Kunene het meer as 14 000 koshuisleerlinge

Ver afstande na skole
Derduisende leerlinge in dié streek woon deur die week in staats- en gesubsidieerde koshuise, met nóg 32 gemeenskapskoshuise wat oraloor die streek is.
Desmarius Hansen

Meer as 14 000 leerlinge in Kunene slaap elke week weg van hul families bloot om skool te kan bywoon, wat die ver afstande beklemtoon wat sommige kinders vir onderrig moet aflê. 

Die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, het gesê die streek se onderwysstelsel worstel ook met oorvol klasse, wat sy gewaarsku het die ineraksie tussen onderwysers en leerlinge verswak en individuele ondersteuning beperk.

By die amptelike inwyding van drie skole in Outjo Vrydag het Steenkamp ’n prentjie geskets van ’n onderwysstelsel onder druk in een van Namibië se geographies mees uitdagende streke. 

Die minister het gesê 21 staatskoshuise huisves 6 807 leerlinge, terwyl nog 33 gesubsidieerde koshuise 7 204 leerlinge akkommodeer. Dit beteken 14 011 leerlinge wat slegs in staats- en gesubsidieerde koshuise bly, met nog 32 gemeenskapskoshuise wat oraloor die streek funksioneer. 

“Meer as 14 000 van Kunene se kinders slaap elke week weg van hul eie huise sodat hulle ’n klaskamer kan bereik,” het Steenkamp gesê.

Die omvang van die koshuisnetwerk weerspieël volgens die minister die realiteit daarvan om ’n groot streek te bedien waar gemeenskappe wyd verspreid is en afstande na skole enorm kan wees.

“Wanneer ek van die regering se teenwoordigheid in hierdie streek praat, bedoel ek dit nie in ’n abstrakte sin nie,” het sy gesê en gewys op die amptenare, bestuurders en onderwysers wat leerlinge ondersteun wat ver afstande moet reis om toegang tot onderrig te kry.


OORVOL KLASKAMERS

Terwyl toegang ’n groot uitdaging bly, het Steenkamp ook ’n ander probleem erken waarmee Namibië se skole te kampe het: Oorvol klaskamers.

“Oorvol klaskamers beteken nie net te veel leerlinge in ’n klaskamer nie,” het sy gesê.

“Dit verswak die interaksie tussen ’n onderwyser en ’n leerling, dit plaas druk op geriewe, dit maak klaskamerbestuur meer ingewikkeld en dit beperk geleenthede vir die individuele ondersteuning van leerlinge.”

Steenkamp het gewaarsku indien hierdie probleem opgelos bly “dit die uitkomste [sal] beïnvloed”. 

Die ministerie het drie pas voltooide skole op Outjo oorhandig: Outjo Primêre Projekskool, Outjo Sekondêre Projekskool en Okapundja Primêre Skool. Nóg nege skole se infrastruktuur is opgegradeer.

Die projekte, gebou gedurende die 2024-’25- en 2025-’26-boekjare, het ’n gesamentlike koste van meer as N$70 miljoen. Outjo Sekondêre Projekskool, wat in twee fases gebou is, sluit 20 klaskamers, ’n administrasieblok, rekenaar- en wetenskaplaboratorium, biblioteek en ablusiegeriewe in. 

Outjo Primêre Projekskool sluit nuwe preprimêre klaskamers en ablusiegeriewe in, terwyl Okapundja ’n klaskamerblok, ablusiegeriewe, ’n watertenk en skoolomheining ontvang het.

Bykomende infrastruktuur is gelewer by die laerskole van Etoto-Wes en KM Maundu, gekombineerde skole van Musaso, Oukongo, Elias Amxab, Kaoko-Otavi, Ombombo en Otjerunda en die Katutura Projekskool. Die projekte vorm deel van ’n breër nasionale poging om die probleem van oorvol klaskamers te takel.

Volgens die ministerie se kwartaallikse kapitaalprojek se vorderingsverslag vir April tot Junie 2026 is 92 nuwe preprimêre klaskamers gedurende die oorsigtydperk oor 11 streke voltooi, insluitend tien in Kunene. 


PREPRIMêR

Teen die einde van Junie is 46 van 70 beplande preprimêre boupersele voltooi, wat ’n nasionale voltooiingskoers van 66% verteenwoordig.

Kunene was onder slegs sewe van Namibië se 14 streke wat elke preprimêre perseel wat vir die streek beplan is, voltooi het. 

Die ministerie se program vir die verligting van oorvol klaskamers het ook uitgebrei, met 24 nuwe skole wat nou landswyd in aanbou is.

Die eerste deel, wat in November 2025 van stapel gestuur is, het tien skole behels, terwyl die tweede deel, wat in Maart 2026 afgeskop het, nog 14 skole oor tien streke bygevoeg het, insluitend die Kunene. Nóg ’n sekondêre skool word tans op Opuwo gebou.

Vir Steenkamp is die oprigting van geboue egter net die begin. “’n Voltooide klaskamer is ’n begin, nie ’n einde nie,” het sy gesê. 

“Wat binne-in gebeur, die gehalte van die onderrig, die veiligheid van die omgewing, die vertroue tussen hierdie skool en hierdie gemeenskap is wat sal bepaal of vandag se belegging môre se geleentheid word.”

Sy het leerlinge ook aangespoor om die nuwe geriewe te beskerm en ten volle te benut. 

“Jul omstandighede mag vorm waar julle begin, maar dit hoef nie te bepaal waar julle eindig nie,” het sy aan leerlinge gesê.

Die minister het die drie Outjo-skole en die bykomende infrastruktuur by die nege ander skole amptelik ingewy en oop vir gebruik verklaar. 

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer