NCHE: Net 65% van gegradueerdes het werk
Nuusredaksie – Slegs 65% van Namibië se universiteits- en kollege-gegradueerdes is in diens – ’n afname vergeleke met die 83% van sewe jaar gelede.
Dit is ten spyte van die feit dat instellings vir hoër onderwys meer gegradueerdes lewer en studente se voltooiingskoerse verbeter het.
Dié syfers is Dinsdag tydens ’n inligtingsessie op Otjiwarongo deur Sylvia Demas, Bertha Njembo en Sem Shikongo namens die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys (NCHE) aan die Nasionale Raad se staande komitee oor onderwys, wetenskap, inligting- en kommunikasietegnologie (ICT) en jeugontwikkeling voorgelê.
Hul voorlegging het ’n gemengde prentjie van die land se hoëronderwysstelsel geskets en getoon dat, hoewel akademiese prestasie geleidelik verbeter het, die indiensneming van gegradueerdes steeds daal namate die arbeidsmark sukkel om die toenemende aantalle gegradueerdes te absorbeer.
Volgens die NCHE het die indiensnemingskoers van gegradueerdes gedaal van 83% in 2017 tot 69% in 2019, 67% in 2021 en 65% in 2024.
Dit ondanks voortgesette verbeteringe in studente se prestasies oraloor Namibië se hoëronderwysinstellings.
Die raad het gerapporteer die verhouding van studente wat hul studies binne die minimum voorgeskrewe tydperk voltooi, het van 68% in 2017 tot 70% in 2019, 73% in 2021 en 76% in 2024 toegeneem – ’n aanduiding dat universiteite en kolleges doeltreffender raak om studente tot graduering te lei.
Die NCHE het aan wetgewers gesê gegradueerdes bestee gemiddeld 15 maande om na hul eerste werk te soek, terwyl 33% langer as twee jaar neem om werk te kry.
Die verhouding van gegradueerdes wat hul studietoestande en institusionele ondersteuning as goed of baie goed beoordeel het, het van 53% in 2017 tot 66% in 2024 gestyg, terwyl 78% die verband tussen hul studierigting en hul werkomgewing as goed of baie goed beoordeel het.
Die voorlegging het ook getoon dat Namibië se hoëronderwysinstellings in 2025 altesaam 23 048 gegradueerdes opgelewer het, waarvan 15 666 – of ongeveer 68% – vroue was, vergeleke met 7 382 mans.
Van die totale aantal gegradueerdes het 15 870 – wat 68,9% verteenwoordig – in nie-wetenskaplike studierigtings gekwalifiseer, terwyl 7 178 gegradueerdes, ofte wel 31,1%, kwalifikasies in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM)-rigtings voltooi het.
Onderwys, opleiding en ontwikkeling het die land se grootste studierigting vir graduering gebly, met 7 333 gegradueerdes, gevolg deur besigheids-, handels- en bestuurstudies met 5 656 gegradueerdes en gesondheidswetenskappe en maatskaplike dienste met 4 047.
Binne die STEM-dissiplines het fisiese, wiskundige en rekenaarwetenskappe 1 598 gegradueerdes opgelewer; vervaardiging, ingenieurswese en tegnologie 865; landbou en natuurbewaring 413; en fisiese beplanning en konstruksie 255.
Indiensnemingsuitkomste het beduidend tussen dissiplines gewissel.
INGRYPINGS
Volgens die 2024-opname onder gegradueerdes wat aan die komitee voorgelê is, het gegradueerdes in fisiese beplanning en konstruksie die hoogste indiensnemingskoers van 79% behaal, gevolg deur regte, militêre wetenskap en sekuriteit met 72%, gesondheidswetenskappe met 70% en onderwys, vervaardiging, ingenieurswese en tegnologie, elk met 65%.
Graduandi in besigheidsrigtings het ’n indiensnemingskoers van 64% aangeteken en dié in fisiese, wiskundige en rekenaarwetenskappe 60%.
Dit terwyl landbou en natuurbewaring die swakste resultate getoon het, met slegs 48% van graduandi in diens en 47% wat werkloos is.
Die opname het verder getoon dat die openbare sektor steeds die grootste werkgewer van gegradueerdes is en verantwoordelik is vir 65% van die indiensneming van gegradueerdes.
Die private sektor, insluitend selfindiensneming, verskaf werk aan 31%, terwyl nieregeringsorganisasies slegs 4% uitmaak.
Demas, Njembo en Shikongo het aan die komitee gesê verskeie ingrypings is reeds ingestel om die gehalte en toepaslikheid van hoëronderwysprogramme te verbeter.
Dit sluit in inisiatiewe vir studente-entrepreneurskap, hervormings van kurrikulumraamwerke, sterker samewerkende onderwysprogramme, groter bedryfsdeelname aan gehalteversekering en die formulering van minimum standaarde vir hoëronderwysinstellings.
Ten spyte van hierdie maatreëls het die NCHE gewaarsku dat beduidende strukturele uitdagings steeds hoër onderwys se vermoë om op arbeidsmarkbehoeftes te reageer, ondermyn.
Die raad het swak samewerking tussen die bedryf, die regering en hoëronderwysinstellings as een van die hoofredes vir volgehoue wanverhoudings in vaardighede en swak gekoördineerde opleiding en befondsing geïdentifiseer. Dit het ook erken dat die NCHE self nie genoeg strukturele kapasiteit het om programme voortdurend te monitor en deurlopende terugvoer te verskaf om te verseker dat kwalifikasies relevant bly vir veranderende ekonomiese eise nie.
Die voorlegging het verder die beperkings op befondsing waarmee hoëronderwysinstellings te kampe het, uitgelig, en opgemerk dat beperkte finansiële hulpbronne belegging in moderne infrastruktuur, bedryfsrelevante kurrikulumontwikkeling en die werwing en ontwikkeling van akademiese personeel beperk.
Vinnige tegnologiese vooruitgang is ook as ’n uitdaging geïdentifiseer, wat meer gereelde hersiening van leerplanne vereis as wat instellings dikwels in staat is om te onderneem.
Studenteverwante uitdagings sluit ’n wanverhouding tussen inskrywingsgroei en personeelkapasiteit in, wat lei tot onvoldoende akademiese ondersteuning, beperkte geleenthede vir werkgeïntegreerde leer en onvoldoende ontwikkeling van vaardighede, soos probleemoplossing, besluitneming en spanwerk.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie