Die raadsvoorsitter van SUN, Benhard Kavau, FOTO ARGIEF
Die raadsvoorsitter van SUN, Benhard Kavau, FOTO ARGIEF

Studente eis konsultasie vóór toelatingsveranderinge

Elizabeth Kheibes

Die Studente-unie van Namibië (SUN) het gevra 

dat die toelatingshervormings van 2027 uitgestel word, met die waarskuwing dat oorhaastige veranderinge aansoekers kan benadeel en bestaande ongelykhede in toegang tot hoër onderwys kan verdiep.

SUN waarsku dat die veranderinge voornemende studente onbillik kan raak wat reeds by universiteite volgens die bestaande toelatingskriteria aansoek gedoen het.

Die beroep volg op die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur se hoër onderwys-omsendbrief 01/2026, wat die evalueringspunteskaal vir alle hoëronderwysinstellings vanaf die akademiese jaar van 2027 instel.

Onder die nuwe stelsel sal instellings verplig wees om toelatingspunte te bereken op grond van ’n leerling se beste vyf vakke, met Engels nou verpligtend is.

Die ministerie sê die gestandaardiseerde stelsel is bedoel om konsekwentheid, billikheid en deursigtigheid in toelatings te bevorder, terwyl Namibië se hoëronderwyssektor met internasionale standaarde in lyn gebring word.

SUN se voorsitter van die raad, Benhard Kavau, het egter gesê die unie ondersteun die verbetering van die gehalte van hoër onderwys, maar verwerp die idee dat die doel bereik sal word deur bloot toelatingspunte te standaardiseer of te verhoog.

“Hoewel SUN ten volle pogings ondersteun om die gehalte, integriteit en geloofwaardigheid van hoër onderwys in Namibië te verbeter, verwerp ons ten sterkste die opvatting dat die blote verhoging van toelatingspunte of die oplegging van eenvormige toelatingsvereistes op sigself, die gehalte van onderwys sal verbeter,” het Kavau gesê.


TYDSBEREKENING

SUN is veral bekommerd oor die tydsberekening van die hervormings en sê universiteite het reeds aansoeke oopgestel en voornemende studente het besluite geneem op grond van die vorige vereistes. 

“Om die reëls op ter elfder uur te verander is onbillik teenoor studente en hul families,” het Kavau gesê.

Die unie het gevra dat die implementering uitgestel word totdat daar betekenisvolle konsultasie was wat studente, ouers, hoëronderwysinstellings, opvoeders, die Namibië Kwalifikasieowerheid (NQA), die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys (NCHE) en die burgerlike samelewing insluit.

SUN het ook gewaarsku dat hoër toelatingsdrempels leerlinge uit benadeelde gemeenskappe buitensporig kan raak, wat moontlik nie toegang het tot goed toegeruste skole, private lesse, tegnologie en ander opvoedkundige voordele nie. 

“Om toelatingsdrempels te verhoog sonder om eers ongelykheid aan te spreek, loop die risiko om hoër onderwys in ’n voorreg te verander wat vir die elite voorbehou is,” het die unie gesê.

SUN het aangevoer dat uitdagings soos oorvol klaskamers, onderwysertekorte, onvoldoende infrastruktuur, swak konnektiwiteit en ongelyke toegang tot leerhulpbronne eers aangespreek behoort te word. 

SUN het ook bevraagteken waarom instellings wat na bewering studente teen laer drempels toelaat, toegelaat word om te funksioneer indien hul toelatingspraktyke akademiese standaarde ondermyn.

Die unie het gevra vir deursigtige en konsekwent toegepaste standaarde vir akkreditasie en gehalteversekering oor sowel openbare as private instellings.

Dit eis ’n oorgangstydperk indien die nuwe vereistes uiteindelik aanvaar word en het gewaarsku dat dit “elke wettige weg” tot sy beskikking kan volg, insluitend om die ingryping van president Netumbo Nandi-Ndaitwah te soek, indien die unie se bekommernisse nie aangespreek word nie.

Nóg die Universiteit van Namibië (Unam) nóg die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) het teen druktyd gereageer.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer