San-kinders omarm onderwys
Die Women’s Leadership Centre (WLC) het onlangs die nasionale bekendstelling van die nuwe tweejaar-ingrypingsprogram, getiteld “San-kinders omarm onderwys”, in Windhoek gevier.
Tydens die geleentheid Donderdag het die WLC se direkteur, Liz Frank, die talle struikelblokke uitgelig wat skoolonderrig vir menigte San-kinders oraloor Namibië moeilik maak en waarom dié inisiatief so nodig is. Die program word befonds deur skenkings uit Swede.
Ses San-nedersettings word geteiken, waar kinders “ten spyte van al die diskriminasie, die boeliegedrag, die uitsluiting van hul eie stories in handboeke”, aangemoedig en ondersteun sal word om hul skoolloopbane te voltooi.
Louise Gaeses, Maria Garises en Aulleria Muyakuyi – koördineerders van die program onderskeidelik in die streke van Oshikoto, Omaheke en Kavango-Oos – was in die hoofstad om die nasionale inisiatief van stapel te stuur.
“Ek staan hier voor u as bewys van wat die belegging [in ons] en gemeenskappe saam kan bereik,” het Gaeses gesê.
Volgens Muyakuyi het die WLC ook haar lewe verander deur haar te leer om “in myself te glo, ongeregtigheid uit te daag en my stem te laat hoor vir diegene wie se stemme dikwels stilgemaak word”.
Toe die WLC haar in 2019 op Rundu genader het, het iets in haar lewe verander, sê sy.
“Hierdie program het in my geglo. My reis sedert 2019 gaan nie oor my nie, maar oor wat moontlik word wanneer ’n jong kind die geleentheid kry om te groei,” sê Muyakuyi.
“Daar is steeds baie jong meisies en seuns wat voel hulle kan nie self opstaan nie. As San-kinders ondersteun word om op skool te bly, baat hele gemeenskappe daarby,” sê sy.
Garises sê sy is nou al 11 jaar by die WLC betrokke en danksy dit is sy vandag die verteenwoordiger van haar gemeenskap.
“Ek praat nou namens my mense. Ek is ’n trotse jong San-vrou.
“Ek was baie skaam en het altyd agter gesit, maar vandag staan ek hier voor julle. Wanneer ’n meise haar stem vind, staan ’n gemeenskap op. As ’n seun leiding kry, groei vrede,” sê Garises.
RYK KULTURELE ERFENIS
Die adjunkdirekteur vir programme en gehalteversekering in die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Gottleib Shikongo, het die hooftoespraak gelewer.
Volgens hom is die ministerie bewus daarvan dat baie San-kinders nie skool bywoon nie.
“San-kinders is die mees formeel gemarginaliseerdes in Namibië,” het Shikongo gesê.
“Dit is ten spyte van die feit dat die San die oorspronklike inwoners van Suider-Afrika en die bewaarders van ’n ryk kulturele erfenis is. Tog verduur hulle generasietrauma en dra ’n gevoel van skaamte oor identiteit en taal.”
San-kinders moet onder meer struikelblokke oorbrug, soos die gebrek aan geboortesertifikate, die koste van skooluniforms, lang afstande en ’n gebrek aan kos, sê Shikongo.
Hy sê verder ouers moet ingryp en help.
“Die stemme van ouers moet die kinders aan hul waarde herinner. Ons soek ’n toekoms waar die San-mense nie meer wegsteek wie hulle is nie, maar in skole uitblink,” sê Shikongo.
Volgens hom is die ministerie daartoe verbind om skole meer inklusief te maak, onderwys in moedertale aan te bied en te verseker dat San-geskiedenis in die kurrikulum weerspieël word.
“Onderwys gaan nie daaroor om kulturele identiteit te verloor nie, maar om dit te versterk om jou plek in ’n moderne Namibië te kan inneem,” sê Shikongo.
Die waarnemende hoofonderwysbeampte vir Afrikatale by die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (Nied), Servarius Ndjunga, het ’n beroep op San-kinders gedoen om onderwys te omarm.
Vir dit om te gebeur, sê hy egter dat onderwys ook die San-kinders moet omarm.
Volgens Ndjunga moet die San ook hul tale bewaar, aangesien taal die “kloppende hart van identiteit is”.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie