FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Matriekgroep verpletter oor uitslae

‘Uitputtend, emosioneel uitdagend’
Bekommerde en teleurgestelde ouers het op sosiale media beweer hul kinders se finale uitslae was in sommige gevalle tussen 15% en 20% laer as hul eksamenpunte in die middel van die jaar.
Hoofredaksie Hoofredaksie
Die implementering in 2025 van die Cambridge International-leerplan by Windhoek Gimnasium het te vinnig plaasgevind, met die Internasionale Algemene Sertifikaat vir Sekondêre Onderrig (IGSCE) wat in een jaar en vakke vir gevorderde vlak (AS) wat in ’n verkorte tydperk ingestel is.

Dit is deur ’n leerling by navraag aan Network Media Hub (NMH) as rede gegee waarom die matriekgroep aansienlik swakker in die amptelike uitslae gevaar het in vergelyking met ander jare.

Bekommerde en teleurgestelde ouers het op sosiale media beweer hul kinders se finale uitslae was in sommige gevalle tussen 15% en 20% laer as hul eksamenpunte in die middel van die jaar. Dit het volgens die betrokke ouers daartoe gelei dat hul kinders voorlopige universiteitsaanbiedinge en plasings vir kursusse verloor het, omdat hulle nie die minimum toelatingsvereistes bereik het nie.

’n Plasing deur die skool op sosiale media wat aanvanklik beweer het dat 112 leerlinge, ofte wel 73% van die groep, wel universiteitsvrystelling behaal het, is later gewysig en die verwysing na dié syfer verwyder is.

Volgens ouers het die plasing nie die volle prentjie weerspieël nie en het dit bygedra tot verwarring en frustrasie oor die ware omvang van die matriekgroep van 2025 se prestasie.

Leerlinge van verlede jaar se matriekgroep het die jaar as “uitputtend en emosioneel uitdagend” beskryf.

’n Leerling het ook aan NMH beweer nie alle vakinhoud is volledig behandel nie, terwyl sommige onderwysers se onderrigstyle nie by Cambridge-standaarde aangesluit het nie.

Nog ’n klagte aan die kant van sommige leerlinge was dat akademiese ondersteuning na bewering ongelyk was en dat sport- en ander buitemuurse aktiwiteite glo soms voorkeur bo akademiese voorbereiding sou geniet.

Ouers se kommer en frustrasie was oor wat hulle beweer ’n gebrek aan duidelike kommunikasie oor die verskil tussen matriekvrystelling en die hoër puntevereistes van mededingende kursusse soos regte was. Verskeie ouers het gesê hulle oorweeg dat hul kinders matriek herhaal, maar was onseker oor waar en hoe dié proses sou verloop.

Windhoek Gimnasium se uitvoerende hoof, Colette Rieckert, het by navraag en in ’n amptelike verklaring erken dat Cambridge International ’n veeleisende, ekstern geassesseerde leerplan is en ook dat die 2025-groep AS-vlakke ná ’n korter voorbereidingstydperk geskryf het as toekomstige matriekgroepe.

Rieckert het in reaksie op kritiek aangevoer dat ander skole, waaronder St Paul’s College en St George’s Diocesan School, ook na die Cambridge International-leerplan oorgeskakel het sonder dieselfde mate van openbare aandag.

NMH het in vorige berigte in onder meer September 2020 ook verslag gedoen oor dié skole se verandering in leerplan. Sy het ook die matriekgroep van 2025 met hul volharding gelukgewens en die toppresteerders van 2025 uitgelig.

Verskeie ouers, asook die skool se bestuur, het aangedui dat pogings aangewend sou word om leerlinge te ondersteun deur met dekane van verskeie universiteite in gesprek te tree oor moontlike toelating en kursusplasings. ’n Verteenwoordiger van die Noordwes-Universiteit in Suid-Afrika het egter aan NMH gesê dat dit nutteloos is om sulke gevalle met universiteite se dekane te bespreek. Volgens die verteenwoordiger lê die finale besluit oor matrikulasievrystelling en universiteitstoelating nie by individuele fakulteite of dekane nie, maar by die Universities of South Africa (USAf) Matriculation Board, wat uitsluitlik verantwoordelik vir die toekenning van matriekvrystelling is.

Die skool het ook verskeie beplande verbeterings aangekondig, insluitend meer gestruktureerde Engelse ondersteuning, Cambridge-gemerkte skyn-eksamens, verbeterde studieprogramme en ’n skuif na ’n volle tweejaar-AS-voorbereidingsvenster teen 2028-’29.

Hoewel die mediaverklaring die uitdagings van die oorgang na die nuwe leerplan erken, bly verskeie vrae wat deur NMH aan Rieckert gestel is, egter steeds onbeantwoord. Die vrae het onder meer gefokus op hoe die skool die algehele prestasie van sy eerste matriekgroep onder die Cambridge International-kurrikulum beoordeel en in watter mate die finale uitslae met die skool se verwagtinge aan die begin van die akademiese jaar ooreengestem het.

Navrae is ook gerig oor die beweerde daling van tot 20% tussen die matriekgroep se punte in die middel van die jaar en hul finale punte, wat moontlik tot die skerp daling sou kon gelei het.

Die vraag is ook gestel of die uitkoms dat leerlinge se finale punte moontlik nie meer aan minimum vereistes vir universiteitsvrystelling en kursusplasings sou voldoen het nie, vooraf aan ouers en leerlinge kommunikeer is. NMH wou ook duidelikheid hê oor of die onderskeid tussen matriekvrystelling en die spesifieke punte wat vereis word vir hoogs mededingende kursusse aan ouers en leerlinge verduidelik en leiding in die verband verskaf is.

Vrae is ook gestel oor die gewysigde Facebook-plasing oor slaagsyfers vir die 2025-groep en waarom dit verwyder is en hoeveel leerlinge wel universiteitsvrystelling verwerf het. Omdat dit Windhoek Gimnasium se eerste matriekgroep was wat die nuwe Cambridge International-leerplan sou volg en eksamen sou skryf, wou NMH ook weet watter akademiese en emosionele ondersteuning is tydens die oorgang en in die aanloop tot die finale eksamens deur die skool verskaf. Rieckert is ook gevra watter veranderinge en planne is in plek om toekomstige Cambridge-groepe beter te ondersteun.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer