Swakop-skole: Minister doen beroep op dissipline
Die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, het leerlinge, onderwysers, ouers en gemeenskappe versoek om saam te werk om dissipline en morele waardes in skole te herstel.
Sy het verder gesê dit is die sleutel tot die verbetering van die gehalte van onderwys in Namibië.
Steenkamp het gister dié opmerkings gemaak tydens besoeke aan Swakopmund Laerskool, Westside Hoërskool en Coastal Hoërskool in die Erongostreek op die eerste dag van die akademiese jaar.
In ’n toespraak aan leerlinge by Westside Hoërskool het die minister respek as die fondament van dissipline benadruk en gesê “respek vir jouself sal lei tot respek vir ander, insluitend onderwysers en ouers”.
Sy het leerling teen boeliegedrag, dwelmgebruik en damprook (vaping) gemaan en beklemtoon dat sulke gedrag nie op die skoolterrein of buite die skoolhekke geduld sal word nie.
“As jy respek vir jouself het, sal jy na jouself kyk en nie jou lewe ingewikkeld maak nie. Hierdie is ’n skool, daar is reëls en regulasies, en ons sal geen verdraagsaamheid hê vir diegene wat kies om nie daaraan te voldoen nie,” het Steenkamp gesê.
Sy het verder gesê ’n deernisvolle skoolomgewing sal help om boeliegedrag te bekamp en veiliger leerruimtes vir alle leerlinge te bevorder.
By Swakopmund Laerskool het Steenkamp die interaksie tussen ouers en onderwysers geprys en opgemerk dat ouerbetrokkenheid ’n deurslaggewende rol in die vorming van leerlinge se gedrag en akademiese prestasies speel.
Sy het gesê die herstel van dissipline vereis nie finansiële hulpbronne nie, maar eerder empatie, sorg en die gesag van opvoeders.
“Die verbetering van morele waardes (moral fibre) in ons gemeenskappe kos nie geld nie. Dit vereis toewyding van onderwysers en die samewerking van ouers en leerlinge,” het sy gesê.
Die minister het ook die voortdurende uitdagings met betrekking tot oorbevolking in skole erken, veral by Westside Hoërskool, wat tans leerlinge van preprimêr tot die Nasionale Senior Sertifikaat Gevorderde Aanvullende Vlak (NSSCAS) akkommodeer, met meer as 1 300 leerlinge.
Sy het gesê die ministerie werk aktief daaraan om die oorbevolking in skole in vyf streke, insluitend Erongo, te bekamp, en dat die skeiding van groot skole in primêre en sekondêre instellings op die lang termyn ideaal sou wees.
Steenkamp het ’n deel van die oorbevolkingsprobleem toegeskryf aan migrasie van landelike na stedelike gebiede en opgemerk dat sommige landelike skole steeds onderbenut word namate gesinne na stedelike sentrums trek op soek na geleenthede.
Sy het gesê die regering sal voortgaan om in desentralisasie en infrastruktuurontwikkeling te belê om te verseker dat dienste en gehalte-onderwys in alle streke toeganklik is.
Sy het bygevoeg dat verbeterde dissipline en gedeelde verantwoordelikheid uiteindelik tot beter akademiese uitkomste sal lei.
“As ons almal eienaarskap neem – ouers, onderwysers, gemeenskappe en leerlinge – kan ons dissipline in ons klaskamers herstel en die gehalte van onderwys verbeter.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie