Otjozondjupa: 282 ongelukke, 67 sterftes

Phillipus Josef

Padveiligheid s ’n groot bron van kommer in Otjozondjupa, met die streek wat 282 ongelukke aangemeld het wat 67 lewens geëis en 745 slagoffers gehad het. 

Die syfers is vervat in die streekraad se 2025-’26-verslag en toon ’n toename in padsterftes in vergelyking met die vorige verslagtydperk. 

Sterftes het van 54 tot 67 toegeneem, terwyl beserings van 651 tot 678 gestyg het. Die toename kom ten spyte van voortgesette belegging in die streek se padnetwerk, met N$76 miljoen wat gedurende dié tydperk aan verbeterings aan padinfrastruktuur bestee is. 

Van hierdie bedrag is N$40,8 miljoen aan padskraapwerk bestee, terwyl N$20 miljoen vir bitumen-instandhouding aangewend is. 

’n Stuk pad van 35,6 kilometer tussen Okakarara en Okahitua is weer met gruis bedek teen ’n gerapporteerde koste van N$8,2 miljoen. Dié padwerke het ook padtekens, beton- en staalwerke, rommelbeheer en instandhouding van die padskouers ingesluit. 

Die verslag lui padinfrastruktuur bly noodsaaklik vir ekonomiese bedrywighede in die streek, toegang tot landboumarkte, openbare dienslewering en padveiligheid. 

Die streek vind ook baat vind by die B1-hoofweg, terwyl verskeie distriks- en landelike paaie volgehoue opgradering en instandhouding vereis. 

Nog ’n groot projek is die beplande opgradering van die MR112-pad vanaf Okahandja deur Hochfeld, Otjozondu en Okondjatu tot bitumenstandaard. Die projek het tot by die verkrygingsfase gevorder, met N$30 miljoen wat vir konsultasiedienste toegeken is. 

Die streek se padveiligheidsyfers is egter besonder kommerwekkend, veral die ernstige die ongelukke wat ná die raad se verslagtydperk aangemeld is.

Twee ernstige ongelukke is in Augustus aangeteken, hoewel hulle nie deel vorm van die 282 ongelukke wat in die raad se statistiek is nie. Op 21 Augustus het twee motoriste ’n kop-aan-kop-botsing op die B1-hoofweg sowat 10 kilometer suid van Otjiwarongo oorleef. 

Op 31 Augustus het vier mense op die toneel gesterf toe ’n 16-sitplek-minibus en ’n klein bakkie sowat 120 kilometer suid van Otjiwarongo op die B1-hoofweg trompop gebots het. Die jongste ongelukke het gevolg terwyl die regering alternatiewe maatreëls oorweeg om veiligheid op sommige van die streek se besigste roetes te verbeter. 

Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het verlede week aan Republikein gesê die hoë ongeluksyfers op die paaie tussen Okahandja en Otjiwarongo, Otjiwarongo en Otavi en Otjiwarongo en Omaruru het tot talle lewensverliese en beserings gelei. 

Nekundi het gesê die regering se onmiddellike reaksie is “slimpad”-infrastruktuur (paaie wat verbreed word) op die hoofweë, eerder as om met die konstruksie van ’n dubbelbaanpad voort te gaan. 

Hy het gesê die “slimpad” tussen Usakos en Swakopmund sal na verwagting teen einde September of vroeg in Oktober voltooi wees, waarna die paaie tussen Okahandja en Otjiwarongo, Otjiwarongo en Otavi en Otjiwarongo en Omaruru volgende aan die beurt sal kom. 

Volgens beramings deur die Paaieowerheid (RA) sal ’n volledige dubbelbaanpad ongeveer N$27,1 miljard vir die pad van 173 kilometer tussen Okahandja en Otjiwarongo kos, N$18,5 miljard vir die pad tussen Otjiwarongo en Otavi en N$20,6 miljard vir die roete tussen Omaruru en Otjiwarongo. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer