Buitensporige insleeprekeninge
Motoriste wat in ongelukke betrokke is, kan duisende Namibiese dollars aan insleep- en stoortariewe opdok, met geskille wat tussen insleepoperateurs en versekeringsmaatskappye ontstaan oor wie die koste behoort te dra.
Een insleepoperateur, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het Maandag aan Network Media Hub (NMH) gesê dat sommige maatskappye buitensporige bedrae hef nadat voertuie van ongelukstonele verwyder is.
Die operateur het beweer sommige motoriste is sowat N$19 000 gevra vir voertuie wat oor ’n naweek gestoor is, terwyl ’n ander geval na bewering sowat N$78 000 behels het.
Volgens die bron ontstaan probleme dikwels wanneer voertuie wat deur maatskappye ingesleep word nie op versekeraars se goedgekeurde diensverskafferpanele geregistreer is nie.
“Die oomblik as jy op hul paneel is, sleep jy die motor en die versekering betaal jou direk. As jy nie op hul paneel is nie, eindig die kliënt op om te betaal,” het die operateur gesê.
Die bron het verder beweer dat sommige insleepoperateurs inligting van polisielede op ongelukstonele ontvang wat hulle in staat stel om by voertuie uit te kom voordat motoriste of versekeraars reëlings kan tref.
Die bewerings kon nie onafhanklik geverifieer word nie.
Die operateur het ook beweer sommige insleepmaatskappye werk sonder die vereiste permitte en munisipale dokumentasie.
“Jy moet die operateurskyf en munisipale registrasie hê. Enige insleep met ’n enkele skyf is onwettige insleep,” het die bron beweer.
STOORGERIEWE
’n Motoris wat ook anoniem wil bly, het aan NMH gesê hulle het meer as N$20 000 uit hul eie sak betaal nadat hul voertuig vir sowat twee weke by stoorgeriewe was terwyl hul versekeringseis verwerk is.
“Ek het nie ’n probleem met versekering in die algemeen nie. Ek het net swak versekering aan my kant gehad,” het die kliënt gesê.
’n Ander motoris, Andreas Simaneka, het aan NMH gesê hy is byna N$31 000 gehef nadat sy voertuig vir sowat 18 dae ná ’n ongeluk by stoorgeriewe was.
Simaneka het beweer hy is nooit behoorlik ingelig oor hoe die stoortariewe bereken is nie en was die afgelope vier maande in ’n geskil tussen die insleepmaatskappy en sy versekeraar vasgevang.
“Tot nou toe sukkel ons nog om die geld van versekering te kry. Niemand wil verantwoordelikheid neem nie en ons word net van bakboord na stuurboord gestuur,” het hy gesê.
Hy het verder beweer dat sommige insleepoperateurs in Windhoek, veral in Khomasdal en Katutura, voordeel trek uit verwarring by ongelukstonele en buitensporige stoortariewe hef.
Simaneka het ook bewerings bevraagteken dat sommige insleepmaatskappye moontlik aan beide motoriste en versekeraars vir dieselfde voorvalle fakture uitreik, hoewel hy gesê het hy kan nie bevestig hoe sulke eise verwerk is nie.
Insleepoperateurs wat deur NMH ondervra is, het gesê geskille ontstaan gewoonlik omdat versekeringspolisse verskil en nie alle koste outomaties gedek word nie.
MRT Towing and Transport se mede-eienaar, Jovian Farmer, het gesê versekeraars betaal oor die algemeen insleepmaatskappye direk wanneer hulle deel van ’n goedgekeurde paneel vorm.
Hy het egter gesê probleme ontstaan wanneer motoriste insleepoperateurs gebruik wat nie by hul versekeraar geregistreer is nie, of wanneer polisse stoorkoste uitsluit.
“In die meeste gevalle betaal die versekering gewoonlik alles. Maar daar is polisse wat nie stoorkoste dek nie en dan moet die kliënt vir daardie deel betaal,” het Farmer gesê.
Hy het bygevoeg dat insleepmaatskappye normaalweg ’n ondertekende werkkaart vereis wat die verwydering van die voertuig van die ongelukstoneel magtig.
Farmer het gesê die dokument dien as bewys dat die eienaar, ’n familielid of ’n verteenwoordiger toestemming gegee het dat die voertuig verskuif mag word.
Elite Tow-In and Recovery se eienaar, Ashley Doyle, het gesê hy het nog nooit ’n situasie ervaar waar ’n insleepmaatskappy beide die versekeraar en die kliënt vir dieselfde diens geld vra nie.
“As iemand vir die versekering ’n faktuur gestuur het en steeds die kliënt vir dieselfde ding hef, sou dit op bedrog neerkom,” het Doyle gesê.
Hy het verduidelik dat versekeraars gewoonlik instruksies uitreik oor wanneer voertuie uit stoorgeriewe vrygestel kan word en of hulle vir herstelwerk geneem moet word of na veilingshuise gestuur moet word indien dit as afskrywings verklaar word.
Doyle het bygevoeg dat motoriste steeds aanspreeklik kan wees vir insleep- en stoortariewe indien versekeraars eise verwerp weens polisoortredings soos wanbetalings of bestuur onder die invloed.
“Dit is wanneer die verantwoordelikheid na die eienaar van die voertuig terugskuif,” het hy gesê.
In reaksie op vrae wat deur NMH gestuur is, het King Price Insurance gesê motoriste word aangemoedig om die versekeraar se noodlyn te bel voordat voertuie van ongelukstonele verwyder word.
Nakoming- en menslike hulpbronbestuurder, Nadine Iita, het gesê in gevalle waar motoriste bewusteloos of beseer is, kan verkeersbeamptes of familielede insleepwerk magtig om die pad skoon te maak.
Iita het gesê die maatskappy gebruik goedgekeurde insleepverskaffers, maar werk ook met ander operateurs nadat hulle ’n siftingsproses ondergaan.
Sy het gesê fakture wat deur insleepmaatskappye ingedien word, moet unieke eisnommers bevat voordat betaling verwerk kan word.
“Elke eis sal ’n ander eisnommer hê wat op die insleepfaktuur aangedui moet word voordat die faktuur vereffen kan word,” het Iita gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie