Ndama-Oos se vrywillige onderwysers werkloos
Verskeie vrywillige onderwysers by Primêre Ndama-Oos in Rundu is woedend nadat hulle beweer het dat hulle, ondanks jare se diens, van permanente aanstelling uitgesluit is, met slegs twee uit 14 wat poste gekry het.
Die skool, wat onlangs deur die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kuultuur erken is, het in Desember verlede jaar vakatures geadverteer, met onderhoude wat in Februarie gevoer is.
Die voormalige skoolhoof, Ndara Aser, sê die vrywilligers het ’n sleutelrol gespeel om die skool op te bou en leerlinggetalle van net oor die 100 tot meer as 1 600 te laat groei – ’n syfer wat, volgens hom, in 42 onderwysposte omskep kan word.
“Ek het hierdie skool vir vier jaar gedien. Toe ons begin het, was die leerlinggetalle net oor die 100, maar vandag staan dit op meer as 1 600,” het hy gesê.
Aser het bevraagteken waarom ervare vrywilligers oorgesien is.
“In daardie onderwysposte was net twee tydens die onderhoude suksesvol, terwyl die meerderheid uitgelaat is, insluitend ekself as skoolhoof,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die onderwysers voorheen positiewe evaluasies ontvang het.
“Die ministerie het vir ouers gesê as iemand bevraagteken of ons weet hoe om te onderrig, ons deur evaluasies vir onderrig moet gaan, wat ons gedoen het en die meeste het 80% behaal,” het hy gesê.
Volgens Aser is vrywilligers aangemoedig om aan te hou klas gee, selfs ná ’n besoek in 2025 deur die eerste minister, Elijah Ngurare, en onderwysminister Sanet Steenkamp, net om later afgedank te word.
“Ons is gesê om rustig aan te hou skoolgee, maar later is ons opdrag gegee om die perseel te verlaat aangesien ons dienste nie meer benodig word nie met nuwe onderwysers wat oorneem,” het Aser gesê.
’n Ander geraakte onderwyser, Kambinda Eugene, het gesê hy het vir drie jaar vrywillig sosiale studies aangebied.
“Ek voel regtig sleg. Verbeel jou jy doen drie jaar lank vrywillige werk en dan word vir jou gesê jy kwalifiseer nie om skool te hou nie. Dit is onregverdig,” het hy gesê.
Eugene, wat ’n honneursgraad van die Universiteit van Namibië (Unam) behaal het, het gesê baie van hulle sit nou tuis sonder duidelikheid oor hul toekoms.
“Ons werk al jare, maar nou sit ons net by die huis sonder enige kommunikasie oor of ons oorweeg sal word,” het hy gesê.
PROSES GEVOLG
Die Kavango-Oosstreek se onderwysdirekteur, Christine Shilima, het die werwingsproses verdedig en gesê dit het streng volgens nasionale beleid verloop.
“Ons het hulle niks belowe nie. Die werwingsbeleid moet gevolg word soos deur die onderwysminister aangedui,” het sy gesê.
Shilima het beklemtoon dat die vakatures oop was vir alle gekwalifiseerde kandidate landswyd.
“Daar is geen voorkeur gegee nie. Die poste is vir oop mededinging geadverteer vir enigiemand wat aan die vereistes voldoen,” het sy gesê.
Sy het verduidelik dat kandidate deur sowel skriftelike as mondelinge onderhoude gegaan het, wat die finale keuse bepaal het.
Shilima het ook bevestig dat ’n totaal van 17 poste geadverteer is.
Terwyl sy volhou het dat die behoorlike proses gevolg is, het sy die bekommernisse erken en gesê ’n voorstel is aan die uitvoerende direkteur in die ministerie voorgelê om die kwessie aan te spreek.
“Ek het nie die mag om die werwingsbeleid te oorheers nie – net die uitvoerende direkteur kan,” het sy gesê.
Volgens Shilima sal gepoog word om die geraakte onderwysers by ander skole te plaas.
“As dit goedgekeur word, sal ons hulle by ander skole plaas sonder mededinging of advertensies,” het sy gesê.
Die geraakte onderwysers doen nou ’n beroep op die regering om in te gryp en voer aan dat dié wat gehelp het om die skool op te bou, eerder geprioritiseer behoort te word as om sonder werk gelaat te word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie