Pozi-toepassing help studente met behuising

Bied ’n sentrale, betroubare platform
Die toepassing is 'n oplossing vir studente wat sukkel om verblyf in 'n moeilike eiendomsmark te vind.
Iréne-Mari van der Walt
Ongeveer 90% van studente aan die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) het verlede jaar van buite die Khomasstreek gekom en moes behuising in die hoofstad vind.

Die Namibië Nasionale Studente-organisasie (Nanso) het hul kommer uitgespreek oor studente se veiligheid en welstand te midde van ’n ernstige behuisingstekort. Om dié maatskaplike kwessies te takel, het Valontino James en Warren Isaaks die Pozi-toepassing geskep om studente met verhuurders te verbind.

“Elke jaar migreer duisende Namibiese studente na stede vir hul studies en staar stresvolle, onveilige en duur akkommodasiesoektogte in die gesig.

“Talle maak staat op informele kanale, wat hulle kwesbaar maak vir bedrieglike skemas en onveilige opsies. Eienaars van eiendom sukkel ook met die bestuur van huurders en onbestendige inkomste.

“Pozi los hierdie probleme op deur ’n sentrale, betroubare platform te bied wat studente en eienaars eenvoudig en veilig verbind,” het Isaaks in ’n mediaverklaring gesê.

Die toepassing se eerste prioriteit is vertroue, deursigtigheid en ’n gerieflike gebruikerservaring. Vir eienaars bied Pozi ’n vaartbelynde ervaring om verhurings, betalings en besettingsvlakke te bestuur.

Die toepassing kan gratis afgelaai word. ’n Heffing van 1% word egter gedurende die eerste jaar op alle transaksies gehef en daarna ’n heffing van 2%.

“Pozi is meer as net ’n toepassing, dis ’n oplossing. Dit takel die behuisingskrisis deur bestaande kapasiteit in gemeenskappe te ontsluit en die proses veilig, deursigtig en doeltreffend vir almal te maak.

“Onderrig moet nooit deur behuisingsonsekerheid in gedrang kom nie. Wanneer studente veilige, stabiele verblyf het, kan hulle op hul studies en geestesgesondheid fokus. Pozi bemagtig hulle om presies dit te doen.

“Terselfdertyd kry verhuurders die gereedskap om hul eiendomme in volhoubare inkomstestrome te omskep, wat finansiële stres verminder.

“Dit gaan nie net oor tegnologie nie; dit gaan oor die skep van ’n behuisingsekosisteem wat vir almal werk,” het James gesê.

Hy is ook van mening dat die Pozi-toepassing standaarde in die huurmark vasstel.

“Pozi bring ook deursigtigheid na ’n mark wat lank reeds gefragmenteerd is. Deur lyste te sentraliseer en inligting te standaardiseer, skakel dit die raaiwerk uit en verminder die risiko van bedrog.

“Die eindresultaat is ’n veiliger, slimmer en waardiger ervaring vir alle betrokke partye,” het hy gesê.

Die Pozi-toepassing is op die Apple- en Google-toepassingswinkel beskikbaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer