N$15 m. goedgekeur vir plaasprojek

Sonja Smith

Die regering het, deur die Namibië Opleidingsowerheid (NTA), ’n finansiële hupstoot van N$15 miljoen goedgekeur vir ’n voorgestelde verkryging van ’n plaas, wat met die Okakarara-beroepsopleidingsentrum (OVTC) verband hou.

Dit het ten doel om landbou-opleidingsgeleenthede vir beroepstudente uit te brei. 

Die toekenning vorm deel van die NTA se oordragbegroting van sleutelprioriteite vir 2025-’26 en is deur middel van tussentydse bestuursreëlings goedgekeur ná die verstryking van die NTA-raad se termyn vroeër vanjaar.

Die ontwikkeling volg op jare se besprekings oor planne om ’n landbou-opleidingsplaas vir OVTC te vestig. Die projek is daarop gemik om praktiese opleiding aan studente te bied, terwyl die bekendstelling en uitbreiding van landbouverwante beroepsprogramme ook ondersteun word.

NTA se woordvoerder, Mornay Louw, het in reaksie op vrae van Republikein bevestig die begroting maak voorsiening vir ’n potensiële plaasverkrygingsprojek wat met OVTC verband hou.

“Die begroting, insluitend hierdie toekenning, het deel van die NTA se jaarlikse begrotingsproses gevorm. 

“Dit is in die afwesigheid van ’n raad in ooreenstemming met toepaslike tussentydse bestuursvereistes aan ons lynministerie voorgelê. Die ministerie het die begroting hersien en met die goedkeuring daarvan saamgestem,” het Louw gesê.

Hy het egter beklemtoon dat geen verkryging nog plaasgevind het nie.

“Tot op hede is geen plaas geïdentifiseer nie, geen koopooreenkoms is gesluit nie en geen plaas is deur die NTA verkry nie. Gevolglik het geen verkrygingstransaksie plaasgevind nie,” het Louw gesê.


LANGTERMYNPLAN

Volgens die NTA dateer planne om ’n plaas vir OVTC te verkry terug na ten minste 2018. Dit vorm deel van ’n strategiese inisiatief om landbou-opleidingsprogramme by die instelling in te stel. 

“Die insluiting van ’n begrotingsvoorsiening moet nie geïnterpreteer word as ’n besluit om ’n spesifieke eiendom te verkry nie en enige toekomstige verkryging sal steeds onderhewig wees aan onder meer bestuurs- en wetgewende vereistes”, sê die NTA.

Die projek het nietemin aandag getrek te midde van voortgesette debatte oor bestuursreëlings by die owerheid, ná die verstryking van die NTA-raad van direkteure se termyn in Januarie.

“In die afwesigheid van ’n aktiewe raad van direkteure, is die bedrywighede en administratiewe besluite te alle tye binne die goedgekeurde delegering van gesag en onderhewig aan ministeriële bestuurstoesig onderneem,” het Louw gesê.

Die NTA se begroting vir die 2026-’27-boekjaar beloop N$944 miljoen.

Die OVTC wat in 1977 gestig is, bly die land se oudste sentrum onder die vaandel van die NTA. Die instelling word ingevolge die Wet op Beroepsonderwys en -opleiding (VET) van 2008 bedryf, wat voorsiening maak vir die bestuur en beheer van alle staatsbeheerde beroepsopleidingsentrums.

Die uitvoerende direkteur van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Erastus Haitengela, het die goedkeuring bevestig.

“Die NTA se oordragbegroting van sleutelprioriteite vir 2025-’26, wat die voorsiening insluit vir ’n potensiële plaasverkrygingsprojek wat verband hou met die Okakarara-beroepsopleidingsentrum, is by die ministerie ingedien in ooreenstemming met toepaslike tussentydse bestuursvereistes na die verstryking van die NTA-raad se termyn.”

Haitengela het gesê die departement het die begroting hersien en met die goedkeuring daarvan saamgestem.

“Daar moet egter daarop gelet word dat begrotingsvoorsiening nie ’n verkrygingsbesluit daarstel nie,” het hy gesê.

Volgens hom maak die begrotingstoekenning bloot voorsiening vir ’n moontlike projek en kom dit nie neer op ’n besluit om ’n spesifieke plaas te koop nie.

“Enige sodanige verkryging sal onderhewig bly aan toepaslike bestuurs- en omsigtigheidsvereistes wat deur relevante wetgewing, ministeriële toesig en NTA-beleide en -prosedures voorgeskryf word,” het Haitengela verduidelik.

Drie jaar gelede het OVTC se sentrumbestuurder, Moses Tjirare, aan die media gesê ’n versoek is by die NTA ingedien vir goedkeuring om ’n sake-filiaal te registreer wat op streng sakebeginsels apart van die sentrum se bedrywighede bedryf sal word. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer