Die Otjivero Primêre Skool. FOTO ARGIEF
Die Otjivero Primêre Skool. FOTO ARGIEF

Perdebye sluit laerskool se deure

Desmarius Hansen
‘n Laerskool se deure is kort ná die aanvang van die nuwe skooljaar weer gesluit, nadat ten minste 70 leerlinge en onderwysers deur perdebye getakel is wat in neste in klaskamers en bome op die skoolterrein skuil. Die besluit om leerlinge en personeel van die Otjivero Primêre Skool in die Omahekestreek eers weer huis toe te stuur totdat al die perdebyneste verwyder is, volg na ‘n beroep deur die Namibië Nasionale Studente-organisasie (Nanso) en ‘n besoek deur die direktoraat van onderwys.

Volgens Nanso se president Dorthea Nangolo hou die situasie ‘n ernstige veiligheidsrisiko in, omdat die laerskoolleerders moontlik nie die werklike gevaar besef nie en per ongeluk perdebyneste kan versteur.

“Ons is in kennis gestel dat ten minste 70 mense reeds deur die bye gesteek is. Daar was situasies waar onderwysers en leerders huis toe gestuur moes word omdat hulle deur perdebye gesteek is,” het Nanso gesê.

Die organisasie het van die probleem bewus geword nadat daaroor in die media berig is en het besoek by die skool afgelê. Tydens die besoek het Nanso-verteenwoordigers perdebyneste in bome en in klaskamers waargeneem en die situasie as “verskriklik” en “onveilig” beskryf.

“Hierdie is 'n laerskool en jy het leerders wat nie verstaan ​​wat aangaan nie. Hulle hardloop rond, en dit plaas hulle in ernstige gevaar,” het die organisasie gesê.

Omaheke se waarnemende direkteur vir onderwys, Eliakim Kavari, het bevestig dat die infestasie Dinsdag en Woensdag verlede week vir die eerste keer aangemeld is. 'n Inspekteur het die skool besoek en die situasie as ‘n ernstige krisis beskryf. Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is gevolglik geraadpleeg wat op hul beurt gesê het dit beskik nie oor die nodige toerusting om die infestasie te hanteer nie, omdat dit meer as 40 bome op die skoolterrein betrek. ‘n Private kontrakteur is toe aangestel wat ingestem het om binne twee dae die situasie te beredder. Volgens die direktoraat van onderwys het die kontrakteur egter nie sy belofte nagekom nie.

"Tot ons verbasing het ons ná die naweek weer opgevolg en gesien niks is gedoen nie,” het Kavari by navraag gesê. Die kontrakteur het laas Maandag na die skool terug gekeer en weer beloof om binne twee dae van die infestasie ontslae te raak. Volgens Kavari is besluit om nie dadelik die skool te sluit nie, omdat voorkomende maatreëls in plek was om leerders en persoon te beskerm. Dit het ingesluit dat leerders in ‘n enkele ry beweeg om gebiede te vermy waar infestasies was. Nanso het egter daarop aangedring dat die skool gesluit bly, totdat die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme dit as veilig verklaar het en alle neste verwyder is. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer