‘Onderwysposte nie te koop’
Die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, het ’n streng waarskuwing aan diegene gerig wat na bewering onderwysposte verkoop.
Steenkamp sê geen korrupsie sal met die werwing van onderwysers geduld word nie. Sy het gemaan enigiemand wat wins uit openbare intstellings maak, sal die volle mag van die wet in die gesig staar.
Die minister het verlede week tydens ’n vergadering in die Kunenestreek met dié streek se onderwysbestuur, gesê dat dié praktyk die integriteit van die stelsel ondermyn.
Volgens haar word verdienstelike onderwysers sodoende die geleentheid ontsê om ’n pos op grond van meriete te bekom.
Steenkamp het die praktyk om onderwys- en ander openbare poste te verkoop, as korrupsie, omkopery en bedrog beskryf.
“Of dit nou vir onderwysers, skoonmakers, hospitaalmatrones of gerespekteerde skoolhoofde is, ek wil dit nie hoor nie,” het sy gemaan.
“As poste teen betaling verkoop word en jy voordeel uit geld trek wat jy nie verdien het nie, is dit korrupsie, dit is omkopery, dit is bedrog, en dis ’n groot, groot oortreding. Daar is geen verdraagsaamheid daarvoor nie.”
Volgens die minister strek die gevolge hiervan verder as finansiële gewin, aangesien dit gekwalifiseerde en hardwerkende onderwyslui van geleenthede ontneem om loopbane te bou en tot die land se onderwysstelsel by te dra.
“Wanneer jy ’n pos verkoop, ontneem jy ’n opregte en werksoekende onderwyser wat deur harde werk ’n bestaan kan maak, soos die meerderheid van hulle doen.
“Jy ontsê daardie onderwyser die geleentheid op ’n roemryke loopbaan en die geleentheid om ’n impak te maak. En jy verryk jouself,” het sy gesê.
Steenkamp het gewaarsku dat, hoewel ondersoeke na die bewerings van korrupsie dalk nie onmiddellike resultate sal lewer nie, diegene wat daarby betrokke is, nie moet aanneem dat hulle aanspreeklikheid sal vryspring nie.
“Die staatsdienswet is baie duidelik. Terwyl dit ons tyd neem om ondersoek in te stel, sal ons uiteindelik die punt bereik waar ons bewyse sal vind en dan is dit verby,” het sy gewaarsku.
Met verwysing na die bestuur van skole se finansies, het Steenkamp skoolhoofde daaraan herinner dat openbare fondse aan hulle toevertrou is. Rekenskap moet gevolglik van elke toekenning gegee word wat van die ministerie ontvang word.
Volgens haar werk die ministerie daaraan om die grootste deel van die bedryfsfondse gedurende die eerste maande van die jaar na skole oor te dra. Dit is om te verseker dat instellings doeltreffend kan funksioneer.
Steenkamp het egter gemaan dat dié fondse nie vir persoonlike lenings of enige ander doel gebruik mag word nie, buiten vir waarvoor dit geoormerk is.
“As daardie geld aan ’n ander onderwyser geleen is, as ons ’n leningskema met staatsbefondsing begin, is dit ongrondwetlik,” het sy gesê.
Steenkamp het skoolleiers aangespoor om streng by die regering se finansiële en verkrygingsregulasies te hou.
Volgens haar sal skoolhoofde steeds leiding deur die ministerie se administratiewe raamwerk vir bestedingsdrempels, fakture en verkrygingsprosedures ontvang.
Die minister het gewaarsku dat verkrygingsprosesse deursigtig en vry van persoonlike belange moet bly.
Volgens Steenkamp moet familielede en vriende nooit by verkrygingsbesluite by skole baat nie.
“Familielede en nabye vriende kan nie doelbewus voordeel uit verkrygingsprosesse trek nie, veral as geen prosesse gevolg is nie,” het sy gesê.
Vroeër vanjaar het die Vereniging van Werklose Onderwysers van Namibië ’n landswye massabetoging gehou waarin hulle ’n hersiening van die werwingsproses geëis het. Lede beweer in sommige gevalle hang die sukses in onderhoude vir onderwysposte nie van kwalifikasies af nie, maar eerder van nepotisme en omkopery.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie