Rovos Rail-ongeluk: Ondersoek na strafbare manslag
Die Namibiese polisie ondersoek sake van strafbare manslag ná die dood van twee treindrywers toe die luukse Rovos Rail-trein op Sondag 1 Maart in die Suide ontspoor het.
Kommissaris Marius Katamila, die Namibiese polisie (Nampol) se streekbevelvoerder in die ||Kharas-streek, het dit bevestig ná de treindrywer van TransNamib, Namibiër Richard Wimmerth (49) en Rovos Rail s’n, die Suid-Afrikaner Hendrik du Plessis (55), op die toneel dood is.
Die twee lokomotiewe en twee treinwaens het in die ongeluk by Naute plaasgevind, ongeveer 285 km voor Ariamsvlei en die Suid-Afrikaanse grens, ontspoor.
“Ons het ’n ondersoek van stapel gestuur in noue samewerking met TransNamib en dit is te vroeg om in hierdie stadium oor die besonderhede te praat.
“Die ondersoek het begin, en ons het onderhoude met die betrokke persone gevoer en afgehandel,” het Katamila gesê.
TransNamib-amptenare het op Maandag 2 Maart die ongelukstoneel besoek en 17 onbeskadigde waens is na Keetmanshoop verwyder.
Volgens ’n bron sou ’n hyskraan ontplooi word en dit sou na raming twee weke neem om die twee elk oorblywende lokomotiewe en waens te verwyder.
Rovos Rail, ’n luukse spooroperateur in private besit, het op die dag van die tragedie ’n verklaring uitgereik waarin die ongeluk toegeskryf is aan die laaste pilaar van ’n brug wat ná oorstromings ween die reën beskadig is.
Volgens Rovos Rail het die outomatiese remstelsel het die trein tot stilstand gebring om verdere skade te voorkom en geen passasiers of ander personeellede is beseer nie.
Busse is gereël om gaste na Upington te vervoer, vanwaar hulle na Kaapstad gevlieg het.
NALATIGHEID?
Vrae oor die waarskynlike oorsaak van die tragedie en bewerings van nalatigheid aan TransNamib se kant het ná die ongeluk op sosiale media opgeduik.
Talle Namibiërs het hul ernstige kritiek uitgespreek en wou weet waarom die spoorlyne nie gereeld nagegaan word nie. Volgens sommiges is die spoorlyne nie op ’n aanvaarbare standaard nie en hulle meen die ongeluk het ’n geweldige swak invloed op die toerismesektor, wat een van die grootste genereerders van inkomste is.
“Waarom is die spoor nie gereeld geïnspekteer nie? Ná swaar reën, is dit ’n moet?” het Rian Röscher gevra.
Suid-Afrikaners het ook hul kritiek geopper.
“Geen behoefte aan ondersoek nie, dit is duidelik dat die trein steeds ou spoorlyne gebruik en oor ou, ou brûe ry wat glad nie meer onderhoud kry nie, dus geen behoefte aan ondersoek,” het Elvis Molehe van Mafikeng geïmpliseer in ’n kommentaar op ’n ongelukopdatering op die Facebook-blad van Aitsa.
“Ek is seker daardie brug het ’n paar krake gehad, en lokomotiewe is swaardiens.”
Hierdie bewerings is met TransNamib gedeel. Die korporatiewe kommunikasiebeampte, Alina Garises, het die ontvangs daarvan erken en ’n reaksie belowe.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie