Nuwe lewe vir verlate skool

Drie jaar van verwaarlosing
Die opgeknapte Oluno Sekondêre Skool sal volgende jaar sowat 700 leerlinge kan huisves.
Loise Shiimi

Ná drie jaar van verwaarlosing en die gevaar dat dit gesloop sou word, is die Oluno Sekondêre Skool op Ondangwa op die punt om ’n nuwe, opgeknapte baadjie te kry.

Die skool, wat weens veiligheidsoorwegings gesluit is, ondergaan tans opknappingswerk ter waarde van N$57 miljoen om teen volgende jaar gereed te wees vir ongeveer 700 leerlinge op gevorderde sekondêre vlak (AS-vlak).

Die perseel is aan die einde van Julie 2026 amptelik deur die goewerneur van Oshana, Hofni Iipinge, aan die National Youth Service (NYS) Investment (die kommersiële vleuel van die Nasionale Jeugdiens) oorhandig, wat die begin van die opknappingsprojek aangedui het.

Die eerste fase van die projek, wat die verwydering van oorgroeide plantegroei, dakke, puin en ander ongewenste materiaal behels het, is reeds voltooi.

Die projek vind in drie fases plaas: die eerste fase ter waarde van N$16 miljoen, die tweede fase van N$11 miljoen en die finale fase van N$30 miljoen.

Toe hy verlede jaar sy amp aanvaar het, het Iipinge met die direktoraat van onderwys in verbinding getree om die sloping van die skool te voorkom.

“Waarom sou ons so ’n belangrike fasiliteit prysgee, terwyl ons elke jaar met toenemende getalle leerlinge te kampe het? Elke toelatingstydperk is ’n stryd,” het Ipinge gesê.

Tydens ’n onlangse besoek aan die skool, het Iipinge gesê hy is tevrede met die vordering wat tot dusver gemaak is.

“Toe ek die perseel aanvanklik oorhandig het, was dit heeltemal toegegroei. Nou is dit heeltemal skoongemaak. Die kontrakteurs het reeds die dakke en puin verwyder en fase twee begin Maandag,” het hy gesê.

Ipinge het aan Republikein gesê hy is steeds verbind tot die tydlyn om teen volgende jaar leerlinge op die AS-vlak toe te laat. Die skool sal ook koshuisgeriewe insluit. 

Die heropening sal na verwagting help om die plasingstekort van leerlinge te verlig.

Iipinge het ook planne aangekondig om nuwe personeel te werf, insluitend ’n skoolhoof, gekwalifiseerde onderwysers, asook ondersteunings- en sekuriteitspersoneel.

Die goewerneur het gesê vakatures sal geadverteer word sodra die opknappingswerk voltooi is.


VORDERINGSVERSLAG

Die projekbestuurder op die perseel, Paulina Petrus, het gesê die span werk ywerig om die sperdatum vir voltooiing te haal. 

“Die oorblywende take sal binne die volgende twee maande voltooi wees. Ons sal nie ophou werk totdat die skool ten volle operasioneel is nie,” het sy gesê.

Iipinge het voorgestel dat puin en oorskietmateriaal van die terrein hergebruik word om toegangspaaie te herstel.

“Deur hierdie materiaal te gebruik, kan ons ’n positiewe impak maak in plaas daarvan om dit net bloot weg te gooi,” het hy beklemtoon.

Hy het, deur middel van die onderwysdirektoraat, ’n beroep op raadslede van die kiesafdeling gedoen om die materiaal in te samel. Ipinge het ook die versekering gegee dat die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) vervoerbystand aan kiesafdelings in nood sal verskaf.

“As julle toegangspaaie het wat onderwysers en leerlinge verhinder om skole te bereik, is hierdie materiaal beskikbaar,” het Iipinge gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer