Studente in limbo oor NSFAF-aansoek
’n Toename van 21% in aansoeke aan die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) weerspieël die groeiende vraag na finansiële bystand onder studente.
Volgens die fonds is die evalueringsproses steeds aan die gang, maar kon egter nie syfers verskaf oor hoeveel studente se aansoeke onsuksesvol was nie. Studente wie se aansoeke verwerp is, staar uitsetting uit hul akkommodasie en die blokkering van hul registrasie in die gesig, asook die moontlikheid om te besluit om eerder hul studies te staak.
Dit aangesien meer as 50 000 aansoek gedoen het vir ondersteuning van die fonds, wat ’n groeiende gaping tussen beloftes aan die kant van die regering en die werklikheid onthul.
Volgens NSFAF is 50 069 aansoeke vir die 2026-akademiese jaar ontvang teenoor die 41 322 aansoeke van 2025 – ’n toename van 21%.
SONA
Die onsekerheid oor aansoeke volg nadat president Netumbo Nandi-Ndaitwah verlede week tydens haar staatsrede (Sona) ’n toekenning van N$663 miljoen aangekondig het om ’n ten volle gesubsidieerde finansieringsmodel vir hoër onderrig te ondersteun.
Na verwagting sal dié inisiatief registrasie- en klasgelde vir studente by voorgraadse openbare en private instellings dek, sowel as beroepsopleidingsentrums.
Nandi-Ndaitwah het ook aangekondig dat die huishoudelike inkomstedrempel vir ondersteuning wat nie met klasgelde verband hou nie, tot N$300 000 verhoog is wat meer middelinkomstegesinne toelaat om te kwalifiseer.
Daarbenewens is NSFAF in die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur geïntegreer in ’n poging om dit meer vaartbelyn te maak en toegang tot onderrig te verbeter.
Ten spyte van dié maatreëls, sê studente wat anoniem met Republikein gepraat het, die werklikheid op grondvlak vertel ’n ander storie. Een student het gesê hul NSFAF-aansoek, wat vroeg in Februarie ingedien is, is afgekeur.
Die gevolg is dat die student nie die klasgelde kan betaal nie, ten spyte daarvan dat die student reeds geregistreer het.
“Ek kan nie tuis bly nie. Ek wil my Vlak 4 voltooi, maar ek het nie geld om te betaal nie,” het die student verbonde aan die Internasionale Universiteit van Bestuursake (IUM) gesê.
Nog ’n student het gesê hul aansoeke is ingedien deur ’n verandering in toekenningsvoorwaardes, maar is sonder enige verduideliking verwerp.
“Die studenteportaal sê net ‘verwerp’. Aangesien ek in die Universiteit van Namibië (Unam) se koshuis is, sal ek dit nie kan betaal nie en moet ek uittrek en terugtrek dorp toe waar ek geen plek het om te bly nie,” het die student gesê.
“Ons het geen ander middele nie. Ons kan nie studielenings uitneem nie, want dit neem te lank en dis nie altyd ’n gewaarborgde proses nie.
“Die ergste is dat ons geen behoorlike terugvoering of studentekennisgewing van NSFAF en die universiteite ontvang nie. Ons kan ook nie net wag om terugvoering van NSFAF te kry nie, ons is regtig in gevaar hier,” het die student gesê.
Die student het bygevoeg die gebrek aan befondsing het reeds hul akademiese prestasie beïnvloed as gevolg van die stres van die moontlike verlies aan verblyf en die onvermoë om basiese kostes te dek.
Studente wat met Republikein gepraat het, vertel van groeiende frustrasie oor duidelikheid waarom hul aansoeke afgekeur is, terwyl sperdatums vir die betaling van registrasie en akkommodasie vinnig nader kruip.
SIT MET HANDE IN HARE
NSFAF hou egter vol daar is geen toename in klagtes nie, in teenstelling met studente wat met hul hande in hul hare sit oor hul rekeninge.
Volgens die fonds word die rede waarom die meeste aansoeke verwerp is, toegeskryf aan aansoekers wat nie aan die minimum vereistes vir befondsing voldoen nie.
“Alhoewel hierdie uitkoms teleurstellend kan wees, streef ons daarna om hierdie kriteria duidelik te kommunikeer om te verseker dat aansoekers die grondslag van die besluit verstaan,” het die fonds by navraag gesê.
Volgens NSFAF is ’n appèlproses beskikbaar vir studente wat die uitkoms van hul aansoeke wil betwis. Appèlaansoek is egter nog nie geëvalueer nie, omdat die huidige evalueringsproses steeds aan die gang is.
Die fonds het ook studente wat nie kwalifiseer nie, aangeraai om alternatiewe finansieringsopsies soos alternatiewe beurse, studiebeurse of private finansieringsgeleenthede te ondersoek.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie