Die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust). Foto argief
Die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust). Foto argief

Nust, Unam wag op finale riglyne oor gratis onderwys

Eliot Ipinge
Terwyl die regering se plan vorm aanneem om gratis tersiêre onderwys in 2026 in te stel, het die land se staatsbeheerde universiteite – die Universiteit van Namibië (Unam) en die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) – begin om interne strukture in plek te stel terwyl hulle op die finale riglyne van die nasionale taakspan wag.

Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het ’n taakspan saamgestel om die implementeringsproses te lei, met ’n gedetailleerde plan wat teen Augustus verwag word.

Beide universiteite neem aktief aan die nasionale konsultasieproses deel terwyl hulle ook uiteensit wat dié verandering vir hul bedrywighede kan beteken.

In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het Nust se woordvoerder, Cindy van Wyk, gesê die instelling is ten volle saam met relevante belanghebbendes by die proses betrokke.

“Nust word behoorlik in die taakspan verteenwoordig en dra aktief tot die konsultasieproses by,” het sy bevestig.

“Ons sal deur die uitkomste en riglyne van hierdie ministeriële inisiatief gelei word. Ons bly daartoe verbind om die ontwikkeling van ’n volhoubare en billike model vir gratis tersiëre onderwys, soos deur die ministerie in die vooruitsig gestel word, te ondersteun,” het Van Wyk bygevoeg.

By Unam is voorbereidings ook aan die gang. Unam se woordvoerder, Simon Namesho, het bevestig ’n interne komitee is saamgestel om gereedheid vir die oorgang te verseker.

“Dit sluit in die beoordeling van gepaardgaande koste en moontlike implikasies vir die universiteit,” het hy gesê.

Hoewel geen veranderinge aan toelatingsbeleide of programaanbiedinge aangebring is nie, maak Unam hom gereed vir ’n moontlike toename in inskrywings – ’n natuurlike gevolg van die verwydering van finansiële struikelblokke vir toelating.

“Ons besef dat verhoogde inskrywings verbeterings aan bestaande geriewe en administratiewe kapasiteit mag noodsaak,” het Namesho opgemerk.

“Ons beplanning sal infrastruktuur en verborge kostes omvattend takel om die voortgesette lewering van gehalte-onderwys te verseker.”

Met die volledige implementeringsraamwerk steeds onder bespreking, bly beide instellings in ’n fase van voorbereiding en konsultasie. Die volgende stappe sal grootliks van die finale aanbevelings van die nasionale taakspan later vanjaar afhang.

Die besonderhede oor hoe dié gratis onderwysinisiatief gefinansier gaan word, is nog nie bekend gemaak nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer