Vee bedreig padveiligheid in Kavango
Vee wat op openbare paaie rondloop, het vanjaar as die grootste bedreiging vir padveiligheid in die Kavango-Wesstreek na vore getree.
Rondlopervee is verantwoordelik vir byna 51% van die aangetekende ongelukke, terwyl sjebiens en drankwinkels langs die pad, kwesbare voetgangers en beperkte hulpbronne vir handhawing die streek se padveiligheidskrisis verder vererger.
Dit is volgens ’n verslag deur die Nasionale Raad se staande komitee oor vervoer, infrastruktuur en behuising ná landswye openbare verhore wat van 6 tot 31 Julie 2026 gehou is.
Die openbare verhore het uitdagings rakende vervoer, infrastruktuur en behuising oraloor die land ondersoek, met padveiligheid wat as ’n groot bron van kommer in sowel Kavango-Wes as Kavango-Oos na vore gekom het.
Kavango-Wes het 73 ongelukke gedurende die laaste kwartaal van die 2025-’26-boekjaar aangeteken, insluitend 32 waarin mak diere betrokke was.
Die ongelukke het tot tien sterftes en 12 ernstige beserings gelei, insluitend ses noodlottige ongelukke en vyf ernstige ongelukke.
Die situasie het in die eerste kwartaal van 2026-’27 verswak, toe ongelukke tot 85 toegeneem het, met 49 waarin botsings met diere betrokke was. In dié tydperk is vyf sterftes en nege ernstige beserings aangeteken, insluitend drie noodlottige ongelukke en vyf ernstige ongelukke.
“Byna 51% van alle aangetekende ongelukke het botsings met mak diere ingesluit, wat vee die vernaamste bydraer tot ongelukke binne die streek maak,” lui die verslag.
Die verslag meld verder dat nege noodlottige ongelukke die lewens van 15 mense geëis het, terwyl voetgangerverwante ongelukke, veral dié waarin skoolkinders en mense wat langs openbare paaie loop betrokke is, op die kwesbaarheid van voetgangers dui.
Die Namibiese polisie het gevra vir sterker aanspreeklikheid vir vee-eienaars en veiliger kraalpraktyke om te voorkom dat diere op openbare paaie ronddwaal.
Drankwinkels en veral sjebiens langs die pad het ook as ’n groot bron van kommer na vore gekom, met die polisie wat “beperkings op kroeë naby paaie” voorstel as deel van maatreëls om padveiligheidsrisiko’s te takel.
Wetstoepassingsagentskappe self staar egter beduidende hulpbronbeperkings in die gesig. Kavango-Wes het slegs een asemtoetser vir alkohol, wat drie verkeerseenhede bedien en twee spoedkameras vir die hele streek.
TE MIN PATROLLIEVOERTUIE
Personeeltekorte en ’n gebrek aan patrollievoertuie beperk wetstoepassing verder, aldus die verslag. Ten spyte van hierdie beperkings het verkeersowerhede 18 operasies, 225 snelwegpatrollies en 4 654 padwaardigheidstoetse uitgevoer.
Dit het gelei tot 720 dagvaardings, 35 voertuie wat onpadwaardig is, 31 sake van dronkbestuur en 105 lasbriewe vir inhegtenisname wat uitgereik is.
In Kavango-Oos is die padveiligheidsprobleem groter, met spoed, dronkbestuur, bestuur sonder ’n lisensie, onpadwaardige voertuie, oorlading, swak sypaadjies en beligting, verslegtende grondpaaie, diere en sjebiens langs die pad wat as kernrisiko’s geïdentifiseer is.
DRONKBESTUUR IN KAVANGO-OOS
Kavango-Oos het 577 ongelukke en 20 sterftes in 2024 aangeteken, vergeleke met 530 botsings en 15 sterftes in 2025. Ernstige beserings het egter van 67 tot 74 toegeneem.
Van Januarie tot Julie 2026 het die streek 265 ongelukke, tien sterftes en 30 ernstige beserings aangeteken. Inhegtenisnemings vir dronkbestuur het ook skerp toegeneem van 56 in 2024 tot 173 in 2025.
Die polisie het die brandpunte op die B8-pad rondom Rundu, Ndiyona, Divundu en Omega geïdentifiseer. In 2024 het die streek 105 botsings met diere en 52 met voetgangers aangeteken.
Kapasiteit bly ’n bron van kommer, met slegs vyf van die tien verkeersvoertuie wat aan Kavango-Oos toegewys is, wat na bewering padwaardig is.
Die polisie het ook tekorte aan spoedkameras en asemtoetsers genoem, terwyl Ndiyona en Divundu geen NaTIS-toetsentrums het nie.
Die komitee het bevind dat Namibië se padveiligheidstelsel sterker koördinering, beter wetstoepassing, veiliger padinfrastruktuur en verbeterde noodreaksie nodig het, met data van ongelukke wat doeltreffender gebruik moet word om hoërisikogebiede te teiken.
Dit het ’n nasionale padveiligheidstrategie met meetbare teikens aanbeveel, ’n strafpuntestelsel, strenger strawwe vir ernstige en herhaalde oortredings, beter opleiding en lisensiëring vir bestuurders en sterker kapasiteit vir wetstoepassers.
Die komitee het ook uitgebreide spoorinfrastruktuur gesteun om swaar vrag van paaie na spoor te verskuif en het gevra vir groter koördinering tussen agentskappe wat vir padveiligheid verantwoordelik is.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie