Noodsentrum in die pyplyn

Reaksie op padongelukke
Die MVA-fonds is in die beginstadium van die vestiging van ‘n traumasentrum in Windhoek wat bestaande gesondheidsgeriewe sal ondersteun.
Henriette Lamprecht

Die Motorvoertuigongelukke (MVA)-fonds verskaf kritieke ondersteuning aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste deur gespesialiseerde mediese toerusting, rehabilitasiedienste en noodsorg vir die slagoffers van padongelukke.

Volgens die minister, dr. Esperance Luvindao, versterk die gesamentlike poging nie net die openbare gesondheidstelsel se kapasiteit om op traumagevalle te reageer nie, maar verseker dit ook dat pasiënte tydige en omvattende sorg ontvang.

Luvindao het in die Nasionale Vergadering gereageer op ’n vraag van die Swapo-parlementslid Fenny Nanyeni of dit nie meer volhoubaar vir die fonds sal wees om in traumasentrums in staatshospitale te belê nie.

Luvindao het erken die fonds belê reeds vir byna twee dekades in die versterking van openbare gesondheidsgeriewe, wat gefokus het op kapasiteitsbou, die ontwikkeling van infrastruktuur en die versterking van noodreaksie.

Die beleggings sluit in die onlangse opknapping van die Katutura-hospitaal se noodeenheid, die skenking van mediese toerusting aan die staatshospitaal op Oshakati, sowel as die skenking van ’n Lodox X-straalmasjien vir die Katutura-staatshospitaal.

Volgens die minister is die fonds tans in gesprek met die ministerie vir verskeie projekte, waaronder die opknap van teaters en intensiewesorgeenhede by beide die Katutura-staatshospitaal en die Windhoek Sentrale Hospitaal.

Die fonds is tans in die beginstadium van die vestiging van ’n traumasentrum in Windhoek wat volgens Luvindao bestaande gesondheidsgeriewe sal ondersteun. Volgens die minister is die verkryging van grond met die Windhoekse munisipaliteit gefinaliseer en sal die papierwerk vir die projek vroeg in die volgende finansiële jaar gereed wees.

Nanyeni wou ook by Luvidao weet waar pasiënte wat deur die MVA-fonds gedek word, dikwels na private hospitale verwys of hier opgeneem word, en of dié praktyk dui op uitdagings met kapasiteit in staatshospitale en of dit ’n beleidsbesluit van die fonds is.

Luvindao het verduidelik die fonds het omvattende kliniese riglyne vir ’n doeltreffende mediese sorteringsproses wat pasiënte prioritiseer gebaseer op die erns van hul toestand, eerder as die dag en tyd van hul aankoms.

“Dit is die beleid van die fonds om pasiënte by die naaste gepaste gesondheidsgeriewe te behandel,” het Luvidao gesê.

In hierdie verband word oorweging geskenk aan hospitaalkapasiteit relatief tot die besering, die ligging van die ongeluk en die geskikte gesondheidsgeriewe wat gepas is om die besering te bestuur wat noodsaaklik is om die pasiënt se kans op ’n positiewe uitkoms te verseker en laastens die beskikbaarheid van gepaste personeel om die besering te bestuur.

Volgens Luvindao is staatsgeriewe weens beperkte kapasiteit nie altyd in staat om alle MVA-fonds-pasiënte te hanteer en te behandel nie.

Die redes sluit in beskikbaarheid van sekere kliniese kundigheid en tydige beskikbaarheid van teaters, asook beperkte beddens in die intensiewesorgeenheid.

“Wanneer gepas, plaas die fonds pasiënte terug na staatsgeriewe wanneer die kritieke ingrypings en geïdentifiseerde lewensreddende hulp uitgevoer is. In die verband behou die fonds konstante kommunikasie met ministeriële beamptes by verskeie sentrums om te verseker dat gepaste maatreëls toegepas word om hierdie oorplasings te fasiliteer,” het Luvindao gesê.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer