Die onderwysminister, Sanet Steenkamp, sê 70% van graad 3-leerling kan nie lees of basiese wiskunde doen nie. FOTO OPM
Die onderwysminister, Sanet Steenkamp, sê 70% van graad 3-leerling kan nie lees of basiese wiskunde doen nie. FOTO OPM

Onderwyskrisis

Meerderheid in laer grade kan nie lees, tel
Die meerderheid leerlinge het gesukkel om basiese klanke en letters te verstaan, insluitend probleme om tussen algemene letters soos "b" en "d" te onderskei.
Elizabeth Kheibes
Meer as tweederdes van graad 3-leerlinge in Namibië kan nie ’n eenvoudige sin lees of basiese wiskunde doen nie.

Dié skokkende werklikheid is deur die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, as ’n noodsituasie in basiese letter- en syfervaardighede vir jong leerlinge beskryf.

Sy het in die Nasionale Vergadering gesê die omvang van die land se leerarmoede in vroeë grade het duidelik na vore gekom in die nasionale gestandaardiseerde assessering van 2024. Steenkamp het gemaan dit het verreikende gevolge vir akademiese vooruitgang, insluiting by die ekonomie en nasionale ontwikkeling.

Volgens die assessering het slegs 32% van leerlinge syfervaardigheid met persentasies hoër as 40% geslaag en slegs 5% het daarin geslaag om meer as 75% te behaal.

Kernvaardighede soos om te tel, die vergelyking van getalle en om plekwaarde te verstaan, bly uiters problematies, met 82% wat nie behoorlik kan tel nie, 62% wat nie getalle kan vergelyk nie en 70% wat nie plekwaarde tot 999 kan begryp nie.

Geletterdheidsuitkomste was ewe somber. Slegs 28% van leerlinge het die leeskomponent met ’n persentasie van hoër as 40% geslaag en slegs 3% het meer as 75% behaal. Die meerderheid leerlinge het gesukkel om basiese klanke en letters te verstaan, insluitend probleme om tussen algemene letters soos “b” en “d” te onderskei.

“Hierdie syfers bevestig ons het inderdaad met ’n noodsituasie in basiese onderrig te doen,” het Steenkamp gesê.

“As ons nie dringend optree nie, loop ons die risiko om ’n generasie groot te maak wat nie ten volle aan die samelewing of die ekonomie kan deelneem nie.”

Om die krisis daadwerklik te takel, het die ministerie verskeie ingrypings uitgebrei. Die Jolly Phonics- en Jolly Grammar-geletterdheidsprogramme betrek nou meer as 90 000 leerlinge en meer as 7 000 onderwysers in al 14 streke.

Vanjaar is reeds opleiding aan byna 2 700 graad 3-onderwysers en meer as 200 departementshoofde verskaf, met meer as N$2 miljoen wat toegeken is aan onderrigmateriaal en N$1,9 miljoen aan opleiding.

Ter aanvulling van die geletterdheidspogings het die ministerie ’n nuwe padkaart vir syfervaardigheid in samewerking met die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (Nepad) en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) bekend gestel.

Die padkaart fokus op leerplanhervormings, verbeterde onderwyseropleiding, die ontwikkeling van onderrigmateriaal en sterker leierskap op skool- en streekvlak om wiskundeprestasie in vroeë grade te verhoog.

Insluiting bly ’n prioriteit, met verstaanbare leesprogramme wat in 11 plaaslike tale ontwikkel is, en ’n leerprogram gebaseer op fonetika vir dowe kinders wat tans in vennootskap met die Namibiese Nasionale Vereniging van Dowes ontwikkel word.

Ten spyte van vordering wat wel gemaak is, het Steenkamp erken verskeie struikelblokke kortwiek voortgeset die proses, insluitend die hoë koste van onderwyseropleiding, vertragings in materiaalverspreiding en die inkonsekwente implementering van sleutelingrypings.

“Dis nie net ’n onderwyskwessie nie, dis ’n nasionale noodsituasie,” het Steenkamp gesê.

“Ons moet in ons kinders belê om te verseker elke kind kan lees, redeneer en floreer.”

Die veldtog, End Learning Poverty for All in Africa (ELPAF) is amptelik van 29 tot 31 Julie op Outjo van stapel gestuur.

President Nandi-Ndaitwah het Namibië se sterk finansiële verbintenis tot onderwys tydens die voorlegging van die nasionale begroting beklemtoon, met N$24,8 miljard wat aan die onderwysministerie toegeken is. Dis 23,4% van die nasionale begroting en verteenwoordig 8,9% van Namibië se bruto binnelandse produk (BBP).

Dit oorskry beide die 20%-begroting en BBP-teikens van 6% onder die volhoubare ontwikkelingsdoelwit 4 (SDG4).

Meer as N$12 miljard sal jaarliks aan preprimêre en primêre onderwys gaan onder die mediumtermyn-bestedingsraamwerk. Die meeste hiervan sal gaan aan onderwysers wat die ruggraat van basiese onderrig is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer