N$70 m. vir beroepsopleiding
’n Nuwe belegging van 3,4 miljoen euro (ongeveer N$70 miljoen) in Namibië se tegniese en beroepsonderwys en -opleidingsektor (TVET) staan gereed om vaardigheidsontwikkeling uit te brei, beleidsraamwerke te versterk en toegang vir gemarginaliseerde groepe onder die vierde fase van die ProTVET-program te verbeter.
Die befondsing, wat tydens die operasionele beplanningswerkswinkel van ProTVET IV in Windhoek aangekondig is, vorm deel van voortgesette samewerking tussen die Namibiese regering en Duitsland deur die GIZ.
Namens die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het die TVET-direkteur, Dalia Mwiya, gesê die jongste fase bou voort op meer as ’n dekade se samewerking wat daarop gemik is om jongmense met arbeidsmark-relevante vaardighede toe te rus.
“Hierdie nuwe fase van die ProTVET-program, ondersteun deur ’n belegging van 3,4 miljoen euro, bevestig weer ons gedeelde verbintenis om Namibië se jeug toe te rus met toekomsgerigte, arbeidsmark-relevante en inklusiewe vaardighede,” het sy gesê.
Mwiya het bygevoeg die program sal prioriteit gee aan die belyning van opleiding met ’n veranderende ekonomie, die uitbreiding van gehalte-opleidingsgeleenthede en die verbetering van toegang, veral vir persone met gestremdhede en ander gemarginaliseerde groepe.
“Deur groter deelname van die private sektor, versterkte institusionele kapasiteit en die uitrol van gemoderniseerde opleidingsprogramme deur Werksgeïntegreerde Leer (WIL), doen die regering beslissende stappe om te verseker dat jongmense nie net opgelei word nie, maar ook betekenisvol in die arbeidsmark geïntegreer word,” het Mwiya gesê.
VORIGE FASES
Die ProTVET-programbestuurder, Jerry Beukes, het gesê die inisiatief dateer terug na 2012 en het drie fases voor die huidige uitrol gehad.
“Die eerste TVET-projek wat deur die Duitse regering gefinansier is, het in 2012 begin. Ons het drie fases tot Maart vanjaar gehad,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die Europese Unie (EU) ook medefinansier van dele van die program tussen 2016 was.
Beukes het gesê die program het nou saam met die ministerie en die Namibië Opleidingsowerheid (NTA) as sleutelvennote, met bykomende samewerking van instellings soos die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust).
Hy het benadruk dat meer as 700 opleiers oor die jare heen deur tegniese opgradering en onderrigmetodologieë bemagtig is.
“Ons fokus op omvattende opleidingprogramme vir opleiers. Meer as 700 opleiers is oor die jare heen bemagtig, hetsy vanuit ’n tegniese en opgraderingsperspektief, maar ook met die fokus op pedagogiek, hoe om kennis oor te dra en vaardigheidsevaluering,” het Beukes gesê.
Die program het ook die bekendstelling van nuwe kwalifikasies in sektore wat voorheen nie deur TVET gedek is nie, ondersteun, insluitend sonkragtegnologie, swaar aanlegbedrywighede en landbou.
INRASTRUKTUUR
Aansienlike beleggings is ook in infrastruktuur en stelselontwikkeling gemaak, insluitend die vestiging van opleidingsentrums in die noorde van Namibië en die uitrol van ’n nasionale e-leerplatform.
Beukes het gesê opleidingsentrums in die Kavango-streke en Ohangwena het baat by nuwe werkwinkels, toerusting en gespesialiseerde opleidingsrigtings gevind, terwyl sonkragaanlegte by verskeie beroepsopleidingsentrums geïnstalleer is om energiebehoeftes te ondersteun.
“Ons het baie in terme van fisiese infrastruktuur en toerusting gedoen en volwaardige sonkragaanlegte by daardie sentrums opgerig,” het hy gesê.
Die program het ook ’n sleutelrol in die herinstelling van vakleerlingskap-opleiding en die ontwikkeling van die onlangse nasionale WIL-beleid gespeel.
“Ons het die NTA met die herinstelling van vakleerlingskap-opleiding bygestaan. Dit alles het onlangs op die nuwe nasionale werkgeïntegreerde leerbeleid uitgeloop,” het Beukes gesê.
Volgens Mwiya het die derde fase ook beleids- en institusionele vordering opgelewer, insluitend voorgestelde hervormings aan bestuurstrukture by beroepsopleidingsentrums, die ontwikkeling van standaarde vir opleiers en die uitrol van ’n e-leerstrategie.
FOKUS OP INSLUITING
Albei amptenare het beklemtoon dat insluiting kern in die nuwe fase sal bly, met geteikende pogings om jeug uit gemarginaliseerde gemeenskappe en persone met gestremdhede te ondersteun.
Beukes het gesê die program het reeds studies oor struikelblokke tot toegang gedoen en proefkursusse vir jeug met gestremdhede van stapel gestuur.
“Ons het omvattende werk oor struikelblokke tot toegang gedoen en ons het inderdaad ’n paar proefkursusse vir jeug met gestremdhede aangebied,” het hy gesê.
In die toekoms sal ProTVET IV fokus op die ontwikkeling van hoërvlak-kwalifikasies (NQF-vlakke 4 tot 6), vaardigheidstekorte takel wat gekoppel is aan Namibië se agenda vir groen nywerheide en die bekendstelling van kort kursusse vir die jeug wat nie meer op skool is nie.
“Ons sal begin om kort kursusse te ontwikkel om hierdie vaardigheidstekorte aan te pak, veral op hoër vlakke en ons sal opleiers teiken sodat ons hulle bemagtig,” het Beukes gesê.
Mwiya het bygevoeg dat die ministerie prioriteit aan die hersiening van die TVET-beleid sal gee, asook die implementering van die WIL-beleid landswyd, insluitend bewusmakingsveldtogte oor al 14 streke.
“As ’n regering het ons prioriteitsektore van fokus en ons pogings sal in pas wees in terme van gehalte-opleiding op ’n hoër vlak.”
Sy het ’n beroep op belanghebbendes gedoen om samewerking te versterk en by ooreengekome tydlyne te hou.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie