Lig in die onderwystonnel

Meer as 50% kwalifiseer vir verdere studie
Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur wil ondersoek instel oor waarom deeltydse kandidate so power vaar.
Henriette Lamprecht
Die uitslae van die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCOS) en Gevorderde Vlak (NSSCAS) vir 2024 wys daar brand ’n lig in die Namibiese onderwystonnel met ’n duidelike verbetering teenoor dié van 2023.

Byna 54% van NSSCOS, ofte wel graad 11-leerlinge, wat verlede jaar die nasionale eksamens afgelê het, kan verder vir ’n diploma of graad gaan leer – ’n verbetering van 4,9% teenoor die 48,8% in 2023.

Die aantal graad 11-leerlinge wat gekwalifiseer het vir AS of dan graad 12, het ook van 25,2% tot 29,5% gestyg. AS-kandidate wat in ten minste twee van hul drie vakke ’n simbool behaal het, is ook hoër op 94,3% teenoor die 92,8% van 2023.

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, Anna Nghipondoka, het tydens die vrystelling van die uitslae ook na die “merkwaardige verbetering” op nasionale vlak verwys in wetenskaplike vakke en wat insluit wiskunde, chemie, fisika en landbou-wetenskap.

Die algehele verbetering geld vir voltydse kandidate. In die geval van fisika het 51,7% van kandidate in 2023 ’n D-simbool of hoër behaal, teenoor die 37,1% van 2023.

’n “Uitstekende verbetering” geld vir handelsvakke soos ekonomie en besigheidstudies met laasgenoemde waarin 81,4% van leerlinge ’n simbool behaal het. Entrepreneurskap wen egter met byna 97% van leerlinge wat ’n simbool behaal het.

Vir die drie Europese eerste tale – Afrikaans, Engels en Duits – het 8,5% ’n A-simbool verwerf, teenoor die vorige jaar se 1,9%.

D- en hoër simbole se gemiddeld het die afgelope twee jaar met byna 10% gestyg van 83,5% tot 93%. Die neiging duur voort met verwysing na beroepsgerigte vakke wat ’n duidelike verbetering oor al die simbole getoon het.

Afrika- eerste tale het oor al nege tale ook uitstekend gevaar met ’n gemiddeld van 88,1% wat ’n D- of hoër simbool behaal het. Dit stoot die persentasie van 83,5% op tot 88,1% in 2024.

Vir Afrikaans en Engels Tweede Taal is daar egter ’n afname in topsimbole. Albei vakke het ’n afname in die A- tot D-gemiddeld getoon, met die nasionale gemiddeld wat van 70,2% tot 58,9% verlede jaar geval het.



DEELTYDSE GRAAD 11-KANDIDATE

Die prentjie lyk minder rooskleurig vir die 39 002 deeltydse graad 11-kandidate wat die eksamens afgelê het.

Hoewel vakke soos fisika en wiskunde ’n effense verbetering getoon het, kan dieselfde nie vir Engels Tweede Taal, biologie en chemie gesê word nie.

Nghipondoka het ook erken haar ministerie is bekommerd oor die prestasie van dié kandidate en beplan om saam met die Namibiese Kollege vir Afstandsonderrig (Namcol) omvattende navorsing en ’n ontleding te doen oor onderrig by dié sentrums.

Volgens Nghipondoka hersien deeltydse kandidate dikwels dieselfde leerplan verskeie keer, met die verwagting dat die sentrums gevolglik verbeterde uitslae sou toon.



TOPPRESTEERDERS

Jolisa Garises van die Rukongo Vision School in Kavango-Oos is die toppresteerder vir 2024, met 14 meisies en ses seuns wat onder die top-10-kandidate is.

Haar alma mater Rukongo Vision School is ook die topstaatskool in die land, terwyl die Canisianum Rooms-Katolieke Skool in Omusati Namibië se top- private skool is wat NSSCO aanbied.

Khomas wat die eerste plek as die streek met die beste prestasie in 2023 behaal het, het afgestap tot die 8ste plek, met Oshikoto wat nou die eerste plek beklee.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer