Sommige ouers hou hul kinders uit die skool weens die swaar reënval in die noordelike streke van die land. FOTO ARGIEF
Sommige ouers hou hul kinders uit die skool weens die swaar reënval in die noordelike streke van die land. FOTO ARGIEF

Ouers moet sorg vir Plan B

'Veiligheid van kinders, personeel moet verseker word'
Verskeie ouers in die noordelike dele van die land het die afgelope tyd hul kinders by die huis gehou weens beperkte toegangspaaie weens stormwater.
Kenya Kambowe
Die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur het ’n beroep op ouers en voogde gedoen om te verseker dat hul kinders veilig skool toe en terug beweeg gedurende die reënseisoen, eerder as om hulle tuis te hou as die enigste oplossing.

Sanet Steenkamp het op navraag van Network Media Hub (NMH) gereageer nadat verskeie ouers in die noordelike dele van die land hul kinders en veral dié in laer grade by die huis gehou het weens beperkte toegangspaaie weens stormwater.

Tydens ’n besoek aan die Engoyi Gekombineerde Skool op Oshikoto was tien voorskoolse leerlinge afwesig. Die vermoede was dat hul ouers hulle by die huis gehou het weens die verspoelde paaie wat die lewens van die jong kinders in gevaar kan stel omdat hulle gewoonlik alleen skool toe en terug stap.

Volgens Steenkamp is elke streekraad veronderstel om ’n gebeurlikheidsplan in plek te hê, maar ouers en voogde moet ook verantwoordelikheid aanvaar om te verseker dat hul kinders veilig by die skool kom en geen klasse misloop nie.

Sy het ook onlangs aan alle onderwysdirekteure in die onderskeie streke geskryf en inligting gevra oor die situasie op die grond.

“Wat ons moet verstaan, is dat elke streek ’n gebeurlikheidsplan in plek moet hê,” het sy beklemtoon.

“Die ministerie verskaf ondersteuning en riglyne deur sy hoofkantoor en ons het ook sekere magte aan die streekdirekteur gedelegeer in ooreenstemming met die onderwyswet.

“Die streekdirekteur het onmiddellike toegang tot inligting in hul skole en deur hul inspekteurs en hul skoolhoofde. Hulle sal dan die situasie evalueer en raad gee.

“Sou daar ’n gevaar vir menselewens wees en dit is skadelik of word ’n veiligheidskwessie, sal daar natuurlik kommunikasie aan die ouers wees om hul kinders by die huis te hou of dan die skole te sluit,” het Steenkamp verduidelik.

Dit is volgens haar meer die ministerie se beplanningsafdeling wat in kontak is met ander beplanners.

“Ons moet egter die dinamika verstaan wanneer iets by ’n spesifieke skool gebeur en ’n besluit word dadelik geneem. Dit tree in werking wanneer lewens in gevaar is of daar ’n risiko is.”

Steenkamp was vol lof vir ouers wat verseker dat hul kinders skool toe gaan en sê dit wys onder die omstandighede hul toewyding.

Sy het ook ’n beroep op ouer broers en susters, ouers en voogde gedoen om die leerlinge skool toe te vergesel, sou daar ’n risiko bestaan dat hul lewens in gevaar is.

“As daar ouer broers en susters of voogde of ouers is wat hierdie kinders kan vergesel, sal ons baie dankbaar wees.

“Die oomblik wanneer ’n ouer nie gemaklik voel nie, moet daar met die skool gekommunikeer word en hulle sal moet opmaak vir die onderrigtyd wat hulle verloor het,” het sy gesê.

“Jy moet onthou dat hierdie vloede nie net nou gebeur nie. Skole het dit ervaar, ouers het dit ervaar.

“Ons moet die veiligheid van ons kinders en ons personeel verseker en dan ook opmaak vir enige onderrigtyd wat verlore gegaan het.

“Oor die jare was daar verskeie berigte van kinders wat in vloedvlaktes of in damme water verdrink het wat deur die reën veroorsaak is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer