Foto ter illustrasie/Argief
Foto ter illustrasie/Argief

Tot N$2 miljard vir Otavi-kampus

Fokus op landbou en tegnologie
Nust se beplande kampus wag nog op goedkeuring van die regering, terwyl reëlings vir eksterne finansiering ook nog uitstaande is.
Phillipus Josef

Otavi het na vore getree as die voorkeurligging vir die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se beplande satellietkampus vir landbou. 

Verskeie dorpe in die Otjozondjupastreek het voorstelle ingedien om die kampus te huisves.

Die kampus sal na verwagting van Nust se huidige satellietbedrywighede op Rietfontein na Otavi verskuif, met die universiteit se raad wat die oprigting in Februarie goedgekeur het.

’n Bron wat vertroud is met die voorgestelde ontwikkeling, het gesê strukture sou aanvanklik vanjaar opgerig word, hoewel die projek steeds goedkeuring van die regering en reëlings vir eksterne finansiering kortkom. 

Volgens die bron dui voorlopige beramings daarop dat die waarde van die ontwikkeling tot ongeveer N$2 miljard kan styg.

Nust se woordvoerder, Nashilongo Gervasius, het egter by navraag aan Republikein gesê die universiteit het nog nie die finale koste van die kampus bepaal nie.

Volgens haar moet die beplanning en finansiering vir die kampus, wat op landbou en tegnologie sal fokus, nog bereken word. Die uiteindelike koste kan hoër of laer as enige voorlopige beraming wees, het sy gesê.

Gervasius het gesê die voorgestelde instelling sal ’n landboukampus met ’n sterk tegnologiese fokus wees en dat die ontwikkeling daarvan in fases sal plaasvind.

“Die beplanning en finansiering van die kampus moet nog voltooi word,” het sy gesê.

Die uiteindelike koste sal afhang van die omvang van die projek en die befondsingsreëlings wat die regering en moontlike vennote betrek.

Gervasius het gesê Nust het egter nog nie ’n verbintenis van ’n vennoot ontvang wat N$2 miljard vir die oprigting van die kampus beskikbaar sal stel nie.

“Baie gesprekke vind plaas,” het sy gesê en bygevoeg dat die universiteit die publiek sal inlig sodra vennootskappe en die verskillende fases van die projek gefinaliseer is.


GROND

Die Otavi-dorpsraad het intussen bevestig dat Nust grond aanvaar het wat vir die voorgestelde kampus toegeken is. Dit moet egter nog die groenlig van die ministerie van landelike en stedelike ontwikkeling ontvang.  

Otavi se waarnemende uitvoerende hoof, Heita Shikeenga, het by navraag aan Republikein gesê die raad het verskeie grondopsies aan Nust voorgelê. Volgens haar is Otavi as die voorkeurligging gekies en dat die universiteitsraad die beplande oprigting van die kampus daar goedgekeur het.

Volgens Shikeenga sal die kampus ’n aansienlike oppervlakte vereis vanweë die landboukomponent, wat studente in staat sal stel om praktiese werk te doen.

Die dorpsraad het aanvanklik verwag dat tydelike strukture vanjaar opgerig sal word, met studente wat moontlik reeds volgende jaar op die nuwe kampus kan inval. Shikeenga het egter gesê die tydsraamwerk moet nog met Nust uitgeklaar word.

Die voorgestelde kampus kom te midde van versoeke dat universiteite hul teenwoordigheid buite Namibië se vernaamste stedelike sentrums moet uitbrei.


GOEWERNEUR

Die goewerneur van Otjozondjupa, John ||Khamuseb, het verlede Vrydag tydens ’n besoek aan Otjiwarongo deur die parlementêre staande komitee oor ekonomie gesê universiteite moet na ander dorpe uitgebrei word om geleenthede vir hoër onderwys nader aan gemeenskappe te bring. 

Die Otavi-projek kom terwyl Nust sy fisiese voetspoor buite sy bestaande kampusse uitbrei. In Maart 2025 het die universiteit planne vir ’n nuwe kampus in Kleine Kuppe in Windhoek aangekondig as deel van sy tienjaar-bestaansjaarvieringe. Die kampus is bedoel om bykomende kapasiteit te bied en professionele persone en bedryfsvennote te bedien.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer