No Image Caption

Ministerie kyk na personeeltekorte

Groep werklose onderwysers oorhandig klagskrif
Die klagskrif verwys onder meer na die finansiële las van herhaalde werksaansoeke en veral die koste verbonde aan drukwerk en die indien van aansoeke.
Henriette Lamprecht
’n Gedetailleerde skriftelike reaksie voor 22 Julie, terwyl stappe reeds begin is om sommige van die kwessies te takel wat in ’n klagskrif deur ’n groep werklose gegradueerde onderwysers geopper is.

Só het die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur gereageer op ’n klagskrif wat Dinsdag aan minister Sanet Steenkamp oorhandig is.

In ’n ministeriële verklaring word verwys na ’n omsendbrief in Mei wat ’n driejaarplan uiteengesit het om oorbevolking in klaskamers te verlig. Die beleid fokus op interne regstellende maatreëls om sistematies oorbevolking in staatskole deur ’n gefaseerde benadering te verlig en sluit ook personeeltekorte in.

“Die ministerie erken die uitdaging van gegradueerdes wat werkloos is, veral onder gekwalifiseerde onderwysers, is ’n ingewikkelde en veelsydige nasionale kwessie,” lui die verklaring.

Die verklaring beklemtoon voorts die gehalte van onderwys in Namibië word nie benadeel nie en dat die ministerie verbind bly tot ’n samewerkende, deursigtige en oplossingsgerigte benadering om beide onmiddellike sowel as langtermyn-verbeterings in die onderwyssektor te verseker.

Volgens die klagskrif was 8 251 onderwysers tussen 2017 en 2023 steeds werkloos met ’n beraamde syfer van meer as 15 000 wat tans landswyd sonder werk sit. Dié syfers is egter nog nie deur die ministerie geverifieer nie.

Die klagskrif verwys onder meer na die finansiële las van herhaalde werksaansoeke en veral die koste verbonde aan drukwerk en die indien van aansoeke. Bewerings word ook gemaak van korrupsie en nepotisme in die werwingsproses van onderwysers.

Die werklose onderwysers dring aan op die afskaffing van onderhoude, die massawerwing van gegradueerde onderwysers, die vestiging van ’n nasionale databasis van alle werklose gegradueerde onderwysers, die instelling van ’n verpligte Jaar van Prestasie-program, die toepassing van standaarde van onderwyser-tot-leerling-koers, sowel as die tydelike opskorting van nuwe opleidingsprogramme vir onderwysers.

Die groep het Dinsdag ’n amptelike reaksie binne drie uur ná die oorhandiging van die klagskrif geëis.

Die ministerie het tot dusver by verskeie geleenthede met die groep se leierskap vergader, insluitend na hul vreedsame protesoptog op 3 Junie en weer tydens amptelike vergaderings op 1 en 4 Julie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer