Die ongelukstoneel op 19 November 2025. Foto verskaf
Die ongelukstoneel op 19 November 2025. Foto verskaf

Geen antwoorde een jaar ná noodlottige ongeluk

Otis Daniels

Een jaar nadat ’n ongeluk in Windhoek die lewens van drie lede van dieselfde familie geëis het, soek hul familielede steeds antwoorde oor die omstandighede rondom die ongeluk.

Letitia Angelina Sylvester (51), Rhain Sylvester (18) en die driejarige Willow Mae Martin, is op 19 November 2025 dood toe ’n wipbakvragmotor wat gruis vervoer het, by die afrit van die westelike verbypad na Mandume Ndemufayo-rylaan by die Universiteit van Namibië (Unam) omgeslaan en op die voertuig waarin hulle gereis het, geval het. 

Met die eerste herdenking van hul sterftes môre, het Reginald Hercules, wat die families kragtens ’n volmag verteenwoordig, ’n beroep op die kantoor van die aanklaer-generaal gedoen om te verseker dat verdere ondersoeke sonder versuim afgehandel word en dat ’n besluit oor die saak spoedig geneem word.

“Ons vra nie vir enigiets buitengewoons nie. Ons vra die stad om vir ons te sê of die kameras en die seindata van daardie dag nog bestaan. Ons vra die aanklaer-generaal se kantoor om te besluit,” het Hercules gesê.

“Ons vra die maatskappye wat daardie voertuie op die pad gesit het om in die hof te antwoord. Die minste wat hierdie familie verdien, is die waarheid oor daardie paar sekondes en die rekords wat daardie waarheid bevat, wat aan openbare owerhede behoort,” het hy gesê.

Hercules het beklemtoon dat die strafsaak onopgelos gebly het. 

“Die polisiedossier, geregistreer onder saaknommer CR 484-11-2025, is omstreeks in Augustus 2026 aan die kantoor van die aanklaer-generaal voorgelê voordat dit deur die beheeraanklaer vir verdere ondersoek aan die ondersoekbeampte teruggestuur is. Een jaar ná die ongeluk is geen vervolgingsbesluit geneem nie,” het hy benadruk.

Volgens Hercules soek die families sedert 7 April 2026 toegang tot die bewysmateriaal. Hulle het herhaaldelik skriftelik die bewaring en vrystelling van rekords versoek wat kan vasstel wat by die kruising gebeur het. Dit sluit in verkeersligfase- en tydsberekeningsdata, verkeersbeheerlogboeke en enige geslotekringtelevisie (CCTV)- of ander kamerabeelde wat die kruising dek. Korrespondensie is ook deur die adjunkbalju aan die Windhoekse stadspolisie beteken en na Stad Windhoek se uitvoerende hoof, die ondersoekbeampte, die beheeraanklaer en die kantoor van die aanklaer-generaal gestuur.

“Tot op datum is nie een van hierdie rekords gelewer nie en geen owerheid het skriftelik bevestig of die seindata en beeldmateriaal vir 19 November 2025 en of dit nog ooit bestaan nie. 

“Die families vra een eenvoudige vraag aan Stad Windhoek: bestaan die bewysmateriaal nog – ja of nee?” het Hercules gevra.

Hy het bygevoeg die families het die regsfirma Isaacks en Associates opdrag gegee om siviele verrigtinge in die hoërhof van Namibië in te stel wat uit die ongeluk voortspruit. Die beoogde optrede het betrekking op die aanlyn taxidiens en sy bestuurder, operateur en platform, asook die tweede betrokke voertuig en sy bestuurder en operateur. 

“Onder die vrae wat die verrigtinge aan die hof sal voorlê, is of die e-taxibestuurder en -voertuig gemagtig en gelisensieer was om passasiers teen vergoeding te vervoer en of die goederevoertuig op daardie dag aan die vereistes voldoen het wat daarop van toepassing was,” sê Hercules. 

Volgens hom eis die families vir die verlies aan onderhoud ná die dood van hul geliefdes, asook die diepgaande psigologiese verlies wat deur oorlewende familielede gely is.

Die families het ook inspekteurs en kundiges betrek om ’n volledige rekonstruksie van die ongeluk te doen. 

“Die rekonstruksie is die rede waarom die seindata en kamerabeelde so baie saak maak en waarom hul bewaring sedert April 2026 skriftelik geëis is.” 

Nadat elke versoek, kennisgewing en stuk bewysmateriaal by die verantwoordelike owerhede op rekord volgens die familiewoordvoerder geplaas is, sal hy hom nou aan openbare betrokkenheid onttrek “sodat die prokureurs hul werk kan doen. 

“Die families vra die owerhede om húlle s’n te doen,” het Hercules versoek.

Volgens senior inspekteur Hilma Amutenya, woordvoerder van die Namibiese polisie, het die ongeluk op Woensdag 19 November 2025, om 12:00 plaasgevind.

“Na bewering het ’n ongeluk tussen ’n wit wipbakvragmotor, gelaai met boustene, en ’n blou Nissan Note plaasgevind. Dit word beweer dat die verkeersligte vir albei voertuie groen was en dat die vragmotor voorrang gehad het, maar dat die bestuurder van die Nissan Note voor die vragmotor ingery het, wat tot die ongeluk gelei het,” het Amutenya destyds gesê. 

“Daar word beweer dat die vragmotor bo-op die Nissan Note beland en dit met die boustene bedek het,” het sy gesê.

Die bestuurder van die Nissan Note het die ongeluk oorleef, maar was toe na bewering in ’n kritieke toestand, terwyl die bestuurder van die vragmotor ook beseer, maar in ’n stabiele toestand was.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer