Nuwe standaarde vir skole, koshuise

Beter welsyn vir leerlinge landswyd
Groter klem word op gehalte-onderwys, leerlingveiligheid, tegnologie, aanspreeklikheid en billike leeromstandighede oraloor die land geplaas.
Elizabeth Kheibes

Namibië het ’n nuwe nasionale raamwerk van stapel gestuur om standaarde in skole en koshuise te versterk, wat bedoel is om te verseker dat alle leerlinge ’n regverdige kans het om te leer en te slaag, ongeag waar hulle woon.

Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het Donderdag die norme- en standaarderaamwerk vir skole vir 2025-’26 en die nasionale minimum standaarde vir die bedryf van koshuise in Namibië amptelik in Windhoek bekendgestel.

Die adjunk- uitvoerende onderwysdirekteur, Edda Bohn, het namens die adjunkminister, Dino Ballotti, gesê die bekendstelling verteenwoordig ’n verbintenis tot gehalte, billikheid, aanspreeklikheid en die waardigheid van elke Namibiese kind. 

“Ons stel ’n verbintenis bekend – ’n verbintenis tot gehalte, ’n verbintenis tot billikheid, ’n verbintenis tot aanspreeklikheid en, die belangrikste, ’n verbintenis tot die waardigheid en toekoms van elke Namibiese kind,” het hy gesê.

Die raamwerk is geanker in die ministerie se beginsel van “Eers die fondament, altyd uitnemendheid”, met Ballotti wat gesê het sterk leerfondamente is noodsaaklik vir verbeterde onderwysuitkomste. 

“Daar kan nie van ’n kind kan verwag word om uit te blink in ’n omgewing wat nie die basiese toestande vir leer bied nie. ’n Onderwyser kan nie konsekwent uitnemendheid lewer sonder die nodige hulpbronne en ondersteuning nie,” het hy gesê. 

“’n Nasie kan nie wêreldklas-uitkomste vereis terwyl dit ongelyke standaarde vir sy kinders aanvaar nie.”


‘ONDERWYS STAAN NIE STIL NIE’

Die raamwerk vervang die nasionale standaarde en prestasie-aanwysers, wat Ballotti gesê het ’n belangrike doel gedien het, maar moes ontwikkel namate onderwys en tegnologie verander. 

“Onderwys staan nie stil nie. Die wêreld rondom ons kinders verander teen ’n buitengewone tempo,” het hy gesê. 

“Tegnologie verander hoe ons werk. Kunsmatige intelligensie verander hoe kennis geproduseer en verkry word. Digitale geletterdheid word al hoe meer onontbeerlik.”

Die nuwe raamwerk sluit tegnologie, geletterdheid in inligting en kommunikasietegnologie en opkomende tegnologieë in in die begrip van gehalte-onderwys.

Ballotti het egter beklemtoon dat tegnologie alleen nie onderwys kan tranformeer nie.

“Tegnologie is ’n hulpmiddel, maar ons grootste hulpbron bly die menslike potensiaal van ons kinders en die mense aan wie dit toevertrou is om dit te ontwikkel,” het hy gesê.


SEWE GEBIEDE

Die raamwerk identifiseer sewe gebiede om skoolgehalte te versterk: Voorsiening van hulpbronne; werklike leerprestasie; onderrig en leer; die skool as ’n sosiale eenheid; bestuur en leierskap; skakels tussen ouers en gemeenskappe en streke- en kringe.

Ballotti het gesê standaarde moet nie tot administratiewe nakoming verlaag word nie.

“Wanneer ons oor standaarde praat, moet ons versigtig wees om die gesprek nie tot kontrolelyste, inspeksies, vorms of nakoming te verlaag nie. Standaarde gaan uiteindelik oor mense.” 

Hy het verder gesê streekverskille behoort nie ongelyke ambisies vir leerlinge te regverdig nie.

“Ons streke het nie altyd gelyke omstandighede nie, maar ons omstandighede mag nooit ’n verskoning vir ongelyke ambisie word nie,” het Ballotti gesê.


KOSHUISE

Die ministerie het ook die nasionale minimum standaarde vir die bedryf van koshuise in bekendgestel, wat geldig is tot 2030. 

“Vir duisende Namibiese kinders is ’n koshuis ’n huis weg van die huis. Daardie frase dra ’n enorme verantwoordelikheid vir hul veiligheid en welsyn,” het hy gesê.

Die standaarde stel verwagtinge wat koshuisinfrastruktuur, welsyn, voeding, gesondheid en veiligheid dek. 

“Wanneer ’n ouer ’n kind na ’n koshuis stuur, vertrou daardie ouer die staat, die instelling en sy amptenare met iets wat nie vervang kan word nie: Die veiligheid en welsyn van hul kind.

“Daardie vertroue mag nooit ligtelik opgeneem word nie. Koshuise moet meer as net verblyf bied, insluitend sorg, veiligheid, voeding en ’n gevoel van behoort,” het Ballotti benadruk. 

Hy het die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) bedank vir befondsing wat gehelp het om die hersieningsproses agter die nuwe raamwerk aan die gang te sit. asook streekverteenwoordigers wat op die hersieningskomitee gedien het.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer