N$2 miljard vir tersiêre onderwys
Die regering het tot dusver N$2 miljard aan gesubsidieerde tersiêre onderwys deur middel van die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) bestee.
Dié syfer is deur die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, bekend gemaak te midde van toenemende kommer oor vertraagde betalings van toelaes aan studente.
Volgens Steenkamp is die N$2 miljard aangewend vir die befondsing van beide studente wat reeds met hul studies besig is en diegene wat pas ingeskryf het.
Sy het egter verlede week in die parlement gewaarsku dat betalings vir uitgawes buiten klasgeld vir bestaande studente in Oktober 2026 sal stop. Betalings vir nuwe studente sal tot Maart 2027 voortduur.
Steenkamp se opmerkings volg op kommer oor studente wat nie hul toelaes vir uitgawes buiten klasgeld ontvang het nie en glo uitsetting en finansiële nood in die gesig staar.
Volgens die minister het NSFAF vanjaar 56 075 aansoeke ontvang, waarvan 38 419 vir befondsing goedgekeur is.
’n Bykomende 9 325 studente moes weer dokumente indien, 1 845 aansoeke moet nog geverifieer word, terwyl 6 416 weens nienakoming of ’n gebrek aan geloofwaardige stawende dokumente onsuksesvol was.
Volgens Steenkamp is N$1,3 miljard aan bestaande studente betaal, insluitend N$445,2 miljoen vir uitgawes buiten klasgeld.
Sy het gesê betalings is ook aan nuwe studente gemaak, met toelaes vir uitgawes buiten klasgeld wat van April tot Augustus betaal is en na verwagting tot Maart 2027 sal voortduur.
Steenkamp het die druk op die stelsel deels aan die skerp toename in aansoeke toegeskryf en gesê die werkslading het aansienlik toegeneem, terwyl personeelgetalle nie dienooreenkomstig vermeerder het nie.
“Ons het ’n werkslading wat toegeneem het en ons het personeel en menslike hulpbronne wat nie vermeerder het nie,” het sy gesê.
Volgens Steenkamp was net die hulp van internstudente beskikbaar om met die verhoogde werkslas te help.
Haar verduideliking volg op vrae in die parlement oor waarom studente steeds vertragings in die uitbetaling van fondse ervaar, ten spyte van die regering se finansiële inspuiting van N$247 miljoen in NSFAF om die agterstand uit te wis.
Steenkamp het gesê die proses van verifikasie en die toekenning van befondsing duur voort, deels omdat nuwe aansoeke steeds ontvang word.
Die ministerie het ’n derde aansoektydperk van 7 September tot 7 Oktober 2026 vir studente wat by universiteite ingeskryf is, maar nie voorheen vir NSFAS-befondsing aansoek gedoen het nie.
VERTRAGINGS
Steenkamp het drie maande gelede gesê vertragings met die uitbetaling van toelaes is veroorsaak deur universiteite wat eers in April fakture ingedien het, omdat hulle tot einde Maart met die registrasieproses besig was.
Dit het die regering gedwing om eers maande ná die begin van die akademiese jaar met die verwerking van betalings vir uitgawes buiten klasgeld te begin.
Steenkamp het gesê, hoewel die regering aan die begin van die akademiese jaar suksesvol vir registrasie- en klasgeld betaal het, was betalings vir ander uitgawes van fakture afhanklik.
Die minister het toe gesê N$156 miljoen is aan die begin van die jaar sonder fakture aan instellings voorgeskiet om te verseker dat studente kon registreer en instellings kon voortgaan om te funksioneer.
Sedertdien is ’n bykomende N$122 miljoen vir klasgeld- en registrasiekoste betaal, N$30 miljoen vir ondersteuning (buiten klasgeld) aan ongeveer 6 436 studente wat met hul studies voortgaan, en N$3 miljoen vir uitstaande verpligtinge van die vorige akademiese jaar.
Die regering het ook N$247 miljoen in die stelsel gestort om betalings aan studente te bespoedig.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie