Rosalia Martins-Hausiku, die uitvoerende hoof van die MVAF, minister Lucia Iipumbu, Nampol-hoof Joseph Shikongo en kommissaris-generaal Raphael Hamunyela van die NCS. Foto Eliot Ipinge
Rosalia Martins-Hausiku, die uitvoerende hoof van die MVAF, minister Lucia Iipumbu, Nampol-hoof Joseph Shikongo en kommissaris-generaal Raphael Hamunyela van die NCS. Foto Eliot Ipinge

Padongeluk laat talle vrae ontstaan

Eliot Ipinge
Vrae het ontstaan oor waarom 14 korrektiewe diens- en polisiebeamptes in ’n vangwa van die Namibiese Korrektiewe Diens (NCS) ingeprop is, terwyl ’n minibus beskikbaar was, maar nie gebruik is nie.

Dié onthulling kom nadat die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Lucia Iipumbu, gister bevestig het dat die voertuig wat betrokke was by Saterdag se noodlottige ongeluk naby Mariental, bedoel was vir die vervoer van gevangenes – nie beamptes nie.

Die ongeluk, wat ongeveer vyf kilometer noord van Mariental plaasgevind het, het 16 lewens geëis, insluitend 14 uniformbeamptes en twee burgerlikes. Vier beamptes is steeds in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal in Windhoek.

“Daar is vervoer wat vir gevangenes geoormerk is en daar is vervoer wat vir beamptes geoormerk is. Op daardie datum is twee voertuie toegeken – die vangwa wat gewoonlik vir gevangenes gebruik word en ’n Quantum-bus wat veronderstel was om die beamptes te vervoer,” het Iipumbu gesê.

Sy het beklemtoon ondersoeke is aan die gang om vas te stel waarom die beamptes in die vangwa beland het, ten spyte daarvan dat die minibus beskikbaar was.

“Ons gaan uitvind wat gebeur het en hoe die voertuig wat vir gevangenes toegeken is, die beamptes vervoer het,” het sy bygevoeg.

Alhoewel die ministerie nie die presiese aantal passasiers in elke voertuig bevestig het nie, staan die totale aantal betrokke by die ongeluk op 20.

Daar is 16 oorledenes (10 mans en ses vrou), vier beseerdes is steeds in ’n kritieke toestand en ten minste 12 van die oorledenes was korrektiewe diensbeamptes – wat sterk daarop dui dat die NCS-vangwa oorlaai was ten tyde van die ongeluk.

Ingevolge Staatskoerant nr. 4220 van 2009 word voertuie gelisensieer volgens streng passasiersperke, wat beteken dat die gebruik van ’n vangwa om beamptes te vervoer, oorlading en ’n oortreding van veiligheidsregulasies kan wees.

Die Namibiese polisie (Nampol) se verkeersdepartement het aan Network Media Hub (NMH) bevestig dat bakkies ingevolge die Padverkeer- en Vervoerwet no. 22 van 1999 slegs ’n maksimum van ses passasiers agterin ’n vangwa mag vervoer.

Die minister het bevestig ondersoekbeamptes en welstandsbeamptes is ontplooi om oorlewendes, families en kollegas by te staan.

Die tragedie het skerp kritiek van binne die veiligheidsgemeenskap en die publiek ontlok, met talle wat bevraagteken waarom so ’n kritieke protokol-oortreding plaasgevind het en of dit tot die omvang van die verlies bygedra het.



MVAF TREE IN

Intussen het die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) vinnig opgetree om slagoffers en hul families by te staan.

Die uitvoerende hoof, Rosalia Martins-Hausiku, het bevestig dat die fonds alle nood- en mediese uitgawes wat verband hou met die ongeluk, dek.

“Van die oomblik dat die ongeluk plaasgevind het, het die MVAF verantwoordelikheid geneem. Alle dienste, insluitend noodreaksie, ambulansdienste en die noodvlug wat Saterdag in opdrag gegee is, is gedek,” het sy gesê.

Martins-Hausiku het verduidelik elke beseerde beampte is geregtig op mediese voordele van tot N$1,5 miljoen, terwyl families van die oorledenes N$7 000 vir begrafniskoste sal ontvang.

“Ons het met die Namibiese polisie ooreengekom om doodsertifikate en nadoodse ondersoeke te versnel sodat hierdie fondse onmiddellik betaal kan word, wat families in staat stel om hul geliefdes te begrawe. Sodra alle dokumentasie ingedien is, neem die proses ongeveer 30 minute,” het sy bygevoeg.

Daarbenewens bied die fonds ondersteuning vir verlies aan inkomste vir beamptes wat in die hospitaal opgeneem is of nie kan terugkeer werk toe nie, uitbetalingsondersteuning vir afhanklikes van die oorledene tot ’n maksimum van N$100 000 per jaar, asook bystand vir kinders en eggenote van die oorledenes waar hulle in aanmerking kom. Martins-Hausiku het verseker dat, met koördinering deur die fonds en Nampol, alle eise bespoedig sal word.

Die oorledenes sal vandag om 11:00 tydens ’n gedenkdiens by die Mariental-sportgronde vereer word.

“Dit is nie net ’n ministerie se verlies nie, maar ’n nasionale tragedie. Ons moet verenig bly in rou,” het Iipumbu gesê.

Die oorledenes is David Mawis Musambani, Naemi Ndapewashali Shipena, Silvanus Kuutondokwa Hofeni, Simon Ndumba Sinyemba, Alina Ndategako Simeon, Petrus Muataua Mbuale, Noa Mandume Hameho, Tomas Negumbo Shikongo, Adreheid Taapopi, Johannes Mbeeli, Katjitombua Muheue, Jason Jackson, Jatileni Amadhila, sersant Mercia Louw en konstabel Gerson Hepute. Die burgerlikes is die susters Roseltha Higoam (35) en Diana Jagger (29), ’n ma van vyf wat agt maande swanger was met ’n tweeling.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer