• Tuisblad
  • Ongelukke
  • Bekende sakeman sterf in motorongeluk ná hy heli-ongeluk oorleef
Jaco van Dyk en gesin
Jaco van Dyk en gesin

Bekende sakeman sterf in motorongeluk ná hy heli-ongeluk oorleef

Francoise Steynberg
Die bekende sakeman en veldrenjaer van Grootfontein, Jaco van Dyk (52) het Saterdag omstreeks 21:00 op die B8-pad tussen Otavi en Grootfontein, sowat 7 km vanaf Grootfontein verongeluk.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het Van Dyk, na bewering beheer oor sy swart Toyota Land Cruiser verloor en die brug getref wat veroorsaak het dat die voertuig omgeslaan het.

“Die bestuurder is dood nadat hy uit die voertuig geslinger is. Hy was alleen en sy liggaam is na die Grootfontein-privaathospitaal se lykhuis geneem hangende die nadoodse ondersoek,” lui die verslag.

Volgens vriende van Van Dyk, eienaar van Van Dyk Petroleum, was hy op pad terug vanaf Swakopmund na Grootfontein.

Volgens die polisie is sy naasbestaandes in kennis gestel en die ondersoek duur voort. Sy enigste ouer broer, Nico, het ook tragies in ‘n motorongeluk gesterf.

Van Dyk het vyf jaar gelede wonderbaarlik ‘n helikopterongeluk oos van Windhoek in die berge naby Heja Lodge saam met sy drie kinders oorleef toe hy ‘n onsuksesvolle noodlanding gemaak het. Van Dyk was toe in ’n kritieke toestand en sy kinders ernstig beseer..

Van Dyk word deur sy twee dogters Cornelia “Ousus” (20) en Jolandie “Bokkie” (18), en seun Jacobus “Chucky” (17), oorleef.

“Met groot hartseer neem die Grootfontein Boerevereniging afskeid van Jaco van Dyk wat tragies in ’n motorongeluk naby Grootfontein oorlede is. Jaco was nie net ’n sakeman nie, maar ook ’n man met ’n oop hand en ’n warm hart vir Grootfontein-gemeenskap,” het die boerevereging op hul Facebookblad geskryf.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer