Slimkoppe deel suksesresep

Annemarie du Toit
Die top-3 kandidate van onderskeidelik die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gevorderde Aanvullende Vlak (NSSCAS) en Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO) deel hul resep vir akademiese sukses.

NSSCAS

1. Panduleni Nghitanwa

Oshigambo Hoërskool in die Oshikotostreek

“Die jaar was regtig moeilik vir my; dit was die eerste keer wat ek AS gedoen het. In die eerste week het ons gedink dit gaan maklik wees, omdat ons ook met vorige toppresteerders gepraat het. Dit het egter uiteindelik baie moeilik geword. Ek sou sê dit was beslis ons onderwysers wat ons aangemoedig het om by ons studies te hou en gemotiveerd te bly.”

2. Nicodemus Heita

Onawa Senior Sekondêre Skool in die Omusatistreek

“Ek is regtig tevrede met die uitslae wat ek behaal het. Ek is gelukkig en opgewonde. Dit is ’n baie wonderlike dag. Ek is dankbaar teenoor die Here dat Hy my gebede die hele jaar verhoor het. Deur die jaar het ek baie foute gemaak wat my aangemoedig het om harder te werk en myself verder te druk.”

3. Elao Aushona

Onawa Senior Sekondêre Skool in die Omusatistreek

“My boodskap aan die volgende groep AS-leerders is om hard te werk, julle moenie moed verloor nie, bid en vertrou altyd op God.”

NSSCO

1. Marian Kweyo

Rukonga Vision School in die Kavango-Oosstreek

“Die uitdagings wat ek in 2025 in die gesig gestaar het, was hoofsaaklik akademiese druk en die poging om verskillende vakke te balanseer, maar ek het dit oorkom deur georganiseerd te bly en myself te herinner hoekom ek in die eerste plek begin het. Ek beplan om vanjaar met AS te begin“.

2. Dacrus Manuel

Rukonga Vision School in die Kavango-Oosstreek

“Dit is deur die genade van God dat ek die tweede plek onder gewone vlak-leerlinge behaal het. Ons het eksamens geskryf en ek voel dat die skool my baie goed voorberei het vir die nasionale eksamens. In die toekoms wil ek graag ’n mediese dokter word en ek sien myself by Unam studeer.”

3. Emilia Nghipandulwa

Onawa Senior Sekondêre Skool in die Omusatistreek

“My skooljaar was moeilik en uitdagend. Ons het beperkte hulpbronne gehad, maar ek het steeds daarin geslaag. Ná hierdie jaar beplan ek om AS te doen en daarna wil ek die mediese rigting inslaan.”

Kommentaar

Republikein 2026-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer