Om te lees in my eie taal

40 kinderverhale van die African Storybook Projek
Die materiaal is beskikbaar in beide teks- en oudioformaat en is vertaal in tale wat die meeste in Namibië gepraat word.
Aurelia Afrikaner
Die amptelike bekendstelling van Storybooks Namibia, 'n gratis en oop opvoedkundige hulpbron om lees onder leerlinge aan te moedig, is 'n beduidende stap om geletterdheid en die vaslê van taal in die land te verbeter. Die inisiatief wat amptelik in Okahandja van stapel gestuur is, is ontwikkel in vennootskap met die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige onderrig (NIED) en die Namibiese Vereniging van Noorweë (Namas). Dit spog met 40 kinderverhale wat afkomstig is van die African Storybook Projek. Die materiaal is beskikbaar in beide teks- en oudioformaat en is vertaal in tale wat die meeste in Namibië gepraat word.

Volgens Anne Siri, die nuut aangewese besturende direkteur van Namas, is die projek se hoofdoel om onderrig meer toeganklik en inklusief te maak.

"Ons het voorspraak gedoen vir inheemse regte, geslagsgelykheid en maatskaplike geregtigheid, met 'n vaste oortuiging dat elke kind tel, ongeag hul agtergrond, en gelyke toegang verdien tot onderrig en die geleentheid om te presteer," het Siri verduidelik.

The Storybooks Namibia-versameling is aanlyn beskikbaar by storybooksnamibia.net, waar ouers, onderwysers en leerlinge gratis toegang tot die materiaal het om dit af te laai. Die stories is aangepas vir verskillende leesvlakke en wat dit geskik vir junior primêre leerlinge maak.

Jafet Uugwanga, hoofonderwysbeampte in die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, het die inisiatief as 'n beduidende stap vorentoe beskryf om "ons ryk taalerfenis te vier en te bewaar, terwyl dit ons kinders bemagtig om in hul eie tale te groei en te leer".

"Taal is nie net 'n manier van kommunikeer nie, dit is ook 'n draer van kultuur, identiteit en gemeenskap. Deur lesers bekend te stel aan Afrika-tale, verbeter ons nie net die opvoedkundige hulpbronne wat vir ons leerlinge beskikbaar is nie, maar kweek ook 'n gevoel van trots in die wortels van hul taal. Die reeks boeke wat ons bekendgestel het, verteenwoordig oneindige stories, tradisies en kennis wat deur generasies oorgedra is," het Uugwanga gesê.

Namas wat 'n noodsaaklike rol in Namibië se onderwyssektor sedert die 1980's speel, werk nou saam met NIED om innoverende opvoedkundige projekte te ontwikkel. Dié nuwe inisiatief is in lyn met hul langdurige verbintenis om geletterdheid en toegang tot onderrig te verbeter in veral in gemeenskappe wat onderbedien is.

Bykomend tot die digitale hulpbronne gaan die inisiatief ook 46 kinderstories druk wat vergesel sal word van oudio-opnames vertaal in al die tale wat in die Namibiese leerplan ingesluit is. Die hulpbronne sal na verwagting 'n waardevolle hulpmiddel vir opvoeders wees om te help om die ontwikkeling van taal in klaskamers te versterk.

"Ek is opgewonde vir die reis wat voorlê en sien daarna uit om te bou op die merkwaardige nalatenskap van Namas soos ons voortgaan om die lewens van Namibië en haar mense positief te beïnvloed," het Siri gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer