Ohangwena sluit derde skool weens vloed

Meer as 1000 leerlinge moet tuis bly
Die onderwysdirekteur van Ohangwenastreek meen weens die vloed is dit te gevaarlik vir leerlinge om skool toe te gaan.
Enzo Amuele,Kristien Kruger
Enzo Amuele

Die direktoraat van onderwys, kuns en kultuur in die Ohangwenastreek het onderrig by Laerskool Elao in die Oshikango-kiesafdeling opgeskort. Die skool is die tuiste van 669 leerders wat almal huis toe gestuur is.

Dis die derde skool wat in die streek gesluit word nadat die Onghala Gekombineerde Skool en Laerskool Shingunguma verlede week gesluit is weens vloedwater in die gebied. In die streek is dus nou meer as 1 000 leerders wat tuis is.

Die onderwysdirekteur van Ohangwenastreek, Isak Hamatwi, het die sluiting van die skool bevestig en gesê die watervlakke rondom die skool is nog te diep en dis veral vir jonger kinders gevaarlik.

Hamatwi sê die situasie bly dieselfde en hulle is besig om die skole wat gesluit is, te monitor. Hy reken onderwysers behoort met kompenserende lesse vorendag te kom om te vergoed vir hierdie tyd wat leerders nie lesse bywoon nie.

“Leerders is nou by die huis en loop skoolwerk mis. Die tydsbepaling van die komende vakansie sal dalk nie dieselfde bly nie,” het hy gesê.

Hamatwi voeg by daar is nie veel ander opsies vir die skoolowerhede nie, want hulle kan dit nie waag om leerders deur diep water te laat gaan nie, vanweë lewensgevaar.

HOE LANK NOG?

Hoewel Hamatwi reken die vloed sal nie vir ’n lang tyd voortduur nie, is ouers bekommerd oor hul kinders se toekoms indien die vloede wel langer sou duur.

“Dis nie die eerste keer dat ons so ’n vloed ervaar nie en op grond daarvan dink ek nie dit sal vir ’n lang tyd voortduur nie. Sommige dele kan nog staande water hê, maar nie wydverspreid soos nou nie,” het hy gesê.

Rosalia Mwoongela, ’n pensioenaris wat al sewe jaar in een van die tans oorstroomde gebiede bly, sê die vloed het in ’n baie vroeë stadium van die reënseisoen gekom en ontwrigting kan nog langer voortduur.

“Gewoonlik kom die vloed in Mei, en soos jy kan sien, is dit in Januarie hier; ons weet nie vir hoe lank dit kan voortduur nie,” het sy gesê.

Volgens Hamatwi is geen skole se infrastruktuur nog deur reën beskadig nie. Hy het ook bygevoeg sy kantoor het nog geen bystand van belanghebbendes ontvang nie.

Ester Nghidimbwa, raadslid in die Oshikango-kiesafdeling, het ouers versoek om hul kinders by die huis te hou en het leerders gemotiveer om gedissiplineerd te studeer terwyl hulle tuis is.

Kommentaar

Republikein 2023-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer