DEBT DISASTER: The Namibia Students Financial Assistance Fund (NSFAF) recovers less than 1% of student debt, sparking concerns over loan collection effectiveness. Photo contributed
DEBT DISASTER: The Namibia Students Financial Assistance Fund (NSFAF) recovers less than 1% of student debt, sparking concerns over loan collection effectiveness. Photo contributed

NSFAF: Net 1% van studenteskuld herwin

Verskeie jare agterstallig
Uit die meer as 120 000 lenings wat deur NSFAF toegestaan is, is daar net 1 400 wat aktief terug betaalword.
Nikanor Nangolo
Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het net minder as 1% en wel N$18,2 miljoen, aan die einde van sy 2024 finansiële jaar van die totale studenteskuld herwin. Dit dui op die fonds se ondoeltreffendheid om uitstaande lenings in te win en wek kommer oor sy vermoë om strategiese doelwitte te behaal.

Volgens die ouditeur-generaal Junias Kandjeke is die meerderheid van die skuldenaars reeds verskeie jare agterstallig en wys rekords ook nie dat die betrokke studente gekontak is soos vereis word om die agterstallige betalings te bespreek asook die rede waarom dit versuim word om betaal te word nie.

“Die fonds het nie handleidings vir goedgekeurde standaard bedryfsprosedures (SOP’s) nie. Dit ten spyte van die feit dat dit die Raamwerk vir Internasionale Openbare Sektor Rekeningkundige Standaarde (IPSAS) vir die finansiële tydperk van 31 Maart 2022 tot 2024 aanvaar het. Ook is daar SOP’s wat steeds in ‘n konsepfase is en wat nog nie deur die fonds goedgekeur en aanvaar is nie,” sê Kandjeke in die verslag van die ouditeur-generaal oor NSFAF se rekeninge vir die finansiële jaar wat op 31 Maart 2024 geëindig het.

“Die SOP’s is oud en in 2017 laas hersien. Sommige van die werknemers waarna verwys word, kon bedank het soos bv. die vorige vorige uitvoerende hoof, hoof finansiële beampte en rekenmeester waarna verwys word. SOP’s wat uitgereik is, beskryf nie duidelik die vloei van die proses vanaf inisiasie tot die fase vir opname nie,” het hy bygevoeg.

Die finansiële state bestaan uit die verklaring van finansiële posisie, ‘n verklaring van finansiële prestasie, ‘n verklaring van veranderinge in ekwiteit, ‘n verklaring van kontantvloei vir die jare wat toe geëindig het, asook 'n opsomming van belangrike rekeningkundige beleide.

Volgens Kandjeke duld die fonds ‘n hoër kredietrisiko as gevolg van sy mandaat om finansiële bystand aan studente uit arm agtergronde te bied.

“Omdat 67% van die skuldenaars versuim het om hul lenings terug te betaal, is daar ‘n beduidende toename in kredietrisiko’s wat daartoe lei dat die fonds ‘n lewenslange verwagte kredietverlies op alle skuldenaars voorsien,” het hy in sy verslag gesê.

Volgens die verslag verteenwoordig lenings wat tussen 2013 en 2017 verval het, 67% van die totale skuld aan NSFAF verteenwoordig. Rente wat gehef is op lenings wat in hierdie tydperk toegestaan is, was die helfte van die primakoers, terwyl rente op lenings wat daarna toegestaan is, in lyn met die fonds se goedgekeurde beleid op minder as 2% gehef is. Rente word net gehef op lenings wat verjaar het en volgens Kandjete is die fonds so blootgestel aan ‘n kredietrisiko van N$10,3 miljard in 2024.

“Die fonds het leningsbalanse en finansiële verbintenisse tot studente geërf van wat steeds studeer en wie se lenings voorheen goedgekeur is deur die ministerie van onderwys toe dit ‘n onafhanklike sekretariaat geword het. Dié lenings en verbintenisse kon nie betroubaar gemeet word nie, omdat daar geen akkurate en volledige rekords van die ministerie ontvang is nie,” het hy gesê.

Die totale leningsboek bestaan uit studente wat hul studies voltooi het, sowel as studente wat steeds studeer.

Kandjete sê uit die meer as 120 000 lenings wat toegestaan is, is daar net 1 400 wat aktief terug betaal word. Hy het verwys na ‘n kabinetsresolusie in 2021 dat NSFAF herintegreer word in die ministerie van hoër onderwys, tegnologie en innovering (MHETI). ‘n Raamwerk en tydlyn vir die integrasie is deur die raad ontwikkel en goedgekeur.

“Wanneer dit herintegreer is, sal NSFAF as ‘n statutêre liggaam nie meer bestaan nie en sy aktiwiteite sal deur ‘n departement in die MHETI uitgevoer word. Die herintegrasie sal na verwagting teen 31 Maart 2025 voltooi wees,” het Kandjeke in sy verslag gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer