FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF

Zambezi-skole jare reeds leierloos

Phillipus Josef
’n Vlaag van ontevredenheid met wat beskou word as die chroniese versuim om skoolhoofde en departementshoofde betyds aan te stel, is besig om deur die Zambezistreek te spoel.

Die versuim word grootliks toegeskryf aan vertragings op administratiewe vlak in die streek, asook agterstande by die Staatsdienskommissie.

’n Beampte na aan die kwessie wat verkies om anoniem te bly, het gesê sommige skoolbestuursposte is so ver terug as 2017 steeds vakant.

“Sommige onderhoude is drie keer vir dieselfde pos gehou, tog is aanstellings nooit gedoen nie,” het die bron gesê.

’n Voorbeeld hiervan is die pos vir ’n departementshoof by Greenwell Matongo. Selfs ná suksesvolle onderhoude is die aanstellingsproses na bewering deur menslike hulpbronnebeamptes in die streek glo weens persoonlike voorkeure gestop.

Die bron beweer dokumentasie is in sommige gevalle doelbewus vertraag of het verlore geraak, terwyl advertensies vir die poste glo ook dikwels laat vrygestel is.

“Menslike hulpbronne neem ses tot sewe maande ná die sluitingsdatums om kandidate te bel en nog drie tot vier maande net om die uitslae aan te stuur,” het die bron gesê en advertensies van Oktober 2023 as voorbeeld genoem.

Poste vir skoolhoofde is in Oktober 2023 en Januarie 2024 geadverteer, maar die meeste is nog nie gevul nie.

“Uit die 11 poste wat geadverteer is, is net twee gevul. Die Sekondêre Skool Nakabolelwa en die Gekombineerde Skool Mavulumba het byvoorbeeld meer as twee jaar gewag voordat hulle permanente skoolhoofde gehad het,” het die bron gesê.



WAARNEMENDE AANSTELLINGS

Die uitgerekte waarnemende aanstellings, dikwels op ’n hernubare basis van drie maande, is ook as rede tot kommer uitgesonder.

“Hoe beplan jy strategies oor drie maande? En erger nog, soms word niemand eers aangestel nie.”

In ’n telefoniese onderhoud gister met Network Media Hub (NMH) het die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, die frustrasie erken, maar ’n beroep op begrip gedoen vir die betrokke prosesse.

Die minister het verduidelik ’n wanbelyning tussen advertensies en leerplanvereistes lei soms daartoe dat die Staatsdienskommissie aanbevole kandidate afkeur.

“Wanneer dit gebeur, moet die proses weer begin – weer advertensies, weer onderhoude. Dis omslagtig, maar noodsaaklik,” het Steenkamp gesê.

Volgens haar is streekdirekteure ook daaraan herinner om die akkuraatheid van advertensies en die doeltreffendheid van die interne prosesse te verbeter.

“Dit gaan nie oor begunstiging nie. Daar is stelsels en tydlyne. ’n Werwingsproses moet binne ’n jaar voltooi word, anders word die pos nietig verklaar,” het sy gesê.

Die huidige situasie in die streek het egter ’n opvatting van ondoeltreffendheid en min verantwoordbaarheid in die Zambezi se direktoraat van onderwys geskep.

“Die direkteur moet strenger beheer neem. HR moet beter doen. Ons kan nie skole vir jare sonder leierskap los nie,” het die bron gesê.

Pogings om kommentaar van die Zambezi se onderwysdirekteur te kry, was onsuksesvol en hy kon teen druktyd nie bereik word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer