Ohangwena-skool benodig klaskamers, ablusiegeriewe

Rig pleidooi aan organisasies
Die skool het vyf permanente klaskamers, vyf puttoilette en vier skure vir 305 leerlinge.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula – Onderwysers en leerlinge by die Junior Primêre Skool Nghifikwa-Ndailikana in die Ohangwenastreek het ’n dringende beroep op organisasies gedoen om die skool te help met die aanbou van ’n drieklaskamerblok en bykomende ablusiegeriewe om hulle las en die gebrek aan ruimte te verlig.

Die situasie is so erg dat leerlinge noodgedwonge die meeste van hul pousetyd in ’n ry moet staan om die toilet te gebruik.

In ’n brief gedateer 28 Julie het die skoolhoof, Abed-Nego Nghifekelwa, gesê die skool is in 2016 gestig en akkommodeer 305 leerlinge van preprimêr tot graad sewe. Van hierdie totaal kom 40% van leerlinge uit gemarginaliseerde gemeenskappe, het hy gesê.

Die skool, geleë in ’n afgeleë gebied van die streek ongeveer drie kilometer vanaf die Angola-Namibië-grens, het tans vyf permanente klaskamers en vier skure waar lesse vir graad vyf tot sewe aangebied word, het die skoolhoof gesê.

MOEILIK

“Dit maak omstandighede vir doeltreffende lesse moeilik, veral gedurende die reënseisoen, aangesien klasse opgeskort moet word. Boonop akkommodeer die skool se sanitasiegeriewe nie alle leerlinge nie, gegewe die toenemende getal leerlinge elke jaar,” het Nghifekelwa geskryf en bygevoeg dat die skool net vyf puttoilette het wat 305 leerlinge en agt onderwysers moet gebruik.

“Die sosioëkonomiese status van die gemeenskap binne die skoolopset het dit vir die skool moeilik gemaak om die meeste van sy aktiwiteite te fasiliteer. Die meeste van die ouers is bestaansboere en verdien nie ’n vaste inkomste nie,” het hy gesê.

Die skoolhoof het aangedui dat die skool se lys van benodighede nimmereindigend is, en sluit ’n tuin, ’n preprimêre speelgrond, netheinings, sportgeriewe, ’n rekenaar en ’n fotostaatmasjien in.

“Die skoolbestuur het ernstige behoeftes geprioritiseer. Daarom rig die skool ’n pleidooi aan enige organisasie om te help met ’n drieklaskamerblok en ’n paar bykomende ablusiegeriewe,” het Nghifekelwa geskryf.

IN DIE RY

Die onderwysdirekteur in die Ohangwenastreek, Isak Hamatwi, het bevestig die Nghifikwa-Ndailikana-skool is een van diegene op ’n lys vir die nodige bystand van die direktoraat.

Hy het gesê die regering kan dit nie alleen doen nie, en bygevoeg die streekleierskap sal dit waardeer as barmhartige Samaritane hulle kan help om sommige van die uitdagings wat skole in die streek in die gesig staar, uit die weg te ruim.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer