Die goewerneur van Kunene skets onderwys as die streek se grootste swakheid. Foto verskaf
Die goewerneur van Kunene skets onderwys as die streek se grootste swakheid. Foto verskaf

Vier uit tien volwassenes kan nie lees of skryf

Slaagsyfer van 23% in Kunene
Meer as 97 000 van Kunene se 120 762 inwoners is onder die ouderdom van 40.
Desmarius Hansen

Byna vier uit tien volwassenes wat in die Kunenestreek woon, kan nie lees of skryf nie.

“Onderwys bly ons grootste swakpunt as streek, het die goewerneur, Vipuakuje Muharukua, vandeesweek tydens sy streekrede (Sora) gesê.

Hy het bygevoeg dat die streek se geletterdheidsyfer op 63,9% staan, ver onder die nasionale gemiddeld van 91%.

Hy het ’n gebrek aan toegang tot onderwys as die streek se grootste uitdaging beskryf en gewaarsku dat om Visie 2030 te bereik, moeilik sal wees sonder dringende verbeterings in onderwysuitkomste.

Die streek het landswyd laaste geëindig met ’n slaagsyfer van 23% in die nasionale eksamens van 2025.

Muharukua het gesê die lae geletterdheidsyfer bly aansienlik onder die vlak wat nodig is om ekonomiese groei, werkskepping en vaardigheidsontwikkeling te dra, veral terwyl die streek homself posisioneer vir uitbreiding in mynbou, landbou, toerisme en logistiek.

Hy het gewaarsku dat lae geletterdheid ook geleenthede vir jongmense beperk, veral in landelike gemeenskappe waar toegang tot skole, onderrigbronne en onderwysinfrastruktuur steeds ongelyk is.

Die goewerneur het gesê die uitdaging is veral kommerwekkend omdat meer as 97 000 van Kunene se 120 762 inwoners onder die ouderdom van 40 is – ’n jeugdige bevolking wat hy ’n geleentheid noem, maar net as onderwysuitkomste verbeter. Daarsonder, het hy gewaarsku, sal baie jongmense sukkel om op ’n betekenisvolle manier deel te neem aan ontluikende bedrywe soos mynbou en beplande landbou-projekte.

Die uitdaging van geletterdheid gaan hand aan hand met Kunene wat ook worstel met ’n jeugwerkloosheidsyfer van 36,6%.

Muharukua het gesê die regering bly daartoe verbind om onderwysinfrastruktuur te versterk, toegang tot onderrig te verbeter en beter geleenthede vir leerlinge te skep.

Hy het egter beklemtoon dat die leierskap, gemeenskappe en families ook hul deel moet doen om te verseker dat kinders in die skool bly en hul studies voltooi.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer