “skrikwekkend” beskryf.
“’n Trein sonder ’n lokomotief het by ons in die padkonstruksiesone tussen Usakos en Karibib verbygejaag,” het Muwana op sosiale media geskryf.
“Dit het gelyk of die trein in twee gebreek het terwyl dit teen ’n baie hoë spoed beweeg. Die lokomotief en eerste gedeelte was nêrens te sien nie – net die waens het sonder waarskuwing op ons afgestorm net toe ons op die punt was om die spoorlyn oor te steek.”
Muwana het gesê ’n groot stofwolk het kort daarna verskyn.
“Dit kon baie sleg geëindig het. Dankbaar dat almal rondom ons betyds kon reageer,” het die plasing gelui.
In ’n mediaverklaring het TransNamib bevestig dat ’n “operasionele voorval” tussen Usakos en Kranzberg plaasgevind het waarby spoorwaens betrokke was wat by ’n stasie geparkeer was.
Volgens die verklaring wat eers gister ontvang is, het die waens op die hoofspoorlyn by ’n “onbeheerde beweging” betrokke geraak voordat hulle ontspoor het.
“Geen beserings is weens die voorval aangeteken nie,” het die maatskappy gesê.
TransNamib het gesê die betrokke waens het onder meer sement, vraghouers en betonstawe vervoer, asook leë brandstoftenkwaens ingesluit.
“Die oorsaak van die voorval is nog nie vasgestel nie en ’n amptelike tegniese beoordeling is tans aan die gang,” lui die verklaring.
Die maatskappy het gesê operasionele en veiligheidspanne is onmiddellik na die toneel ontplooi om die herwinningswerk te bestuur en dienste langs die betrokke spoorlyn te herstel.
“TransNamib stel veiligheid en operasionele integriteit eerste en sal ten volle met alle relevante rolspelers saamwerk terwyl ondersoeke voortduur. Verdere opdaterings sal verskaf word sodra geverifieerde inligting beskikbaar is,” het TransNamib se uitvoerende hoof, Desmond van Jaarsveld, gesê.
Die ontsporing het kommer onder padgebruikers veroorsaak, met ooggetuies wat bevraagteken het hoe die waens buite beheer kon beweeg.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie