Muller se vlieglisensies was in orde

Francoise Steynberg

Die ondersoek na die noodlottige girokopterongeluk op 19 September van die legendariese renosterbewaarder, wyle Jaco Muller (53), op die plaas Chorab in die Outjo-distrik duur nog voort, maar hy het wel oor ’n geldige Namibiese vlieënierslisensie vir girokopters beskik. 

Dit is bevestig deur die voorlopige ongelukondersoekverslag van die direktoraat van vliegtuigongelukondersoeke (DAAII) in die minister van werke en vervoer wat deur die ondersoekbeampte, Ben Engelbrecht, uitgevoer is. 

Volgens die verslag sou Muller se vlieënierslisensie met lisensienommer GYR 70150 op 21 September volgende jaar verval. Hy het ook oor ’n geldige klas 2-mediese sertifikaat beskik wat op 30 September 2026 sou verval.

“Meer inligting oor die vlieënier sal in die finale verslag beskikbaar gestel word en dit sal ook die vlieënier se vliegervaring insluit,” lui die verslag.

“Die laaste jaarlikse inspeksie is op 3 Oktober 2025 gesertifiseer met Muller wat 1 186 vliegure” agter die stange het. 

Die vliegtuig het oor ’n geldige spesiale vlugpermit (’n eksperimentele sertifikaat) beskik, met ’n vervaldatum van 22 Oktober 2026. 

Muller het op 19 September omstreeks 14:00 as enigste inisttende in sy Italiaanse Magni-girokopter met die registrasiemerk V5-UFR vanaf die Outjo-vliegveld opgestyg. 

“Die doel was om veldbrande te bespied en mense op die grond in te lig oor die rigting van die brand,” lui die verslag 

“Mense op die grond het die girokopter bo sien vlieg en gemeld dat die vlieënier per tweerigtingradio gekommunikeer het met een van die persone wat besig was om die brand onder beheer te probeer bring.”

Volgens die verslag het die vlieënier se seun, Tristan, omstreeks 16:30 bekommerd geraak, aangesien die girokopter nie na die vliegveld teruggekeer het nie. 

“Sy seun het probeer om hom op sy selfoon te bel, maar daar was geen antwoord nie.” 

Tristan het volgens die verslag omstreeks 16:45 die mense op die grond gekontak om uit te vind of hulle weet waar die girokopter is. 

“Hulle het geantwoord dat hulle die girokopter laas meer as ’n uur en ’n half gelede gesien het.

Die seun het verder verklaar dat hy en sy suster [Paige] in die rigting van die veldbrande begin ry het.” 

Terwyl hulle gery het, het Muller se vrou, Cher, volgens die verslag die vlieënier se selfoon nagespoor en die ligging aan hul seun gestuur.

“Die seun het die ligging toe gedeel met die groep wat die brand bestry het. Sommige lede van die groep het na die ligging gegaan, gevind dat die girokopter neergestort en uitgebrand en die vlieënier noodlottige beserings opgedoen het.”

Tristan het ook by die toneel aangekom en “die girokopter volgens sy registrasienommer op die stert geïdentifiseer”. 

DAAII is ingelig en Engelbrecht het die ondersoek van stapel gestuur.

Volgens DAAII is ’n volledige ondersoek steeds aan die gang en die finale ongeluksverslag sal na ’n deeglike ontleding uitgereik word.

Volgens die voorlopige verslag is die girokopter deur die impakkrag met die val en ’n brand wat ná die impak ontstaan ​​het, vernietig. 

“Voordat die girokoper die grond getref het, het dit teen ’n klein boom gebots en 30 meter vanaf die punt van die eerste impak tot stilstand gekom; daarna het ’n brand ontstaan,” lui die verslag. 

“Toe die girokopter tot stilstand gekom het, is los voorwerpe wat daarin was uitgeslinger; dit het die vlieënier se selfoon ingesluit. Die selfoon is deur die vlieënier se seun op die ongelukstoneel gevind.”

Muller was die stigter van die Rhino Momma Project en eienaar van die Kifaru Luxury Lodge & Bush Camp. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer