N$1,2 miljard nodig om skole op te knap

Dekades se verwaarlosing
Sommige van die ouers stuur hul kinders met stoele skool toe.
Desmarius Hansen

Vir meer as drie dekades ontvang leerlinge by die Namhadi yaMwelihanyeka Primêre Skool in die  Ohangwenastreek onderrig onder omstandighede wat as "ongeskik vir menswaardigheid" beskryf word.

Net twee permanente klaskamers is sedert die stig van die skool in 1992 gebou. Die meeste leerlinge by die skool in die Oshushu-nedersetting in die  Okongo-kiesafdeling sit op die grond in tydelike skuilings wat uit stokke, plastiek en sinkplate saamgeflans is. Lessenaars, stoele en behoorlike klaskamers is soveel jaar later steeds net ’n droom.

’n Foto wat die week op sosiale media gedeel is wat wys hoe die leerlinge op die sand probeer skryf, het die lot van die kinders en die skool weer in die kollig geplaas.

'n Graad 1-onderwyseres Betrice Kaulya, het in 'n onderhoud met Network Media Hub (NMH)  bevestig dat die foto die werklikheid by die skool weerspieël waaraan leerlinge onderwerp word.  “Die skool sukkel om die standaard van onderrig na ’n beter vlak te bring en om die lewens van die  generasie van die toekoms te verander,” sê Kaulya. 

“Maar die drome en aspirasies vir die skool kan weens die verskeie uitdagings wat ons ervaar, nie verwesenlik word nie." Die uitdagings sluit volgens Kaulya ’n ernstige tekort aan klaskamers, meubels, hulpbronne vir onderrig, behoorlike omheining en ’n betroubare watervoorsiening in. 

“Sedert die opening van die skool tot vandag het dit net een gebou met twee kamers. Dit huisves net preprimêr en graad 1. Die res van die leerlinge word in tydelike skuilings onderrig,” het Kaulya verduidelik. “Leerlinge word so sedert 1992 onderrig.” 

Ten spyte van herhaalde versoeke aan onderwysowerhede, is die skool nog nooit gehelp nie, het Kaulya gesê. 

Die skoolhoof Eino Kakonda het die toestande by die skool bevestig en gesê dit wat in die foto gewys word, is die reël eerder as die uitsondering.

Volgens die skoolhoof moet die res van die leerlinge wat nie in die gebou gehuis kan word nie, onderrig buite ontvang in strukture wat weinig beskerming teen uiterste weersomstandighede bied.

"Die skool het nie meubels - lessenaars en stoele vir die leerlinge - en ander onderrigmateriaal nie. Alles word toegeskryf aan die gebrek aan fondse," het Kakonda gesê.

Sommige desperate ouers het probeer help deur hul kinders met stoele skool toe te stuur, maar baie kan dit egter nie bekostig nie.

"Sommige ouers gee stoele vir hul kinders, terwyl die wat nie het om te gee nie, hul kinders net so skool toe stuur," het Kakonda verduidelik. 

Oor die jare het die skool verskeie geskrewe versoeke aan die Ohangwena se streeksdirektoraat vir onderwys gestuur wat vir ingryping gepleit het.

"Geen gunstige antwoord is ontvang nie," het Kakonda gesê.

In 'n poging om ondersteuning te werf het die skool selfs so ver gegaan as om dit na prominente figure te vernoem en 'n beroep op potensiële skenkers gedoen.

"Ons soek borgskappe en ondersteuning van individue en die sakegemeenskap, maar die situasie bly dieselfde," het die skoolhoof gesê.

Met geen regeringshulp op die horison nie, maak die skool nou staat op skenkings om te oorleef.

"Ons onmiddellike planne is om voort te gaan om hulp van individue, sakegemeenskappe, nie-regeringsorganisasies, maatskappye en enige Samaritaan te vra wat ons kan help om die omgewing bydraend tot onderrig en leer te kan maak," het Kakonda gesê.

Die skool beplan ook om pogings vir  fondsinsamelings op te skerp, maar personeel is ook dit eens dat hierdie inisiatiewe net soveel kan help. 

GEEN GELD

Ohangwena se streeksdirekteur vir onderwys Isak Hamatwi, het by navraag gesê die swak toestande by die skool is weens beperkte finansiering. “Leerlinge word weens beperkte finansiële hulpbronne in sulke geriewe onderri. Die begroting is beperk en ons kan nie by elke enkele skool permanente klaskamers oprig nie,” het Hamatwi gesê.

Hy het bygevoeg dat verhoogde inskrywings “die beskikbare hulpbronne oorskry het”.  Hy het ook beklemtoon dat Namhadi yaMwelihanyeka Primêre Skool nie ’n geïsoleerde geval is nie.

“Ons het verskeie ander skole met soortgelyke situasies en selfs erger. Ons hou nie daarvan om dit te sien nie. Hierdie situasies word weens onvoldoende hulpbronne op ons afgedwing," het hy gesê.

Volgens Hamatwi het die streek N$1,2 miljard nodig het om klaskamers te bou klaskamerbou om meer as 700 strukture wat met sink en stokke opgerig is en as klaskamers gebruik word, te vervang.

"Dit is net in die Ohangwena-streek,” het hy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer