Pro-Ed-ouers stem nee vir Afrikaans
Ouers by Pro-Ed Akademie op Swakopmund het gestem om die skool se Internasionale Sekondêre Sertifikaat (ISC)-kurrikulum van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) met die Namibië Senior Sekondêre Sertifikaat (NSSC) te vervang wat Afrikaansmediumonderrig tot matriek by die skool sal beëindig.
Een groep ouers betwis dit nou as ongrondwetlik.
Pro-Ed is, volgens die skool se korrespondensie aan ouers, een van ses Namibiese privaat skole wat die ISC aanbied.
Erkenning van die kwalifikasie, wat die Namibië Opleidingsowerheid (NTA) nie erken nie, is voor die howe nadat ’n ministeriële riglyn van 9 Maart vereis het dat skole wat dit aanbied, graad 12-leerlinge by geakkrediteerde eksamineringsliggame moet registreer.
Volgens Pro-Ed se brief van 21 April aan ouers is die ISC in Afrikaans en Engels beskikbaar, terwyl albei alternatiewe wat aan die stemproses voorgelê is, slegs in Engels beskikbaar is.
In die stemmery van 6 Julie het die NSSC 161 van die 338 stemme (47,6%) gekry, teenoor 110 (32,5%) vir die ISC en 67 (19,8%) vir Cambridge International (CIE), volgens die beheerliggaam se aankondiging, wat gesê het die proses het “glad verloop” en alle stemme is “behoorlik geverifieer”.
‘SKOOL SE GRONDWET GESKEND’
Swakopmundse prokureur, Danie Kotzé, wat namens vier ouers optree, het op 10 Julie ’n aanmaningsbrief aan die beheerliggaam gestuur, met die bewering dat die stemproses vir die kurrikulum, ’n raadsverkiesing van 8 April en ’n wysiging van die grondwet wat by dieselfde vergadering aanvaar is, almal die grondwet van die Pro-Ed Akademie-ouervereniging (PEAOV), die ouervereniging wat die skool besit, geskend het.
In skriftelike antwoorde gister aan Erongo het Kotzé gesê die byeenkoms van 6 Julie “was in werklikheid nie ’n behoorlik saamgestelde spesiale algemene vergadering nie; dit was bloot ’n stemprosedure” en dat ’n besluit van dié aard ’n 75%-meerderheid vereis.
“Om die kurrikulum op hierdie wyse te verander, sou beteken dat die skool nie meer onderwys in beide Afrikaans en Engels kan aanbied soos sy grondwet tans vereis nie.
“Dit sou op sigself ’n wysiging van die grondwet vereis voordat enige verandering aan die kurrikulum behoorlik kan plaasvind,” het hy gesê.
Die raad het, deur sy prokureurs Kinghorn Associates Inc., die eise as “wetlike onvolhoubaar” verwerp, maar ’n nuwe spesiale algemene vergadering voorgestel om die betwiste verkiesing, wysiging en kurrikulumuitslag weer voor te lê, sonder om enige bewering toe te gee. Sy standpunt, volgens direkteur Hendriaan Visser, is dat die stemuitslag geld totdat dit deur ’n verdere vergadering herroep of deur ’n hof tersyde gestel word en dat dit wetlik onbeslis is of ’n wysiging enigsins vereis word.
Geen hofstukke is ingedien nie.
“Ons het nog nie ’n aansoek ingedien nie, aangesien ons dit op ’n vriendskaplike wyse wil oplos wat Pro-Ed so min moontlik skade berokken. Maar, indien nodig, sal ons dit indien,” het Kotzé gesê.
Hy het gesê drie lede van die beheerliggaam het sedert die April-verkiesing bedank; die raad het dit teen druktyd nie bevestig nie.
Die aanmaningsbrief het beweer daar was vyf dae se kennisgewing en geen koerantpublikasie vir die vergadering van 6 Julie nie. ’n Kennisgewing het op 22 Junie in Republikein verskyn met die plek, datum en tyd, maar geen agenda nie.
Oor die April-verkiesing beweer die ouers dat ’n genomineerde onderwyseres onder druk geplaas is om te onttrek. Die raad sê sy het vrywillig onttrek, terwyl dit volgehou word “dat dit sowel onbehoorlik as onprakties sou wees vir ’n onderwyser om op die raad te dien”.
Die onderwyseres het geweier om kommentaar te lewer.
In ’n brief aan ouers op 15 Julie het die raad gesê geen kurrikulumverandering is geïmplementeer nie en “die kurrikulumkwessie raak slegs graad 10 tot 12 en gaan in wese oor die sertifikaat waarmee ’n leerling die skool verlaat”.
Albei kante bly in korrespondensie.
Selma Ngola van die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het gesê die ministerie se amptelike reaksie wag nog op die uitvoerende direkteur se handtekening, maar dat die saak nou by die prokureur-generaal is en geen verdere kommentaar gelewer kan word nie.
Die skool se hoofde het navrae na die voorsitter, Stiaan Cloete, verwys, namens wie die raad se prokureurs geantwoord het.
Erongo het in April berig dat ouers begin het om plekke by ander skole te soek, met die skool wat onttrekkings erken het. Die raad self het ouers van graad 10- tot 12-leerlinge gewaarsku teen die verandering van skole midde die proses, met verwysing na vak- en taalverskille tussen die kurrikulums.
Universiteite Suid-Afrika (USAf) het in ’n amptelike brief aan alle registrateurs van openbare universiteite bevestig dat die ISC vir toelating tot graadstudies in Suid-Afrika erken word.
Volgens die USAf-brief gedateer 7 April 2026, word ISC-houers toegelaat, mits die leerling aan die vereistes van die betrokke fakulteit voldoen.
openbare universiteite voortgaan om ISC-houers toe te laat “totdat verdere regulatoriese verduideliking verskaf word”. Die kwalifikasie se status in Namibië wag op die hof se uitslag.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie