’n Perfekte 100 vir Anikait

Henriette Lamprecht

Dat hy ’n kop vir syfers het, is so duidelik soos die tafels uitgeskryf op ’n swartbord in ’n wiskundeklas. 

Daarvan getuig Anikait Sahu van St George’s Diocesan School se ongelooflike prestasie om wêreldwyd die hoogste punt in die Cambridge International se Gevorderde Vlak (AS)-wiskunde tydens die eksamens in November te behaal. 

Anikait se syferkop het aan hom die Cambridge-toekenning vir uitnemende leerlinge besorg vir sy perfekte prestasie van 100% in AS-vlak-wiskunde tydens verlede jaar se eksamenreeks. 

Sy prestasie plaas hom onder die toppresterende Cambridge-leerlinge en dien volgens die skool as ’n bewys van sy ywer, dissipline en toewyding aan akademiese uitnemendheid, asook sy onderwysers se ondersteuning en leiding tydens sy Cambridge-akademiese reis. 

Die Cambridge-toekennings vir uitmuntende leerlinge erken die uitsonderlike prestasies van leerlinge wat wêreldwyd uitnemendheid in Cambridge-eksamens toon. 

St George’s se uitvoerende hoof, Berdine Beukes, het Anikait se prestasie as ’n belangrike mylpaal vir hom, die skool en vir Namibië beskryf. 

“St George’s Diocesan School is geweldig trots op Anikait se prestasie en op die onwrikbare toewyding van ons onderwysers, wat ons leerlinge voortdurend uitdaag en motiveer om hul volle potensiaal te bereik. 

“Hierdie toekenning weerspieël die hoë standaarde wat ons by St George’s handhaaf en is ’n prestasie wat die hele skoolgemeenskap met reg kan vier,” het Beukes gesê.

– [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-09-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer