Nova Stella se deure sluit

Gebrek aan finansiële ondersteuning
'n Ander heenkome moet laat in die jaar gesoek word vir leerlinge wie se rapporte weens 'n gebrek aan registrasie nie aanvaar word nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Die Nova Stella Educational Institute op Grootfontein het ná ’n geruime tyd van finansiële onsekerheid waartydens salarisse van personeel dikwels nie of minimaal betaal is nie, Vrydag finaal sy deure gesluit.

Die skool is die Alma Mater van Namibië se Olimpiese naelloopheldinne Christine Mboma en Beatrice Masilingi en hul afrigter, Henk Botha, wat ’n trustee en uitvoerende hoof van die instituut is.

Meeste van die handvol personeel wat nog by die instituut betrokke was, sit nou sonder werk. Die skool was nie by die ministerie van onderwys, kuns en kultuur geregistreer nie, met die gevolg dat rapporte nie aanvaar word nie en van die leerlinge noodgedwonge die betrokke skooljare sal moet herhaal, sou ’n ander skool dit nie aanvaar nie.

Ouers moet ook nou dringend ’n ander heenkome vir hul kinders soek in ’n skooljaar wat reeds op die afdraande na Desember is. ’n Opsie is aan ouers gegee om van Moby Max vir graad 0 tot 9 en ’n GED Amerikaanse kursus vir graad 10 tot 12 gebruik te maak.

In ’n brief aan ouers en voogde wat op 22 Augustus uitgestuur is, word verwys na ’n gebrek aan fondse, grootliks weens die afwesigheid van eksterne finansiële hulp en die swak en die inkonsekwente betaling van skoolgelde, wat te min is om die reeds onvoldoende salarisse van personeel te betaal.

Laasgenoemde het daartoe gelei dat 80% van die personeel elders ’n inkomste moes gaan soek, met net vier onderwysers en ’n finansiële bestuurder wat die wa deur die drif moes trek. Van dié personeel sit nou sonder werk.

’n E-pos is ook aan die trustees van die Nova Stella Educational Trust om die toekoms van die instituut dringend te bespreek. Volgens die brief bly dit die regsverantwoordelikheid van die raad van trustees om te besluit oor die pad vorentoe.

Die trustees is mnre. JP Botha, Wayne Liebenberg en Mboma en Masilingi se afrigter, Henk Botha.

Botha het by navraag gesê “dit help nie om ’n boot aan te hou dryf, wat sink nie”.

Volgens hom was dit nooit ’n finansiële besluit om geld uit die instituut te maak nie. Dit is ook as ’n tuisskoolsentrum bedryf wat volgens hom beteken dit was nie nodig om dit te registreer nie.

Die direkteur en inspekteur van onderwys in die Otjozondjupastreek, sê Botha het dít glo bevestig.

Hy het beklemtoon die instituut is begin “om op die wérklike kind” te fokus wat moeilik leer en wie se ouers ook nie finansieel sterk is nie.

“Dit was vir kinders oor die hele spektrum en sonder ’n finansierder kan dit nie gedoen word nie.”

Onderrig by die instituut was van graad 0 tot 9, met leerlinge wat vanaf graad 10 tot 12 ’n beroepsgerigte rigting kan kies. Die instituut wat in ’n huis bedryf is waarvan die huur vrygeskeld is, maar water en ligte steeds betaal moes word, het nie beskik oor die nodige geriewe vir dié praktiese vakke nie en is gevolglik ook nie by die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA) hiervoor geregistreer nie.

Volgens Botha is die teoretiese deel van die beroepsgerigte vakke by die instituut aangebied, terwyl die prakties by byvoorbeeld die Rietfontein Jeugsentrum gedoen is.

Volgens hom het die Covid-19-pandemie ’n baie groot rol gespeel in die stryd om finansiering vir die instituut te bekom en het hy reeds “85%” van die finansiële koste uit sy eie sak gedra.

Personeel wat hier ’n heenkome gevind het, was volgens hom ook nie ’n “groep mense wat uit ’n ander werk bedank het om hier te kom werk nie”.

Botha sê hy wou aanvanklik nie die instituut begin het nie, maar het later besluit om dit wel te doen. Die kwessie was altyd egter om finansiële ondersteuning te kry om die instituut suksesvol te bedryf.

Hy het ontken dat hy beplan om ’n nuwe skool in Windhoek te open, maar sê hy en sy vrou sal waarskynlik na die hoofstad verhuis.

“Ek het geen behoefte om ’n skool oop te maak nie. My passie is sport en afrigting. Ek is vir vyf maande van die jaar nie eens in die land nie.”

Botha sê hy is wel besig met ’n ander projek, maar dat dit niks met ’n skool te doen nie.

In nog ’n omsendbrief aan ouers is dit ook duidelik gemaak Nova Stella is nie geopen “om ’n skool vir die ryk elite te wees nie”.

Dit het daartoe gelei dat leerlinge toegelaat is wat nie al die nodige skoolgelde kon betaal nie, “omdat dit ons maatskaplike verantwoordelikheid is”.

Die gevolg was dat die aantal leerlinge wat wél betaal, nie genoeg is om kostes te dek nie.

“Nova Stella genereer nie naastenby genoeg inkomste van skoolgelde om onderwysers en personeel te betaal nie,” lui die brief.

Die gevolg was dat personeel “net ’n fraksie van hul salarisse” sedert Junie verlede jaar ontvang het.

In die brief word ook erken Nova Stella is nog nie en ten spyte van verskeie pogings, ten volle by die ministerie geregistreer nie en dat die minister, uitvoerende sowel as die streekdirekteur ten volle hiervan bewus is.

Laasgenoemde is glo gekortwiek deur Nova Stella se onvermoë om bewys te kan lewer van voldoende finansiering om die skool te bedryf. Die gevolg is dat Nova Stella as ’n tuisskoolsentrum bedryf is wat die Namibiese leerplan volg.

’n Ouer by die skool het veral kommer uitgespreek oor haar kind se geestestoestand wat nou buiten vakke moet herhaal en wie se kwalifikasies nie erken word nie, gesê word “alles was verniet”, met finale jaar leerlinge wat nou ook nie meer ’n matriekafskeid sal hê nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!